Welkom by die Klipkouer Prontuit Sessie oftewel, KPS. Die idee agter hierdie video en audio sessies is addisionele praktiese advies wat uit die vorige week se potgooi onderhoud uitgegrawe word in die vorm van ’n bespreking deur my, Jacques Basson en mede‑entrepreneur, Tiaan de Jager. KPS episode 8 kom uit my onderhoud met die Hettie Brittz.

Jacques: Hallo Klipkouer. Welkom by nog ’n Klipkouer Prontuit Sessie waar ek en Tiaan de Jager in die Kaap bietjie dieper delf in my onderhoud met Hettie Brittz.

Hallo, Tiaan.

Tiaan: Hallo Jacques, hoe lyk dit daar? Ek sien dinge is verkeerd wanneer jy ’n kortmou hemp aan het en ek het ’n jas aan.

Jacques: Dit is hoog tyd en heel moontlik net vir vandag! Moenie worry, julle is vêr voor met T-hemde dra daar in die Kaap!

Soos ek gesê het, ons delf bietjie dieper in my onderhoud met Hettie en meeste van ons met kinders weet wie sy is. Hettie is een van die voorlopers in kinderontwikkeling in Suid-Afrika. “Kweek kinders met Karakter” glo ek het baie al gelees en selfs in Engeland het ons die boek al vroeg gelees om ons kinders beter te verstaan en ons gaan ’n bietjie meer daaroor gesels . Dan is daar “Tall Trees Training” waar baie van hierdie persoonlikheid profiele toetse gedoen word van hoe jou brein werk en waarmee jy gebore is. Dit is toetse wat aanlyn beskikbaar is en onlangs geloods het in Amerika.

Dit is so ’n belangrike wegspringplek in skool, universiteit, die werksplek en selfs vir bestuurders maar dit gebeur nie. Dit is nie ’n “mainstream” ding nie.

Tiaan: Ja, soos ons voorheen gesels het, dit is interessant hoe ons geïndoktrineer word vanaf skooldae. Jy word in ’n klas geplaas en almal moet dieselfde optree, reguit in rye sit en ja, of jy daarvan hou of nie, dit is ons definisie van dissipline. As jy kan reguit sit en oplet is jy ’n goeie student maar dit pas dalk nie by jou persoonlikheid nie en so gaan dit deur tot die dag as jy ’n professionele werkspersoon is. Jy pas dalk net nie in daardie omgewing in nie of, jou omgewing aanvaar jou nie soos jy is nie.

Jacques: Ja, dit is ’n goeie voorbeeld en kom ons begin dan by die skool. As ons dink aan die skool sisteem – een ding wat die skole baie meer, histories en selfs in Engeland – hulle is obsessief met IK. Wat vir my ironies is van IK en ek bedoel, vir meeste van die Klipkouers daarbuite, ek glo julle weet dat IK meet net twee goed, dit is wiskundige vermoëns en taal vermoëns maar daar is sewe vlakke van genie. Wat het geword van musikale vermoëns of fisiese vermoëns?

Daar is baie eienskappe maar hulle meet net daai twee goed en ons word in boksies geplaas as gevolg daarvan. Die goeie nuus is dat nou het jy ’n produk en ’n diens wat Hettie hulle lewer waar hulle byvoorbeeld, daardie jong kinders en hoe vroeër hoe beter sou ek sê, waar hulle manier van dink en doen baie akkuraat kan bepaal om daardeur vir die onderwyseres die geleentheid te gee om hulle beter op te voed.

Tiaan: Ja en die probleem is en ons wil nie te lank daarop sit nie, maar ek het vriende wie se kind op Ritalin geplaas was want die kind funksioneer nie soos die onderwysers in die skool dink die kind moet funksioneer nie maar die kind is piekfyn by die huis. Daar is niks fout nie. Hulle het toe die kind uitgehaal uit die groter skool en hom in ’n plaas skooltjie gaan sit buite Montagu en die kind floreer daar want hy is buite. Kinders moet speel en nou presteer hy baie beter want hy is in ’n omgewing wat vir hom baie meer aanvaarbaar is, wat volgens sy persoonlikheid, geskik is.

Jacques: Ja en weereens is dit vir my so duidelik, maar dit is skrikwekkend dat dit nie ’n algehele ding is nie. Ek verstaan nie hoekom dit nie gebeur nie en dit voel vir my dat dit ’n ding is wat, elke skoolhoof daarbuite as hoof van sy organisasie, die gesag het om te implementeer.

Kom ons kyk nou na die feit dat jy skool oorleef het en jy wil gaan swot. Wat is die volgende ding? Wel, ek onthou en Tiaan, jy sal dit geniet want jy is ’n CA, ek het gedink ek wil ’n CA word want dit is ook hoe my pa vir my verduidelik het wat CA’s doen. Ek sal nooit vergeet en was in standard 6. Ons was in Margate op vakansie en ons loop uit ’n restaurant en daar staan ’n ou, ’n Basson en onderaan was “geoktrooieerde rekenmeester” geskryf. So dit was my van en ek vra my pa, “wat is geoktrooieerde rekenmeester?” Hy sê vir my, “Jacques, dit is die manne wat daar by Anglo die besluite neem. Hulle ry Mercedes, maatskappy karre en wat hulle sê, gaan.” En net daar het ek besluit, ek wil ’n CA word!

Ek was nog op pad om ’n CA te word tot die eerste semester van my eerste jaar op universiteit, toe ek my pa bel en sê ons het ’n probleem want ek haat rekeningkunde maar ek hou van bemarking! Dit was vir my pa ’n skok. Wat beteken bemarking?

Tiaan: Maar waar word bemarking op skool geleer? Waar word verkope op skool geleer? Soos jy sê, jy het nog nooit op skool die woord “key accounts manager” gehoor nie. Dit is standaard by elke besigheid maar ons word so in boksies gedruk op skool en as jy nie ’n dokter of ’n CA of in die onderwys gaan studeer nie, weet jy rêrig nie waar jy inpas nie. Dan gaan jy maar vir die aanlegtoetse en dan moet ek sê ek het ook al ’n paar Meyers-Briggs en ander tipe toetse gedoen en jy weet later wat die antwoord is wat jy moet gee net om in daardie groepie in te pas waar jy dink jy moet inval. Dit toets nie rêrig jou persoonlikheid en jou liefde vir iets nie, dit toets nie dit nie. Nee, dit toets IK, jou taal of wiskunde. Dit is net te klein en te nou!

Jacques: Jy is reg en ek is bly jy bring vir Meyers-Briggs op en ek weet dit is ’n geliefde hulpbron van veral die korporatiewe wêreld en dit is baie duur. As enige iemand al die voorreg gehad het of die on-voorreg van  deur “assessment centres” te gaan en letterlik vir twee ure te sit met die ding. Gelukkig, met Hettie se toets soos sy uitgewys het, het hulle agtergekom dat jou brein slaan toe ’n halfuur na ’n uur en jy kan nie meer konsentreer nie en dus rammel jy die goed af en jy begin raai of jy antwoord wat jy dink die regte antwoord is. Hettie hulle maak egter voorsiening daarvoor en dus kan jy nie nonsens skryf nie. Ek het die toets gedoen en dit het my so 15 minute geneem en jy is dus nog lekker vars en jy kan nie raai nie en jy kan nie die antwoord gee wat jy dink nie en dit maak dit baie akkuraat.

Maar nou om terug te kom na daardie aanlegtoetse. Histories, daardie aanlegtoetse sê vir jou wat hulle dink jy moet “word”. Dit is ook ’n fout. Dit is ook ’n “label”. Hier sit ons, môre gaan jy met ’n outjie gesels, Greyling, wat ek verlede week mee gesels het. ’n Baie dinamiese jong entrepreneur, baie “impressive” ou. Hy het aanlegtoetse gedoen en hulle het vir hom gesê “onderwyser of maatskaplike werker”. Nou vra ek jou met trane in my oë, dit beteken die ou het seker ’n baie goeie hart en ja, hoe hy te werk gaan, hy het ’n baie sosiale uitkyk en hy sal heel moontlike ’n kragtige sosiale entrepreneur maak maar dit beteken nie hy is ’n onderwyser of ’n maatskaplike werker nie!

Tiaan: Ja en ek het presies dieselfde oorgekom. Toe ek klaar was met matriek het ek nie ’n idee gehad wat ek wou gaan swot nie en toe gaan ek na die “guidance counsellor” daar op universiteit en ek het ook die toetse gedoen en toe sê die ou vir my, “jy is baie goed kreatief maar ook baie goed met logiese denke en jy is goed met wiskunde en tegniese tekeninge so jy kan of ’n CA of ’n argitek word. Maar ek dink jy moet ’n CA word want daar is meer geld daarin.”

Jacques: Ek hoor jou! Ek hoor jou!

Tiaan: Watse boodskap gee dit ’n mens? Hy het nooit gesê, “jy het ’n passie hiervoor nie.” Nee, dit is waarvoor jy aangelê is en dit is waar jy gaan geld maak. Nooit rêrig my persoonlikheid geanaliseer nie, nooit rêrig die regte vrae gevra wat sê, “wat gaan jou gelukkig maak?”

Soos ons almal weet geld gaan jou nooit gelukkig maak nie, maar jy spandeer agt ure of meer per dag in jou werk waar gaan jou passie tot die beste uiting kom?

Jacques: Absoluut! En ek dink dit is waar daardie geleentheid is, steeds nou. Die goeie nuus met hierdie profiel toetse wat al hoe beter en sterker word, om daai ou te sit voor hy enige vorm van swot gaan aanpak, om te verstaan wat is vir hom interessant, wat is sy sterk punte en ek beklemtoon, interessant. Daar is natuurlik dit wat jou sterk punte is en jy gaan in elk geval neig meer om dit na te streef want dit kom natuurlik. Dit is waar jy goed voel en waar ouens kyk na jou en weet hulle kan op jou staatmaak vir daardie eienskap en dan daaruit besluite te neem van wat gaan jy aanpak. Selfs om te gaan kyk na die industrieë. Nie B.Com. ondernemingsbestuur nie. Nou gaan jy dit doen want jy kyk na besigheid maar watter tipe besigheid? Hoe dink en werk jou kop en dit is alles massiewe moontlikhede wat ongelukkig, duidelik, nie gebeur nie.

Tiaan: Om dit terug te bring na waaroor Klipkouers gaan. Ons is entrepreneurs maar ons vergeet soms ‑ want almal het hierdie besigheids idee en wat jy wil bereik ‑ dat jy met mense werk. Daar is sekere kursusse in M.B.A. wat ook al, die sub-kursusse wat jou leer hoe om met mense te werk maar as jy nie verstaan hoe om met mense te werk en as jy nie verskillende persoonlikhede kan analiseer nie en as jy nie weet hoekom Sannie die dag dalk nie 10/4 is nie en hoekom Jannie dalk deur die dag baie goed presteer, dan gaan jy hulle nooit kan goed bestuur nie, want jy verstaan nie die persoonlikhede nie.

Jacques: So ’n goeie voorbeeld Tiaan en ja, vir jou as die eienaar en die bestuurder, dit kom terug na die onderwyseres wat na ’n klas kyk en na verskillende unieke individue kyk en hulle kan benader daarvolgens. Dit is dieselfde met jou span. Kom ons dink bietjie daaraan. Hettie se “Kweek kinders met Karakter” ‑ ons kom terug na daardie “love language” toe. Ons neig om mense te benader en te bestuur uit wat vir óns gemaklik is en hoe óns gaan… en dit werk nie so nie.

Baie belangrik, is jou span. Jy het gepraat van Jannie en Sannie. Sannie is 10/4 en Jannie floreer maar Sannie en Jannie kan mekaar ook verstaan en jy kan hulle beter bestuur maar altyd, soos ons gesê het, jy is die “coach”. Jy maak die sterkste span bymekaar maar as hulle op die veld is, het jy nie beheer nie en daai span gaan wen of verloor. So dit is “top down” wat hierdie profiele gedoen moet word.

Tiaan: Of dit nou besigheid is en of jy ’n rugby span afrig, jy moet verstaan jy het 15 spelers in die span maar elkeen het ’n ander persoonlikheid en elkeen het sterk en swak punte en jý moet weet hoe om elkeen te hanteer daarvolgens.

Jacques: Ek gaan hierdie opsom, Tiaan. So ’n ruk terug het ek met Dr. Kobus Neethling gesels wat ook met die profiele en so aan, werk en hy het vir my ‑ wat seker een van die kragtigste voorbeelde was ‑ gesê dat elke werk beskrywing het ’n profiel maar niemand werf mense volgens die werk beskrywing se profiel nie. So dink daaraan. Hulle weet nie hoe daai ou se kop werk nie alhoewel hulle weet wat hy moet kan doen. Maar daar is ’n profiel en as jy die profiel van die werk beskrywing verstaan dan kan jy beter werwing doen want dan gaan jy ’n suksesvolle persoon kies volgens profiel. Dit is vir my iets wat só misgekyk word!

Tiaan: Dit is die eerste maal dat ek so daaraan dink. Verbeel jou dat as jy nou by ’n werwingsagentskap, selfs aanlyn, gaan soek vir ’n werk.Elke liewe verkope of bemarkingspos het presies dieselfde beskrywing maar daar is nooit ’n profiel van die tipe persoon wat hulle soek om daardie werk te doen nie.

Jacques: Absoluut! Wat is die maklikste ding om te doen? Toets die ou en daar is die ding. In terme van ’n wegspringplek of om net te gaan kyk, jy moet ’n graad hê. Okay, nou kan jy kom gesels met my, want jy het ’n graad. Nee! Is jy in lyn met wat ons soek in hierdie pos?

Kom ons sluit af, Tiaan. Die fantastiese ding is, as ons terugkom na entrepreneurskap en internasionale geleenthede, Hettie hulle het in 2012 die “Tall Trees Training” aanlyn toetse begin en weggespring maar hulle is nou in hul derde of vierde maand in Amerika waar hulle geloods het en hulle het hul omset in daardie tyd geëwenaar met vyf jaar se omset in Suid-Afrika.

Tiaan: Dit is uitstekend.

Jacques: Dit is en dit sê vir jou, die geleenthede wat daar is en die belangrikheid van die ding. So nommer een, Klipkouers maak seker julle verstaan hoe belangrik dit is om dit in te sluit in jul besighede en vir julself en, nommer twee, weereens, digitale produkte kan jy makliker uitvoer en makliker op internasionale markte inskakel en jy kan daardie US Dollars verdien!

Tiaan: Ja, dit is die een herhalende konsep wat ek en jy nou al die afgelope paar maande gesels. As jy nie aanlyn is nie, is jy nêrens!

Jacques: Absoluut! Tiaan, altyd lekker om met jou te gesels en sterkte met die koue.

Tiaan: Goed gaan Jacques.

NB! Indien jy verlede week se tweede deel van die onderhoud met Hettie Brittz gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier