skip to Main Content

Hallo Klipkouers, ek is Portchie, ek bly in Stellenbosch. Ek het in Tweeling, ‘n klein dorpie in die Vrystaat, grootgeword en op Paul Roos gematrikuleer. Ek bly tans reg oorkant Paul Roos op die rivier in Stellenbosch, ek het ‘n lekker gallery in Kerk straat, The Red Teapot Gallery en my lewe is vol kleur en vol interessante mense en ek probeer om elke dag so interessant as moontlik te leef.

Ek is mal oor jou kuns en ek onthou as ‘n dom student in Bloemfontein, die eerste ou se kuns wat ek bewus van geword het met hierdie kleure was Claerhout. So ek wil amper sê hoe kyk jy na daai, dis alles beroemde kunstenaars, sal jy jouself…

Ek dink so, weet jy, Claerhout… Ek is ‘n groot aanhanger van Marc Chagall, ek weet nie of jy weet wie’s dit nie, maar Claerhout het ook iets gehad vir Marc Chagall, hy kon ‘n groot canvas vat en baie interessant met eenvoudige dinge vul en ek kan dit ook doen, ek kan ‘n reuse canvas vat of ek kan ‘n klein dingetjie vat en ek kan dit vul. En op ‘n heeltemal ander skaal, ander wyse, maar Claerhout het ook met eenvoudige goed gewerk en ek werk ook met eenvoudige goed. Ek het op ‘n stadium saam met my vriendin, Alice, in Johannesburg sy brons-beelde versamel en dit was ontsettend mooi gewees en dit was figure uit sy skilderye en ‘n paar jaar na sy dood toe dink ek maar my figure in my skilderye is ook verwoordbaar in brons beelde en toe het ek met my eie reekse begin wat ‘n bietjie fyner is as wat sy beelde was, maar absoluut figure uit my skilderye uit wat ek in bronse begin omsit het en dit het vreeslik gesog geraak. Maar ek het hom goed geken, Claerhout, as hy in die Kaap was het hy altyd by my tuisgegaan, ons het skilderye uitgeruil en ek was vreeslik lief vir die ou oom, hy was vir my ‘n baie interessante mens.

Natuurlik, die Afrika-motief, dit is wat ook uniek is.

Definitief, Afrika-mense, ‘n vrou met hout op die kop. Maar as jy kyk dan gaan daar soveel beelde in, dat daai vrou bly in ‘n klein spasie, klomp kinders, klomp mense in daai klein huisie, sy gaan haal haar hout in die veld, jy dink nou dis vreeslike harde werk, maar op ‘n manier is dit vir haar ‘n ontsnapping uit daai klein ruimte, dis ‘n tyd vir haar om haar denke bymekaar te kry en op ‘n manier gaan haal ons almal ons eie hout. So ek sien goed en ek verwoord dit in stories in kleur. So ek het ‘n pragtige voorbeeld van ‘n hoender vir die Here, ek het altyd ‘n student in ‘n werkerskamp in die Transkei gehelp om sulke klein sendingkerkies daar te bou en op ‘n dag toe kom hierdie jong seun met ‘n hoender aan vir die predikant by die kerkie, jy moet net besef, mense wat dankbaar is daar kom nie met geld aan nie, hulle het nie geld nie, hulle bring iets wat spesiaal is vir hulle en toe dink ek weet jy, as jy tien rand van duisende wat jy het is dit gee, maar as jy een hoender gee uit drie hoenders wat jy het, is dit om met jou hart te gee, en ek dink as jy net drie hoenders het het hulle name, so dis baie spesiaal en dit was vir my ‘n vreeslike mooi, eerbare, eenvoudige manier van gee en ek dink dit het vir my ‘n wegspringplek gegee na ‘n klomp ander beelde toe in my skilderye weer.

Ek het betrokke geraak in Indië by ‘n organisasie genaamd Open Hand, wat met HIV vrouens en weduwees werk en toe’t ek begin kussings en handsakke en allerhande dinge ontwerp wat hulle weer vir my borduur en appliek en sy op materiaal, so dan begin jy mense bietjie in staat stel om iets te verdien van jou ontwerpe en jou idees af en as jy eers dit kan begin regkry dan voel dit vir my jy gee lewe aan na ‘n paar mense toe.

Wat vir my kragtig is van daai voorbeeld van jou, in terme van liefdadigheid, dis maklik om te gee, maar dis ‘n ander ding om ‘n probleem op te los, so dis in die proses wat jy gee los jy ook iets op, jy skep werk.

Absoluut en dit gaan nie net oor werk nie, dit gaan oor menswaardigheid, dit gaan oor soveel meer. Op Stellenbosch, ons het soveel van die straat-kunstenaars wat by ons aankom wat die mooiste diertjies maak uit krale, metaal, hout, enigiets, so hoe jy daai persoon vat en laat menswaardig voel oor wat hy doen, wat hy vir jou bring, iets aankoop al het ek dit nie op daardie stadium nodig nie omdat ek weet hy het geld nodig om terug te reis Kaap toe of dit of dat, so dis veel meer as net oukei, gee vir my, ek gaan geld maak daarmee en ek gaan dit weer verkoop. So jy bou tog op ‘n manier verhoudings op met mense wat vir my eintlik die mooi deel is.

Hier is nou ‘n vraag vir jou, hoe weet jy jy is beter as tien jaar gelede in wat jy doen?

Ek dink jy raak meer waaghaalsig. Hoe langer jy dit doen en hoe groter jou gehoor raak en hoe groter jou versamelaars-netwerk raak besef jy dat mense soek interessante nuwe goed die heeltyd en op ‘n manier moet jy net eenvoudig dan aangaan en nuwe goed maak en dit uitsit, maar die begin-jare is jy baie meer suinig met jou verf, jy’s suinig met jou idee, jy’s bang, sal  iemand daarvan hou of nie, maar as jy bietjie sukses begin behaal dan begin jy verby daai hekkie kom en jy spring oor dit en jy raak ‘n bietjie losser in jouself en ek dink dit is wat jou vryheid gee dan om vinniger te werk en as jy vinniger kan werk dan kom daai energie in die skildery uit. En dis nie iets wat jy kan beskryf of kan verduidelik hoe jy dit doen nie, jy doen dit net, maar dit wys op die ou einde. Ek werk rojaal met verf, ek werk met dik, met impasto, so die skildery vertel amper ‘n storie in sy eie reg met hoe dit lig val op dit, hoe dit verskillende skakerings maak deur die dag, en ja, dit gee dit net ‘n spesiale karakter.

In terme van nuwe kliënte werf, jy’t nou iets interessants aangeraak, jy’t nou gesê soos wat jou kliënte en versamelaars groei skep jy nuwe goed, wat is daai feedback? In enige produk, die mark gee vir jou daai terugvoer wat hulle meer van soek, maar tog, jy’s ‘n kunstenaar, jy wil nie presies gaan doen wat die mark vir jou sê nie.

Nee, glad nie, jy kan dit nie sê nie, maar in terme van nuwe kliënte voel dit vir my is my heel belangrikste bate my databasis, so ek probeer, as ek met iemand gesels oor my kuns, oor my werk en ek kan sien hulle vind aanklank by my en ek vind aanklank by hulle, om hulle details te neem, en dan wanneer ek ‘n uitstalling doen in hulle omgewing of wêreldwyd, sal ek hulle dan laat weet en sê ek gaan daar ‘n tentoonstelling hê, of daar ‘n uitstalling of wat en op so manier  hou jy kontak met daai mense. As ek met jou gesels het is dit veel meer as jy dan ‘n uitnodiging van my ontvang en jy weet waaroor my werk handel, wat gaan aan in my kop en ek dink dis ‘n baie groter kans dat jy dan sal moeite doen om my uitstalling te besoek of my gallery te besoek of so, so ‘n databasis is vir my goud, jy kan nie sonder dit vorentoe gaan nie.

So hoe gebruik jy nou daai databasis, is dit e-pos, word die ouens gebel, hoe werk dit?

Vir my London uitstalling het ek baie gebruik gemaak van e-posse, maar ek het ook fantastiese handgedrukte uitnodigings gehad wat ek persoonlik geadresseer het aan almal wat ek ken hier en in vandag se era wat alles so per e-pos aankom was die handgedrukte uitnodigings tog nogal spesiaal en mense het dit spesiaal ervaar en ek dink dit het ook nogal ‘n verskil gemaak in gaan jy of gaan jy nie, die adres is reg, die look is reg, so jy besef jy word uitgenooi na ‘n spesiale opening van iets spesiaal. Mense wil spesiaal voel, of hulle ryk is of arm is, hulle wil voel iemand sien hulle raak en nooi hulle om iets te kom ervaar.

Is daar ‘n critical mass? As ‘n opkomende kunstenaar, wanneer weet jy jou databasis is reg?

Ek dink uit ‘n databasis van tienduisend kry jy miskien ‘n hit-run van vierhonderd of vyfhonderd.

So dis daai vier of vyf persent, né?

Absoluut, dis kardinaal, en hoe groter jou hit is om mense by ‘n opening te kry, ek dink, hoe groter is jou kans om sukses te behaal by die opening en by die res van die uitstalling, want die mense wat kom, hulle vind dit fantasties, hulle sal ook maar vir drie of vier of vyf ander mense se hulle moet dit gaan sien, dit was regtigwaar spesiaal, so jy kry nog ‘n bietjie naverkope van daai openingsaand af.

So kom ons kyk na die besigheidsmodel van kuns. Jy’t netnou genoem jy’t die kunswerk op die muur, so dis een kanaal, jy’t die reprint, so verduidelik bietjie, wat nog?

Absoluut, ja, wat mense op die net kan sien en hulle kan dit bestel en ons kan dit aanstuur, ons probeer bietjie al hoe meer van die oorspronklikes plaas op die net en op blogs en goed en kyk wat kan ons daarvan af verdien, ek sal byvoorbeeld ‘n mooi skildery klaarmaak en dit post en dan is dit binne die eerste dag verkoop of binne die eerste vyf minute verkoop of tien minute verkoop omdat ek duisende mense op my Facebook en Instagram het, so dit speel ‘n al hoe groter rol, maar dit verg ook energie van jou want jy moet dit plaas, jy moet almal antwoord, hoe groot dit is, wat is die prys, dit, dat, so niks kom vir niks nie, dit verg maar werk. Maar ek dink tog in die proses, die nuwe tegnologie kom al hoe meer vorentoe, ek bedoel toe ek begin werk het was daar nog nie eers internet nie, my eerste uitstalling het ons nog nie kredietkaartmasjiene gehad nie, alles was tjeks en kontant en ‘n sakkie voor binne-in gedruk, so daar het soveel dinge gebeur in die laaste vyf-en-twintig jaar wat die hele speelveld verander het, maar al hoe meer goed sien mense op die internet maar daar is tog iets spesiaals om kunswerke individueel te sien en te voel daaraan en te vat daaraan en so.

So daai uitstalling is nog steeds die hart.

Dis reg ja, en hoe meer die wêreld neig na sosiale media, dink ek, hoe groter raak die behoefte ook om tog uit te gaan en deel te wees van ‘n groep en van ‘n spesiale groep wat uitgenooi word om ‘n openingsaand by te woon.

Maar dis weereens daai gehoor, die like-minded mense.

Absoluut, en hulle skep ‘n absolute atmosfeer binne-in daai ruimte wat jy nie op internet kan wys nie, jy kan nie, so jy hoor hulle lag, jy hoor hulle sing, gesels, so daar is ‘n absolute buzz. Die eienares van die gallery waar ek laas jaar uitgestal het, het na my toe gekom en gesê sy het nog nooit in haar twaalf jaar wat sy die gallery het só ‘n fantastiese crowd mense gehad in die gallery nie, so wel-gekleed, so vrolik, so vol entoesiasme, en mense gesien wat vir vier ure lank in ‘n ry staan om te betaal nie, sy’t dit nog nooit ervaar nie. So dit was ‘n baie mooi kompliment.

Kom ons kom terug, daai reprints fassineer my. Jy’t nou gepraat van London, jy’t gesê jy sit ‘n 35% premie op jou Suid-Afrikaanse pryse vir daar, wat te verstane is want jou uitgawes is baie hoog.

Absoluut, jy moet ‘n container huur om dit te stuur en terug te stuur, jy huur duur spasie daar vir die uitstalling, jou verblyf is duur, so jy het baie meer uitgawes, maar jy moet ook nie mal raak en dink jy kan jou pryse verdubbel daar nie, dis internasionale mark.

Uit watter deel van jou kuns kom jou grootste inkomste?

My grootste inkomste kom uit skilderye uit, en dan die sekondêre inkomste is uit reproduksies uit wat ek dan verder vat en in volgende vlakke uitsit in skinkborde, potstaanders, kalenders, boeke, allerhande sulke goed, dan my ontwerpe, my kussings en handsakke, linne en klere en dan my brons beelde is amper ‘n heeltemal aparte been van my besigheid, en ek maak een beeld in ‘n jaar en dan giet ek dit in ‘n hoeveelheid van dertig beelde en mense versamel dit op ‘n nommer, so daar’s ‘n hele klompie mense wat vol versamelings het met dieselfde nommer, wat baie waardevol is, meer waardevol as ‘n gemengde versameling met nommer drie, nommer twaalf, nommer sewentien, as jy almal nommer vyf uit vyf-en-twintig het is dit meer werd, so daar is ‘n hele klomp mense wat dit versamel en die prys het oor die jare geweldig toegeneem as gevolg van die klein hoeveelheid wat daarvan gemaak word en my groot kliëntetal, so daar’s bie meer mense wat dit graag sal wil hê as wat daar beskikbaar is.

En dis ‘n doelbewuste strategie?

Dit is maar strategie, as jy die eerste keer dit maak moet jy ‘n besluit neem hoe jy dit gaan doen en maar net daarby hou en jy kan nie vooraf bepaal of die mense gaan mal wees oor die beelde of nie, so die eerste keer is dit maar word-of-mouth, ek het ‘n beeld gemaak en só lyk dit en dan koop iemand en mense sien dit by hulle huis en as jy weer kyk is die eerste beeldjie almal uitverkoop, en die tweede keer toe vra ek of hulle die tweede beeld op die selfde nommer wil koop as wat hulle reeds het, ek het ook die voordeel gehad dat ons die Claerhout beelde besit het en daai reeks beelde het ons ‘n paar jaar terug verkoop vir sewe miljoen rand, maar dit was ‘n vol stel maar nie almal die selfde nommer nie, as dit ‘n vol stel was in die selfde nommer was dit nog meer waardevol, en so kon ek vir mense verduidelik hoe dit werk as jy beelde versamel, en nou is daar ‘n klomp mense met regtigwaar mooi versamelings en hulle gaan aan en as hulle dit kan bekostig hou hulle aan om elke jaar nog een by te kry.

Wat sou jy sê is die potensiële inkomste wat jy maak op ‘n reprint?

Kyk byvoorbeeld, ek maak elke jaar ‘n kalender en dan druk ek miskien duisend drukke van dit, so die eerste twee jaar wat ek kalenders gemaak het het ek gedink “Wat het my besiel, gaan ek ooit die geld terugkry?” Maar dan begin die drukke uitverkoop en jy gaan verby die punt waar jy jou koste betaal het en dan die wins van daai drukke wat oorbly begin amper daai volgende run finansier. Nou, later jare het ek bykomende produkte in die mark gesit wat ek dan van hierdie drukke lamineer, met modge podge, potstaanders, skinkborde, bekers, allerhande goed, so dan begin jy al hoe meer verdien op daai aanvanklike koste wat jy uitgelê het om die skildery in top vorm te laat skandeer, en as jy hom eers in daai formaat skandeer het kan jy hom na enige formaat toe vat, jy kan dit in papier druk, jy kan dit op ‘n beker sit, jy kan dit op ‘n bord sit, jou moontlikhede raak legio en jy as kunstenaar hou die reg op daai kopiewerk van dit tot vyftig jaar na jou dood, so dit is ‘n absolute bate wat jy aan iemand kan nalaat, so mens besef nie altyd die mag en die krag van ‘n image wat aan jou behoort wat mense mal is oor nie. ‘n Hele klomp jaar terug het ek ‘n skildery gedoen van ‘n vrou wat met ‘n rooi hoed in ‘n parkie sit en lees, en daar was ‘n program op televisie, Kunskafee, en hulle gebruik die skildery toe om die program mee te begin, so drie jaar in ‘n ry, elke week dan kom daai skildery op en dan breek hulle so deur die skildery en dan begin die program. En tot vandag toe verkoop daai druk net bó alle drukke meer en meer en meer, mense ken dit van iewers af, hulle weet nie waar nie maar daar is iets bekend aan dit vir hulle en dit maak net eenvoudig dat hulle hom sal vat voor die een langs hom. Daar is ‘n skildery wat ek gemaak het van twee “lovers” wat so staan en soen, dis wêreldwyd, jy kan dit sien as die top verkoper van mense wat dit bestel.

Weet jy hoekom?

Nee, jy weet nie, dis maar net iets daarin wat mense trek. Dis soos ‘n Van Gogh Sonneblomme, hoekom is daar nou al ‘n honderd miljoen drukke van dit verkoop? Jy weet nie, dit is nie dat dit so mooi is nie, maar daar is iets wat mense roer daarin. Die hele ding van kuns is mense haal verskillende goed daaruit. So partykeer moet jy net besef dat dit wat jy doen is ook spesiaal, niemand anders kan dit namaak nie, hulle kan dit vat en dit probeer oorverf, maar hulle kan nie jou denkpatroon volg, hoe die lyne loop, hoeveel rooi saam met hoeveel blou gaan hoeveel oranje saam met hoeveel pers gaan nie, daai’s ‘n verskriklike fyn balans, hoe jy kleur kombineer tot iets wat vir die persoon wat dit sien sin maak.

Maar ook, iets wat jy vroeër genoem het, die simboliek.

Absoluut, kinders wat speel, seuns wat hulle eie vlieërs maak, ek kom van ‘n klein dorpie af, jy moes jou eie vermaak skep, niemand het jou vermaak nie, daar was nie televisie nie, daar was niks, so jy moet elke middag iets uitdink wat jy kan doen. Dan maak jy vlieërs met riete en papiersakke en dis vrek moeilik om daai goed in die lug te kry en ek is nie eers handig nie, so ek is gewoonlik die outjie wat half nog sal sukkel om syne in die lug te kry, maar jou twee maatjies langs jou het dit dan net so down-sided in die lug, maar dis ‘n proses, dis ‘n proses tot uiteindelike vreugde is om die ding te maak en dan as dit vlieg is dit geweldig vreugdevol. En dit gaan eintlik met meeste kinderspeletjies ook, met hopscotch, klippiegooi, touspring, jy spring, jy speel vir ‘n uur lank, jy verander die reëls en dan gaan jy weer aan, en om daai eenvoud vas te vang, dit moet in jou kop ontstaan, jy moet daaroor kan dink en dink hoe sit jy só iets só eenvoudig dat dit die persoon wat dit sien terugvat na ‘n vervloeë era toe, na sy kinderdae toe, na iets anders toe, dit  neem hom op ‘n reis.

So kom ons kyk nou in terme van die belangrikste besigheidsles wat jy geleer het, as kunstenaar met entrepreneur ouers, het ek vir jou ‘n tweeledige vraag. Eerstens wat is die belangrikste besigheidsles wat jy tot dusver geleer het? En tweedens, as kunstenaar, dink jy hierdie besigheidsagtergrond het jou gehelp?

Definitief, ek het op die ouderdom van vyf al besef dat as jy ‘n kissie tamaties koop vir tien rand en jy vat drie rand se verpakkingmateriaal, sakkies en rekkies en dit en jy verpak dit in kleiner pakkies, dan het jy potensiaal van twintig rand uit daai kissie tamaties uit, en as jy eers daai konsep besef dan kan jy enigiets verkoop, enigiets wat ‘n mark het, wat iemand nodig het kan jy verkoop as jy verstaan hoe werk daai eenvoudige beginsel van besigheid. So toe ek begin skilder het het ek gedink ek doen iets en aan die begin is dit ontsettend moeilik om ‘n prys te maak, so ons het maar amper gewerk op ‘n ratio van jy vat twee maal, twee en ‘n half maal die raam se prys vir die kunswerk, net om ‘n basis te hê. So aan die begin was my werk ontsettend min, vyftig rand, tagtig rand, honderd en vyftig rand. Ek sal vandag nog mense raakloop wat twintig, vyf en twintig jaar terug iets by my gekoop het met so vet smile, dan sê ek vir hulle “Jy’t seker ‘n skildery gekoop vir tagtig rand of honderd rand?” Dan sal hulle sê “Nee, honderd en vyftig rand”. Dan besef jy net jy moes iewers begin en ek moes dink daaroor, dit help nie om dit te duur te maak aan die begin en dan koop niemand dit en dan koop niemand dit nie, so aan die begin verdien jy ontsettend min op jou talent, op jou kreatiwiteit, maar as dit verkoop dan gaan dit in jou huis, jy’t tien of twintig, dertig vriende, helfte van daai mense is jou tipe mense, hulle hou ook van dit, die helfte van daai mense wil ook graag so iets hê. So begin jy stadig ‘n wiel vorm wat groter en groter gaan, en ek moes myself baie blootstel by kunstefeeste, by skoue, Rand se Skou, Pretoria Skou, Aardklop, Oudtshoornfees, dat jy daar sit en werk en verkoop en mense praat en so, so daai eerste vyftien, twintig jaar het ek baie energie in dit ingesit en so sistematies ‘n landwye mark opgebou vir myself, want by hierdie skoue en feeste kom mense van alle uithoeke van die land en hulle tel op dat jy in die mark is, jy is konstant daar, en toe het televisie gekom natuurlik en dit het dit baie makliker gemaak, elke keer as jy op televisie verskyn in ‘n program sal jy sien jou verkope styg, want die persoon in die platteland kom nie noodwendig in die groot gallerye in die stad nie, maar daar kom ‘n handelaar met ‘n kombi vol so hy ry en hy sien vir Jannie en Sannie op die plaas en Sannie sê “Maar ek het al daai man se skilderye op televisie gesien”, so al is die een langsaan mooier gaan hulle nog steeds die een vat wat hulle ken. En so maak dit ‘n verskil in lang-termyn verkope. Dan het ek probeer om ‘n baie soliede prys-struktuur in die mark te sit, so as my handelaars by my koop kry hulle dit redelik teen die selfde prys en dit maak dat jou mark relatief stabiel bly, so hy styg baie sistematies en hy styg die heel tyd, maar dit bly stabiel, dis nie op en af en ek sien daai vrugte nou begin terugkom in terme van skilderye wat op veilings verhandel en jy sien sistematies hoe klim die prys. So in herverkope is dit lekker as mense besef “Hierdie het ‘n waarde, ek kán dit verkoop”, anders as wat jy iets het wat mooi is maar die nie eintlik iets werd nie, jy kan dit maar netsowel weggee as jy dit nie wil hê nie, maar met myne kan hulle dit na ‘n veilinghuis toe neem en die veilinghuis sal dit verkoop, en ja, dit bring sekondêre waarde in die mark in. Partykeer koop ek self iets terug wat ek lank terug verkoop het, die mense is bereid om dit te verkoop teen ‘n sekere prys wat hulle ‘n wins op maak, ek dink ek kan nog ‘n winsie daarop maak en dan sal ek dit aankoop en weer verkoop. As hulle te veel wil hê, partykeer is mense greedy en hulle wil te veel hê, dan moet hulle dit na die veiling toe neem en dit daar verkoop, so daar begin heeltyd nuwe faktore inkom ook en dit stimuleer die mark. Met my werk sal mense, as hulle dit gallerye toe neem of veiling toe neem, hulle neem dit want dit verkoop ontsettend vinnig, en omdat dit maklik verkoop het sal hulle dit volgende keer weer eerste koop as hulle in staat is om iets te koop.

Dis werklik ‘n ander wêreld. So om terug te gaan na die besigheidsles, jy’t die voorbeeld van die tamaties, wat is daar nog?

In terme van verf, in die beginjare het ek gedink ek koop die canvas, ek koop die verf, ek neem vier of vyf of tien ure om dit te maak, ek raam dit, ek vra die twee en ‘n half keer die prys op die raam en ek verkoop dit. In daai proses het ek bitter min gemaak op die skildery self, maar mettertyd het die waarde opgegaan en nou, vandag kan ek baie meer verdien op daai idee van my. So as ek nou iets moois het dan dink ek joe, ek dink dit is soveel werd. Dis eintlik soveel werd vir myself, as dit nie vir soveel verkoop nie dan hou ek dit, en as ek so dink daaroor dan verkoop dit gewoonlik vir dit of meer. Kyk, elke kunstenaar, jy kan nie heeltyd net wêreldwenners skilder nie, jy doen verskillende goed, dis in jou, jy maak goed en dan hier en daar kom daar ‘n Naglag uit of ‘n Return of the Prodigal Son van Rembrandt wat net eenvoudig kop en skouers uitstaan bo die res van die werke en ek dink elke kunstenaar het dit.

Mens sal ook mense kry wat jou probeer afpraat en ek sal byvoorbeeld in ‘n groot geselskap sit dan sal iemand na my toe kom en sê “Jy weet, daar is ook maar baie kritiek teen jou werk”, dan sê ek “Natuurlik moet daar kritiek wees, almal kan nie van alles hou nie, ek sien ook goed waarvan ek nie hou nie, maar as jy nou in my plek was en jy’t sestienduisend oorspronlikes verkoop en oor die sewehonderd duisend drukke, wat sal jy nou doen, jou styl verander om ander mense te pas of net eenvoudig doen wat jy doen en dit wys?” Ek staan nie met ‘n geweer teen iemand se kop en sê koop my werk nie, mense besluit hulle hou daarvan of hulle hou nie daarvan nie en dan maak hulle ‘n besluit daarvolgens. Dis ‘n vrye mark, dis ‘n oop mark, vir my is die onus net ek het iets in my kop en ek moet dit uitsit op papier of canvas of in beeldvorm of watookal en dan maak ek dit en ek wys dit en jy besluit self.

Ek hou van daai en ek dink dis so belangrike les, ek dink selfs vir die Klipkouers daar buite, daai om te glo in wat jy doen, as jý nie dink dis ‘n honderduisend rand werd nie, hoe gaan ék so dink? Maar ook om daai guts te hê om te sê as hy nié vir soveel verkoop nie dan vat ek hom en ek sit hom in my sitkamer.

Kyk, in die beginjare is jy baie meer gedruk om iets te verkoop want jy’t die geld nodig, jy moet dit in die hande kry om te kan aangaan en om jou belasting te betaal en dinge, maar later, as jy bietjie meer gemaklik raak dan het jy bietjie meer vryheid en jy kan sê “Maar weet jy, ek neem ‘n kans, ek gaan wag tot ek die prys kry.”

En ek wil daai besigheidsles opsom, dis daai ook, wat ek hoor en ek dink dit is so van toepassing in besigheid in die een en twintigste eeu moes jy daai goedkoop werk uitkry in die begin en dit was jou bemarking gewees, soos jy sê as hy op daai muur hang, mense sien hom, so jy moes hom uitkry al wás hy honderd en vyftig rand, maar daai tyd…

Jou mooiste werk moet jy heel eerste verkoop, want dis jou heel beste bemarking.

Ek hou daarvan, en dis nou, ek bedoel as ons kyk, ons sit met die wegspringplek, die digitale media, en dis verniet, gebruik dit. Wat is die meeste wat jy al op ‘n produk gemaak het?

Die duurste skilderye wat ek al verkoop het was driehonderd en vyftig duisend rand, ek het al baie skilderye tussen tweehonderd en vyftig- en driehonderd en vyftig duisend verdien, maar ‘n stel beelde sal jou een punt twee miljoen uit die sak uit jaag.

Jy’t netnou gepraat van die regte selfs vir vyftig jaar na jou dood, wie besit daardie regte?

Die regte daarop, byvoorbeeld vir Claerhout se drukke en so het hy nagelaat aan die kerk, aan die Katolieke kerk, so hulle kan drukke laat maak van sy skilderye as hulle die goed geskandeer het, nie alles is geskandeer nie. So as jy ‘n Claerhout skildery het kan jy nie nou besluit jy gaan nou laat drukke maak van die skildery nie, nee, daai regte behoort nie aan jou nie, dit behoort aan die kerk, so jy sal hulle toestemming moet kry en vir hulle ‘n deel moet afgee of watookal. Dit gaan absoluut oor lisensiëring.

Watse raad kan jy die Klipkouers gee om nuwe geleenthede te identifiseer?

Ek dink jy moet oorspronklik dink, as jy iets sien in die mark wat jy nie ken nie moet jy dit uitprobeer en ek sal byvoorbeeld hier in Londen loop en dan sien ek ‘n alkoholiese gemmerbier, dan dink ek maar ek sien dit nie in Suid-Afrika nie en dis heerlik, ek dink dit sal baie goed doen in Suid-Afrika. Ek sien ‘n alkoholiese ice tea, wat ons nie het by ons nie en ek dink dit sal fantasties doen, daar is reeds ‘n ice tea mark, voeg so iets by en ek dink dit kan werk. So ek kan dit nou of in my kop hou, óf as ek die tyd en energie het kan ek begin uitfigure hoe werk die hele kanaal om dit van hier af te kry Suid-Afrika toe en dit begin versprei, maar jy kan nie net tien botteltjies vat nie, dan moet jy groot dink, so jy moet mense kry wat kan belê daarin en jy vat ‘n klein aandeel of gaan verkoop die idee aan ‘n groot maatskappy en neem ‘n klein deel daaruit. Dis nou maar net een so voorbeeld, maar daar is duisende sulke goeters, jy moet jou industrie ken, as jy kan kennis opbou oor iets dan het jy ‘n mechanisme en jy’t krag in jou hande om iets daarmee te maak.

Wat ek hoor is dat jy vir my sê jy moet oplettend wees.

Absoluut. Jy weet, toe ek begin skilder het, het ek pottebakkery gedoen saam met twee vriendinne as ‘n stokperdjie een maal ‘n week, en toe sê die een meise “Hulle begin ‘n nuwe kunsroete in Randburg, hoekom kry ons nie ‘n studio op die roete nie?” Ons gaan na die byeenkoms toe en ‘n vrou bied aan, ons kan in haar motorhuis uitstal en sy sal in haar huis sit, dan gee ons haar tien persent. En ek sê “Kom ons gryp dit aan”, en ek dink by myself ek gaan nie met pottebakkery soontoe nie, altwee van my vriendinne skilder bietjie, ek gaan verf koop en bord en kwaste, ek maak nege skilderye op die eerste uitstalling, ek verkoop vyf die eerste dag, goedkoop, die duurste was seshonderd rand vir ‘n reuse skildery. Volgende keer maak ek vyftien, ek verkoop nege, volgende keer maak ek een en twintig en ek verkoop veertien, en toe sien ek maar my vriendinne wat kuns gestudeer het verkoop nie so baie nie en daar’s ‘n bietjie afgunstigheid, maar ek dog ek gaan maar net verby dit kyk en ek begin om by my woonstel uit te stal. Neem dit na gallerye toe, hulle sê hulle neem  nie werk van onbekende mense in nie. Ek nooi ‘n klompie mense, dra die meubels uit my woonstel uit, hang die plek vol skilderye, mense kom en hulle koop ‘n paar goed, drie maande later vra ek my buurvrou of ek haar woonstel ook kan gebruik, later ander buurvrou, so einde ’94 stal ek met ‘n honderd werke uit in ses van die agt woonstelle in my blok en daar kom oor die vyfhonderd mense die aand en ek verkoop al my skilderye in een aand. Dit het my sestig duisend rand gegee en daarmee het ek gedink, ek was so sewe en twintig, hiermee gaan ek ‘n lewe begin. Ek het daai Maandag ingestap, my werk bedank en eenvoudig Kaap toe getrek, klein drie slaapkamer woonstel gehuur, gastehuisie begin daarin, ek het in die motorhuis geslaap en alles self gedoen en ‘n studio’tjie daar opgesit en goed verkoop aan klante wat verbykom en die gaste wat daar geslaap het. Paar maande later besef die seisoen is oor, ek het geld nodig, ek hardloop uit geld uit, terug na Johannesburg toe, by vriende se huis weer ‘n groot uitstalling gedoen, alles weer verkoop, toe bietjie geld gehad vir ‘n deposito vir ‘n huis, koop ‘n huis, gaan bietjie groter, toe begin gallerye na my toe kom en sê hulle wil werk by my koop. So van daar af net voetjie vir voetjie gewerk en dit vorentoe geneem. Jy kan niks verkoop as jy niks het nie, jy moet goeters hê om te verkoop, so jy kan maar goed in jou kop hê en daaroor dink en droom, maar as jy nie daai eerste stap neem om aksie te neem en geld neer te sit en energie neer te sit nie, is dit baie moeilik om dit vorentoe te vat.

Dis net vir my so inspirasie, jy’s werklik ‘n entrepreneur, die een woonstel, dan nog ‘n woonstel, dis daai shoestring…

My ouers is jonk dood, ons totale erfporsie was ‘n Ford Cortina kar wat ons vir vyf duisend vyfhonderd verkoop het en tussen drie kinders gedeel het, en daarmee het ek net besef jy moet maar self uitwerk hoe jy dit gaan doen, niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Daar’s niemand wat vir jou kan borg staan of borg teken nie, jy moet eenvoudig bietjies bymekaarsit, spaar, probeer om iets daarmee te doen, niemand gaan vir jou ‘n vry pas gee iewers heen nie.

Wat is tans of histories ‘n pyn in jou besigheid?

Nou raak die grootste krisis vir my verskeping, hoe om die regte prys uit te werk vir verskeping, want veral in Suid Afrika is dit nie maklik nie. Ons is te klein om groot kontrakte met verskepingsmense, versendingsmense aan te gaan. Ons vlieg dit uit, maar selfs binne-in die land as ek ‘n pot staander verkoop of ‘n skinkbord verkoop, alles het verskillende pryse, om die regte prys te heg aan wat dit gaan kos om ‘n pakkie te pos, dis die grootste pyn vir my op die oomblik wat ek byvoorbeeld in my webwerf verkope ervaar.

Verder moet jy net jou plek interessant hou, jy moet dit heeltyd vernuwe, so ek het ook besef, ons is deur ‘n resessie en ons is weer in ‘n resessie in, jy moes maar net aanpassings maak, ek kon nie dink ek hou heeltyd net skilderye op die muur nie, dan sou ek nie my deure kon oophou nie. Ek moes gaan en ek het bykomende goed ingewerk in die gallery, juwele, diertjies, goed wat ‘n toeris kan koop, postaanders, skilderye.

Hoe het jy besluit op hierdie?

Ek het besef om te oorleef sal ek moet wyer kyk as net skilderye, en ek het my instinkte vertrou, ek het byvoorbeeld Indië toe gereis vir ‘n verjaardagpartytjie, toe begin ek daar kyk en ek sien hier en daar bietjie juwele wat ek van hou, ek koop dit, ek verkoop dit, mense hou van wat ek gebring het, gaan terug, koop ‘n bietjie meer, upgrade, volgende keer koop ek bietjie silwer by met stene, mense is mal daaroor, so nou het ek ‘n reuse juweliers komponent in my gallery en in die proses het ek baie goed ontwerp wat ek laat maak, ek self maak baie juweliersware in die aande om my aandag af te trek van skilderye en ook besef dat met juweliersware sal mense baie langer neem om te besluit, en dan is daar heeltyd mense in jou gallery en van buite af sien mense daar is ander mense in jou gallery, dan wil hulle weet wat daar aangaan. Dan stap hulle verby, maar hulle sien daar is mense en draai om en kom ook in en kom kyk wat gaan hier aan.

So ek het besef om ‘n besigheid te laat oorleef moet jy soms ‘n bietjie afwyk van jou idee om te sê “Ek wil nét dit doen, ek wil net ‘n fine-art gallery wees”. Ek kon dit ook gedoen het, maar ek dink ek sou gesukkel het en in die begin was die ander gallerye rondom my almal so half slegs fine-art gallery, maar nou het almal net soveel goed soos ek in die gallery, want dit is ‘n manier om te oorleef. Dan is jy gelukkig en ‘n persoon stap in en hulle sien ‘n skildery en dit of dat, so dis maar ‘n hele kookpot van verskillende goed, jy kan dit nie in isolasie sien nie,  jy moet maar jou besigheid aan die gang hou en hom groei op elke manier.

Wanneer het jy besluit om die oorsese mark te tackle? Jy was nou twee maande regoor Europa gewees…

Die verkoop van die Claerhout beelde het my in staat gestel om my London uistalling te finansier in ‘n top-end skaal, so ek het besluit ek gaan my deel van die wins uit daai beelde uit vat en regtigwaar iets spesiaals met dit doen.

Wanneer het dit toe nou gebeur?

Twee jaar terug het ek dit verkoop en toe dink ek met daai geld gaan ek, want ek dink al lankal jy moet dit wyer vat as Suid-Afrika, maar dit ís duur, dit is nie goedkoop nie, jou spasie is ontsettend duur, jou verskeping van die container is duur, jou verblyf is duur, so dit is ‘n klomp komponente wat jy in ag moet neem en ek wou dit nie doen met die verkope van die uitstalling hier se geld nie, ek wou dit vooraf finansier sodat ek geen druk op my het nie, as dit verkoop is dit wins vir my, as dit nie verkoop nie stuur ek dit terug Suid-Afrika toe en ek verkoop dit in my normale kanale met uitstallings of by my gallery of aan handelaars. En dan aanvaar jy dit het goed uitgewerk, maar dit is ‘n kans wat jy neem, jy kan nie vooraf sê nie.

Jy praat nou van daai spasie, die gallery, hoe werk dit?

Daar is twee metodes, óf jy kan ‘n gallery kry en hulle is mal oor jou werk en hulle sê ons wil graag vir jou ‘n uitstalling reël en ons vat vyftig of sestig persent van die verkope, maar dan sit jy altyd met klein spasie, jy sit met deel spasie of dis ‘n kleiner gallery, so daar is ‘n prys vir die verniet en dan as jy goeie verkope het vat hulle só groot deel daarvan dat jy omtrent niks oorhou nie.

Jou ander weg is dan om goeie spasie te soek, duur te betaal vir dit en dan het jy die vryheid om te hang waar jy dit wil hang, jy nooi jou eie kliënte, jy sit jou verversings neer, jy kry jou entertainment reg, watookal jy wil doen, dit is soos ‘n leë dop wat jy kry, maar in top ligging, en van daar af doen jy alles self, jy doen die bemarking self, wat ek meer van gehou het. En die eienaar van die gallery is glad nie gestress nie, hulle het klaar hulle geld gekry, as jy goed doen is dit fine, as jy nie goed doen nie maak dit nie aan hulle saak nie, hulle het klaar hulle geld gekry, en dit is vir my die beter idee gewees omdat ek geweet het wat in myself steek in die absolute effort wat jy in die hele projek insit, en so het ek gedink daar moet iets in steek en ja, om vierhonderd mense te kry by jou openingsaand was fantasties gewees. Van daar af voel dit nou vir my die volgende uitstalling kan ek nog meer fine-tune en nog beter inrig en my hele mengsel beter regkry en die hele proses ‘n bietjie fyner maak en dit maak my opgewonde.

As mense meer van my werk wil sien kan hulle kyk op Vimeo, daar is pragtige video clips van my uitstallings op en duisende images en maak gerus kontak met my, dis altyd lekker om te gesels.

In Klipkouerwêreld is onmoontlik maklik. Hier pak ons die bul by die horings en voeg waarde toe aan almal met wie ons in aanraking kom.

Klipkouers Potgooi is gestig om jou te help om jou aspirasies te realiseer ten einde waarde toe te voeg.

Dalk weet jy nie waar om te begin of hoe om vorentoe te beweeg nie. Dit is waar Klipkouers jou 'n hupstoot gaan gee om die wiel aan die rol te sit.

Elke week gesels ek, Jacques Basson, met suksesvolle Afrikaner entrepreneurs en impakmakers wêreldwyd en vra ek hulle dieselfde vrae – alles vrae om jou te help om jou besigheid of omstandighede te verbeter.
 
Onthou...Aanhouer wen!
close-link
Back To Top