skip to Main Content

In hierdie episode fokus ek op Andries Brink, stigter van Andile Solutions, waar hulle in banke se unieke tegnologiese behoeftes voorsien van voor tot agter, as mens.

 1. Wat is een van jou belangrikste persoonlike doelwitte vir die jaar?

Om fiks te word. Mens werk te veel en jy verloor balans. Ek is nou in my veertigs en ek hoor mens moet maar na jouself kyk vanaf jou veertigs, jou spiermassa begin afneem en so meer, so ek het begin met ‘n swemprogram. Ek is al baie fikser, maar ek wil nog baie fikser word en ook maar ‘n paar kilo’s afwerk.

 2. Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?

Ek wens ek was super-georganiseerd, maar ek is nie.

 3. Wat is jou gunsteling aanhaling?

Ek is versigtig vir aanhalings, maar omdat ek bietjie van ‘n geskiedenis ou is, is ek mal daaroor om geskiedenis te bestudeer. So ek hou daarvan om aanhalings binne konteks te sien en dan beteken dit altyd vir my meer. Maar ek dink, en dit pas seker in by ons gesprek, vir my kom ‘n baie goeie aanhaling uit Spreuke wat lui: ‘n Goeie naam is meer werd as groot rykdom. Ek dink veral vir wat ons in ons maatskappy en industrie doen is dit nogal regtig die waarheid, dit dek ook sommer ‘n klomp dinge, en dit hou jou in baie opsigte by die regte idee, so ja, vir my is ’n goeie naam meer werd as groot rykdom, goud en silwer.

 4. Watter persoon, dood of lewendig, is vir jou ‘n inspirasie?

Soos ek sê, ek lees baie geskiedenis en ek is mal oor outobiografieë, so daar is baie. Uit ‘n tegnologiese oogpunt gesien sal ek Gordon Moore noem; hy’t al in die sestigs gesê tegnologie gaan elke agtien maande verdubbel, en hy was reg! Dis so ongelooflik, hy was eintlik ‘n profeet! En, uit die aard van die saak, Steve Jobs. Elon Musk: ek het pas sy boek gelees, en ek wonder oor die man.

Maar die politieke leiers soos Churchill en Kofi Annan was ongelooflike mense.

In die kunswêreld is daar Mahler en Beethoven.

En die antieke tye se Alexander die Grote en die hele Rome en alles.

In die Afrikaanse konteks iemand soos Hendrik van der Byl. Hy was ‘n ongelooflike mens, werklik inspirerend.

Maar ek sou sê my grootste inspirasie is Luther, hy het die wêreld verander en dit ‘n beter plek gemaak in soveel verskillende aspekte, so dit moet hy wees. Om onder baie moeilike omstandighede jouself in ‘n kamer toe te sluit en ‘n groot stuk vertaalwerk aan te pak – dit wil gedoen word as jy boonop vir ‘n baie slim organisasie moet wegkruip ook. So Luther, definitief; hulle sê hy het ‘n baie groot ekonomiese impak op die wêreld gehad. Hy het die eerste noemenswaardige toepassing van die printing press gehad, hy het mos ook die 94 tesisse neergeskryf en teen die kerk se deur gaan vasspyker. Ek het dit self gaan lees, en dis vreeslik interessant, daardie protes wat hy aangeteken het, en veral omdat dit nog vandag werklik relevant is.

 5. Jou gunsteling nasie, naas die Afrikaners en hoekom?

Ek sou sê die Switsers, ek hou van hulle. Ek hou van die kanton-stelsel. Dis onafhanklike groeperings wat outonoom kan funksioneer op ‘n vlak. Hulle is onafhanklike denkers, ek hou van die idee dat hulle so ‘n klein land het, maar hulle is tog so sterk in baie opsigte. Hulle is hoogs effektief, hulle oplossings is elegant, jy hoef waarskynlik net na jou horlosie te kyk. Hulle het ‘n baie ryk geskiedenis. Kyk, ek dink vandag se Switser is ook anders as in die verlede… so mens moet maar altyd vergelyk, hulle verander ook maar oor tyd. Maar ek hou van die land, ek hou nog altyd van waarvoor dit staan.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Hulle kan na ons webwerf toe gaan, www.andile.net, of hulle kan my e-pos by [email protected]

NB! Onthou om Vrydag te luister na my onderhoud met Andries waar ek op sy besigheid fokus.

Back To Top