skip to Main Content

In hierdie episode fokus ek op Riaan van Wyk, eienaar van Demza Bake ‘n Pack, die man wat weet hoe om sy nis teikenmark met 7000+ produkte gelukkig te hou, as mens.

1. Wat is jou gunsteling aanhaling?

“Wat moet sal, en laat dít wat sal, moet.”

2. Watter persoon, dood of lewendig is vir jou ‘n inspirasie?

As ek die Bybel oopmaak, dan leer ek uit elke voorbeeld wat daar is, so die karakters van die Bybel rig my.

Watter een van daardie klomp dink jy  het die grootste foute gemaak?

Dis wat so wonderlik is, want die enigste een wat nie foute gemaak het nie was Christus Homself, want in Hom rekonsilieer Hy alles en Hy het die kapasiteit om al die foute op Hom te neem. Wat ek daaruit leer is al die ander word eintlik maar die mens van die omstandighede, so ons as mens het nie die kapasiteit om regtig te kan staan teen die omstandighede nie, behalwe wanneer ons die wonderwerk van Jesus Christus inneem.

3. Wat is jou sterk punte?

Ek word maar swak op hierdie stadium van my lewe, jong. Paulus skryf mos in die Bybel en sê, “As ek swak is, is ek sterk,” en ek het altyd gewonder hoe dit kan uitwerk, toe ontdek ek dat ek nie ‘n idee het wat ek moet doen nie. As ek dan in die nag wakker word of ek gaan sit en ek gebruik ‘n stil geleentheid en ek sê, “Here, hierdie saak moet ons uitgesorteer kry,” dan kry ek die wonderlikste antwoorde. So, saam met Paulus sal ek sê my sterkste punt is dat ek swak is.

Jy’t vroeër vir my genoem in terme van die stelsels, tegnologie, jy sien ook die groot prentjie, nè?

Ja, volgens my vermoë, is ek nie baie geïnteresseerd in die mikro nie, maar as jy vir my vra wat gister hierdie tyd gebeur het dan weet ek ook nie so mooi nie. Vra my egter wat dink ek volgende week hierdie tyd sal gebeur, het ek baie langer antwoorde. So, ek is uit die aard van die saak meer op die makro ingestel, en ek is meer visioenêr van aard, en dit geniet ek meer.

4. Wat is een gewoonte wat jy wens jy het?

Ek wens ek kon dinge beter verduidelik, ek wens ek kon dinge so stel dat mense dit verstaan. Dit is hoekom ek my nogal kan vereenselwig met die naam van Klipkouers; ek is self ‘n klipkouer, ek is ‘n harde mens, so dit sou beter gewees het as ek ‘n beter empatiese aanvoeling gehad het van hoe dinge vir ander lyk, dit is veral in passievolle mense  ‘n probleem, jou passie… Ouens het al in die verlede vir my gesê, “Your passion scares me.”

5. Wat is jou gunsteling nasie, naas die Afrikaners, en hoekom?

Ek weet nie, ek het op ‘n stadium die hele wêreld vol gereis en met almal te doen gehad, en ek het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat ek die bloed van die Afrikaner in my het, en dus nie in staat sal wees om iemand anders te wees nie. So weereens, ek gaan my tyd verwyl, dis wat ek besluit het, om die beste Afrikaner te wees met Christus in my, en die res moet doen wat hulle moet doen.

Watse nasie staan vir jou uit, as jy onmiddellik in jou gedagtes wat jy nou dink meer ons dam se ganse, of in terme van sekere besigheid, of hoe hulle dinge te werk gaan? Ek dink nou maar weer Lego en die Dene, wat ek dink is nogal ‘n indrukwekkende nasie.

Ja, daar is soveel goeie voorbeelde van uitstekende mense, almal het hulle besonderse gedeelte om te vervul. Ek dink ek moet dit so stel, ons het die Afrikaners, maar dit gaan nie eintlik oor die Afrikaners nie, want hier is ‘n nuwe wonder aan’t gebeur en dit werklikwaar die reënboognasie is nog nie dood nie. Ek het so bietjie gaan kyk na die geskiedenis van Suid-Afrika, gaan kyk nou hoe het dit ontwikkel. Hoe kry jy mag? En toe het ek tot die gevolgtrekking gekom, in Suid-Afrika was dit nog altyd so dat hulle wat ernstig en eerlik gebid het, hulle het die land gekry. Ek dink ons het dit nou weer in die afgelope verkiesing wat nou orals opslae gemaak het gesien dat in die groot stede van Suid-Afrika, hulle mag kry uit ‘n minderheidsposisie. So as jy nou vir my vra wie is die ander wat my beïndruk, dan sal ek vir jou sê die ander Suid-Afrikaners wat elders in die wêreld bid. Hulle wat bid – ek kyk nou na Amerika, Amerika het my altyd beïndruk, maar ek sal nie sê hulle beïndruk my tans nie, ek is baie bly ek hoef nie te stem in Amerika nie, maar tussen dit sien ek ook dat in Amerika is daar mense wat aangespoor word om te bid, ek sê, “Nee, die Here weet wat Hy doen.” So, die Amerikaners wat bid beïndruk my.

6. As jy jou vingers nou klap en jy kan enige plek in die wêreld wees, waar sal dit wees en hoekom?

Baie eenvoudig, Jacques, op hierdie einste stoel waar ek nou sit, want dis al waar ek mag en kan wees. Op ander plekke kan ek nie doen wat ek nou moet doen nie.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected]

NB! Onthou om Vrydag te luister na my onderhoud met Riaan waar ek op sy besigheid fokus.

Back To Top