skip to Main Content

Die Klipkouer met wie ek gesels is Frans Cronje, wat seker een van die bekendste filmmakers is asook ’n akteur, in Suid-Afrika. Dit is ’n groot voorreg vir my en vir die van julle wat nie Faith like Potatoes gesien het nie, dit is die ongelooflike storie van Oom Angus. Internasionaal het meer as 400 miljoen mense die fliek al gesien en is dit ’n ongelooflike prestasie. Ek was veral nuuskierig om uit te vind wat gebeur letterlik agter die skerms in terme van die besigheidsmodel, hoe gaan hulle te werk, hoe maak hulle die film, hoe bemark en versprei hulle die film. Weereens, ’n lang onderhoud wat ek nie dele van wou uitsny nie en dus het ek die onderhoud in twee verdeel. Hiermee dan deel 1 van my onderhoud met film produsent Frans Cronje.

Hallo, Klipkouers dit is Frans Cronje hierso. Ek praat vanaf Kaapstad waar dit ’n baie mooi sonskyn oggend is vanoggend.

  1. Frans, baie welkom en dankie vir jou tyd. Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself?

Dankie, Jacques lekker om te gesels.

Ek is ’n fliekmaker en ek het grootgeword in Bloemfontein en sien myself vandag nog as ’n Vrystater alhoewel ek al in 1991 daar weggetrek het. Meestal aan sport deelgeneem, krieket en rugby gespeel maar sedert 2002 maak ek flieks. My eerste fliek wat ek suksesvol klaargemaak het, was Faith like Potatoesen dit was al in 2006 gewees. Ek kan nie glo die tyd het al so vinnig verbygegaan en dit is al tien jaar gelede maar die film doen vandag nog baie goed en dit is vir ons ’n groot seëning om te sien wat dit wêreldwyd vir mense beteken. Ek skat so 400 miljoen mense in die wêreld het al dit gesien en ons het al 400 miljoen DVD’s verkoop wêreldwyd in 17 verskillende tale.Dit is natuurlik ook wonderlik om te sien hoe Angus Buchan se bediening wêreldwyd so ’n groot inpak het.

Sedert Faith like Potatoes het ek nou al vier ander films gemaak. Vandag is ek nie net ’n filmvervaardiger nie, maar ek skryf ook my eie draaiboeke en doen ook my eie regie deesdae en daarmee saam is ek ook genoodsaak om ’n groot gedeelte van die verspreiding ook te behartig as ’n onafhanklike vervaardiger.

Ek bly nou hier in die Kaap in die noordelike voorstede en ons studio is in die stad self en daar is fantastiese geleenthede in die Kaap deesdae om rêrig ons flieks wêreldwyd uit te kry.

Ek weet jy is nou lekker “jetlagged” want jy het nou net van Florida af teruggekeer, juis van so ’n konferensie nè? Vertel ons ’n bietjie meer van hierdie Christelike Film Konferensie, is dit die regte naam?

Konferensie is absoluut die regte naam. Dit is ’n baie groot konferensie wat jaarliks plaasvind in Amerika, die “National Religious Broadcasters Conference”, NRB. Dit het oorspronklik maar begin met die Christen televisiekanale wat eenmaal ’n jaar bymekaargekom het en gekyk het wat is die raakpunte wat hulle saambind. Ek dink met die “convergence of media” ‑ daar is nie eintlik ’n goeie Afrikaanse woord daarvoor nie ‑ is daar nie eintlik meer vandag iets soos jou tradisionele uitsaaier nie, want almal is deesdae op die internet, digitaal, die gewone uitsaaier natuurlik en dan die flieks, die boeke ensovoorts. Dit het alles so saamgesmelt dat hierdie konferensie het nou baie groot geraak en feitlik almal wat in Christen media betrokke is wêreldwyd, gaan na NRB toe elke jaar. Daar is derduisende mense daar en dit is baie groot.

Wat vir my lekker is as ’n fliekmaker, ek het nou net ’n nuwe fliek klaargemaak, die fliek se naam is “The Roar” soos “the lion’s roar” en ek moet nou my verspreiding vasmaak vir die jaar en ek kon in een week almal sien wat ek wêreldwyd wou sien. Letterlik al die belangrike ouens in Amerika, Suid-Amerika, Australië, Europa en ouens van Afrika asook Russe was daar wat ek gesien het en hopelik gaan ek in die volgende paar weke my verspreidingskontrakte vasmaak met hulle almal.

  1. Sjoe, dit is fantasties! Ek gaan vir jou nog ’n vraag vra oor al die ouens wat jy in ’n week gesien het, maar gee eers vir ons ’n opsomming van die tipe besigheid en industrie wat jy in is.

My besigheid, soos ek gesê het, is in die film industrie. Vir my persoonlik is my eerste passie nie die film industrie nie, alhoewel ek rêrig ’n passie ontwikkel het daarvoor en ek het altyd van kleins afgehou het van flieks. Ek was nog altyd kreatief gewees. My swaer het my altyd Joseph genoem en gesê ek word elke oggend met ’n ander droom wakker. Ek is nie eintlik ’n realis nie en ek dink ek moes op ’n ander planeet gaan bly het.

Die rede hoekom ek in die film industrie is, is omdat ek 20 jaar gelede my hart vir die Here gegee het en ek het gesien hoe hy my lewe verander het en ek wou graag vir mense vertel het daarvan maar ek wou nooit ’n reisende evangelis gewees het nie. Ek is mal oor Angus en Peter Pollock en die ouens maar dit is nie wie ek is nie en ek het ook op daardie stadium geweet ek is definitief nie ’n predikant nie. Iemand wou my op daardie stadium aanteken om ’n politikus te word en ek is vandag baie bly ek het dit nie gedoen het nie, want ek sou definitief iemand met ’n vuis geslaan het in vandag se opset. Ek het hakker gespeel toe ek nog rugby gespeel het so ek dink nie ek sou goed geaard het in die Parlement in die Kaap nie.

Ek is dus in die film industrie om ’n boodskap uit te dra. My flieks het almal ’n Christen tema maar ek poog om my flieks realisties te doen want “authenticity” is vir my baie belangrik sodat mense kan voel dit is werklikheid en nie ’n “preek” nie en dit is ook nie iets wat te vêr is om te bereik nie. Dit moet iets wees waarmee ons almal kan identifiseer. Dit was juis die sukses van Faith like Potatoes. Dit het juis ’n boer se lewe weergegee wat ons eerlik vertel het en dit is dieselfde in ons ander flieks. Die wonderlike ding daarvan is dat jy nou rêrig miljoene en miljoene mense kan bereik.

Ek glo dat my flieks uiteindelik elkeen een biljoen mense gaan bereik soos wat die begrotings groter word en ek miskien groter akteurs kan rolle aanbied in die flieks. Dit is ’n baie interessante industrie om in te wees maar dit maak ’n mens baie grys. Ek het geen grys hare gehad tien jaar gelede voor ek Faith like Potatoes gemaak het nie en ek dink nie meer daar is ’n haar op my kop of my baard wat nie grys is nie!

Ek wil net terugkom na, Faith like Potatoes en die interessante ding wat jy genoem het, Peter Pollock. Daardie tyd, was dit jou Christelike wegspringplek wat jou op Angus laat afkom het? Ek onthou jou storie daardie tyd was iemand het jou vertel van ’n boekie maar dit is ook natuurlik omdat jy hierdie Christelike pad gestap het daardie tyd. Waar het die hele storie van Faith like Potatoes begin?

Ja, dit was ’n interessante ketting van gebeure wat my tot daar gelei het. Ek het op daardie stadium vir Grens krieket gespeel. Ek was 30 jaar oud en ek het my beste seisoen van my lewe gehad en het ook in die Engelse somer in Engeland krieket gespeel en toe raak ek vriende met Dale Benkenstein wat die kaptein was van die Natal krieketspan. Hy het my toe vertel dat Graham Ford, wat op daardie stadium hul afrigter was, nie kon afrig nie, want sy vrou het op daardie stadium kanker gehad en hy vra my toe om die Natal span te gaan afrig. Ek moes toe ’n groot besluit maak om op te hou krieket speel en hulle vir 2 jaar te gaan afrig. Ons het gevoel dit is wat ons moet doen, ek en my vrou en ons het toe Durban toe getrek en ek het vir 2 jaar die Natal span afgerig en aan die einde van daardie 2 jaar het ek skielik my passie vir krieket verloor.

Ek het skielik besef daar is iets anders waarvoor ek gebore is. Ek was mal oor krieket en dit was my hele lewe gewees maar ek het skielik besef dit is nie wie Frans Cronje gemaak was om te wees nie. Dit was ’n seisoen in my lewe.

Dieselfde tyd het ’n vriend vir my ’n boek gegee “Faith like Potatoes”, die biografie van Angus Buchan en selfs na die eerste drie hoofstukke het dit my soveel geïnteresseer dat ek en my vrou uitgery en vir Angus en sy vrou Jill ontmoet het, vriende geraak en toe ’n paar weke later toe ek die boek klaar gelees het, land ons hier in die Kaap om teen WP krieket te speel. Ek bel toe vir Angus en sê vir hom, “Angus, ek weet rêrig niks van fliek maak af nie, maar ek wil weet of ek die regte kan kry om hierdie storie te maak?” Hy het vir my ja gesê. Dit was 1999. Ek het gedink dit is dit. Dit is die afskop nou gaan ons die fliek maak, hoe moeilik kan dit nou wees? En dit het my 7 jaar geneem om dit te doen.

Die moeilike deel van fliek maak is die befondsing. Die maklike deel van fliek maak leer hulle jou by die film skool. Ek het nie die voorreg gehad om film skool toe te gaan om te leer hoe om ’n fliek te maak nie. Ek is ’n gekwalifiseerde fisioterapeut en het sport gespeel vir die grootste deel van my lewe tot op daardie stadium. Dus moes ek myself leer van die film industrie. By die film skool leer hulle studente hoe om te “edit” en te “direct” en af te neem en toneel te speel maar dit is ’n baie klein gedeelte van fliek maak.

Die moeilikste en die belangrikste deel is hoe om die besigheid van fliek maak aanmekaar te sit en dit moes ek vir myself leer. Niemand leer dit vir jou nie. Die paar mense in die wêreld wat weet hoe om dit te doen gaan dit ook nie vir jou vertel nie, want dan raak jy kompetisie vir hulle.

Ons het uiteindelik dit reggekry om genoeg geld bymekaar te kry om Faith like Potatoes in 2006 af te neem en dit was ook ’n groot klomp geloof daarmee saam maar dit het uiteindelik vir ons in staat gestel om hierdie maatskappy te “launch” en ons het nog nooit terug gekyk nie.

Nou dat jy praat van die befondsing en so aan, hoe werk die begroting van ’n film? Gaan jy uit en sê jy het R50 miljoen nodig vir hierdie honderd goeters of is dit soos ’n konstruksie maatskappy – dit is nooit binne die begroting nie en nooit betyds nie? Is dit ’n akkurate beskrywing van die film industrie of nie?

Ja, jy het nou in een deel van die sin iets gesê wat wel waar is en in die ander deel van die sin, nie noodwendig nie. Dit is soortgelyk aan konstruksie besigheid of laat ek liewer sê, die ontwikkeling besigheid. As jy ’n nuwe kompleks of gebou ontwikkel is dit soortgelyk. Jy moet van ’n konsep af werk en ’n begroting opstel en die befondsing kry en deursien. Dit is ’n marathon en nie ’n sprint nie. So daai gedeelte is waar en daar is baie raak punte in hoe jy die ding begin. Ek is baie gelukkig in dat alhoewel ek al vyf flieks gemaak het, was ek nog nie eenkeer oor die begroting gewees nie en ons het nog altyd binne ons tydraam klaargemaak ook. Grootliks seker omdat ons net sóveel geld gehad het.

Jy vra hoe doen ’n mens die begroting? As jy in Hollywood is en jy werk met een van die groot studio’s ‑ en daar is minder as tien studio’s in die wêreld as jy nou van die groottes praat – dan werk dit anders want hulle het ’n tipe van ’n worsmasjien waarvolgens hulle werk en hulle het rekenaars wat kan voorspel of die fliek gaan goeddoen of nie. Maar ek, as ’n afhanklike vervaardiger, het geen reëls nie en daar is geen formaat waarvolgens jy kan sê dit is hoe ek werk nie. Elke fliek is anders, uniek en elke keer moet jy van vooraf begin met befondsing.

Wat ek geleer het in my proses is, as ek na my konsep kyk, is dit vir my baie belangrik wat ek kies om te maak. Ek kry twee tot drie maal ’n week eposse van mense wat vir my storie idees aanstuur en sê hulle dink die gaan ’n goeie fliek wees maar dit is nie my behoefte nie. Ek het meer as genoeg stories van my eie wat ek wil vertel en het ek dus nie nodig dat mense vir my konsepte stuur nie. Wat wel vir my belangrik is, is dat ek moet kies watter een van my konsepte moet ek nou volgende maak want dit neem twee jaar vandat ek begin om ’n fliek te maak, as ek dadelik die finansies kry, totdat dit klaargemaak is. Dit is dus ’n baie groot investering van tyd wat in ’n fliek ingaan so jy moet reg kies en ek kies altyd ’n tema wat vir mense die wêreld ’n beter plek gaan maak. Ek hou van inspirerende flieks maak en sal nie ’n fliek maak net omdat dit vermaak is nie.

As ek nou klaar my tema het dan het ek drie goed wat moet saamwerk. Die eerste een is dat ek die storie moet ontwikkel, so ek moet die draaiboek skryf. Wanneer die draaiboek geskryf is, moet ek uitvind hoe lank gaan dit my neem om dit af te neem, waar moet ek afneem, watter tipe akteurs en span gaan ek nodig hê, dan kan ek my begroting opstel. As ek my begroting opgestel het, kan ek my besigheidsplan opstel. Daardie proses tot daar wat ek nou vir jou gesê het, vat my enige iets van ses tot agtien maande om te doen.

Dit kos my ten minste R1 miljoen se werk in vorm en tyd om dit gedoen te kry. Dan het jy nog net ’n draaiboek en ’n begroting. Jy het niks anders nie. So dit is ’n baie groot risiko wat jy vat – so ’n hoender en eier situasie en grootliks moes ek nog altyd daai gedeelte self doen. Ek het nog nooit geld gehad om ontwikkeling mee te doen nie. Ek het nou ’n vriend wat belê het en gesê het dat hy wil ons help om die volgende fliek te ontwikkel, wat fantasties is!

Nou as ek daardie pakket het – die besigheidsplan – dan gaan ek na my verspreiders toe en gaan sien hulle oor die fliek en sê vir hulle hoe die konsep lyk, kan ons verspreidingskontrakte teken nog voordat ek begin om die fliek te maak. Hopelik sê hulle ja. As hulle ja sê dan maak ek hulle betrokke in die finale draaiboek sodat hulle invloed het oor hoe die storie lyk en nie lyk nie, want hulle is die ouens wat dit uiteindelik gaan verkoop wêreldwyd en ek wil hê hulle moet voel dit is hulle fliek. Indien ek klaar verspreiding het nog voor ek begin om die fliek te maak, dan is die risiko natuurlik baie minder. Fliekmaak is risiko maar dan is die risiko baie minder ten opsigte van om die fliek verkoop te kry na die tyd.

Eers wanneer ek weet ek het ’n storie en ek weet ek het verspreiding, dan gaan ek na beleggers toe en sê vir hulle, “hier is die pakket, dit is hoeveel dit gaan kos. Is julle bereid om geld in te sit.” Selfs dan moet die belegger verstaan dit is ’n hoë risiko belegging. Dit is nie ’n belegging waarop jy kan staatmaak dat jy definitief jou geld gaan terugkry nie.

Die “upside” is dat as die fliek goeddoen dan kan dit baie goed gaan. Jy kan honderd maal jou geld terugkry ook maar daar is soveel voorbeelde van flieks wat nooit enigsins hul geld terugmaak nie. So dit is baie hoë risiko en jy moet byvoorbeeld, nooit jou geld vat op jou huis of jou belangrike spaargeld en in ’n fliek insit nie. Dit is vir ouens wat ekstra geld het en ook mense wat risiko verstaan en weet hoe die film industrie werk. Dit is die ideale profiel om mee saam te werk eerder as mense wat nie die filmindustrie verstaan nie. Dit is ’n bitter moeilike industrie om te verstaan as jy glad nie daarby betrokke is nie.

In terme van die begroting is die regte manier om die draaiboek te neem, af te breek en te kyk hoeveel gaan dit kos maar in my geval, dikwels, doen ek dit soort van maar ek sit ook vir myself ’n limiet op waar ek sê, “okay, alhoewel dit lekker sal wees om R20 miljoen te gebruik vir die fliek, weet ek dat in my mark gaan hierdie storie eintlik nie meer as R7 miljoen kan terug maak nie.” So ek hou my begroting op R7 miljoen en nou pas ek my draaiboek en my styl aan daarvolgens sodat ek myself binne die R7 miljoen begroting hou. Om dit reg te kry doen ek vyf persone se werk in plaas van een persoon s’n. Ook die ouens wat saam met my werk moet ’n bietjie “multi-task” om dit reg te kry. Ek hoop dit maak sin vir jou.

Dit doen, ja. Om vinnig by die laaste punt aan te sluit – ek neem aan tegnologie maak dit ook nou makliker, om daai vyf mense se werk te doen?

Ja, absoluut! Toe ons Faith like Potatoes opgeneem het in 2006 was dit die eerste fliek wat digitaal afgeneem is en teater toe gegaan het. Op daardie stadium was dit nog die gewone 35mm film gewees wat ’n baie duur en tydsame proses is en Reghardt van den Bergh wie die fliek se regie gedoen het kon nie glo hoeveel makliker die proses was digitaal nie en dit het die kostes ongelooflik afgebring. Voorheen moes jy na-produksie fasiliteite huur teen miljoene rande. Nou kan ons elkeen van ons flieks op ’n gewone Mac book of ’n gewone Mac doen. Die Mac book word soms bietjie stadig en jy het dus die groter Mac nodig maar jy kan by die huis sit en “edit”. Ons doen dit nie net om geld te spaar nie, maar omdat dit moontlik is en dit is soveel makliker om in die stilte van jou huis die eerste gedeelte van die “editing” te kan doen as om dit in ’n kantoor opset te doen.

Ek wil terugkom na die distribusie toe. Jy het genoem dat jy die draaiboek na die verspreiders neem. Dus is hierdie ouens bereid om ’n kontrak te teken op grond van ’n storie op papier, of het jy ’n tipe van tonele wat al geneem is, soos ’n loods program of is dit alles net op papier?

Ja, ek kan jou twee goed daaroor sê. Ek het netnou die ideale prentjie geskets. Ek het dit al soort van reggekry maar meestal het ek dit nog nie heeltemal reggekry presies soos ek vir jou verduidelik het nie, maar dit is hoe dit gedoen moet word, glo ek. En ja, ek het dit al reggekry op papier maar nie met my eerste twee flieks nie, want mense wou nog gehad het dat ek myself moet bewys maar omdat hierdie nou al my vyfde fliek is, was dit makliker om dit nou reg te kry.

Ek sal dit steeds op ’n groter skaal wil regkry soos, byvoorbeeld, ons het ’n nuwe draaiboek begin skryf vir ’n film wat in die 4de eeu afspeel na Christus. Daar is gladiators daarin en daar gaan baie gevegte wees en baie visuele effekte en baie groot tonele. Ons wil dit alles in die Kaap afneem asof dit Rome is en dit gaan baie geld kos. Ek dink in die omgewing van $20 miljoen want ons wil ook groot naam akteurs in die fliek hê. Om dit reg te kry, gaan ek nie op groot skaal beleggers en verspreiders inkry net gebaseer op my draaiboek nie en ons is van plan om ’n paar konsep tonele te doen. Dit is baie moeilik om ’n konsep toneel te doen want dit is duur. As jy ’n toneel wil doen en jy wil dit vir Sony Pictures wys, een van die studio’s met wie ek gesels, dan moet dit goed genoeg wees en lyk of dit in ’n gewone fliek kan inpas en om dit te doen, moet jy ’n volledigespan en akteurs hê. Jy gaan tien teen een ’n paar miljoen rand se werk moet insit om dit goed genoeg te laat lyk.

Maar ek het nie die paar miljoen rand nie en dus moet ek ’n klomp gunste vra. Daar is dus ’n groot klomp samesprekings, samewerking ensovoorts om uiteindelik met so ’n konsep te kom en, natuurlik, as jy ouens kan oorreed om hul tyd in te sit in daardie paar minute en wanneer jy die geld kry vir die fliek moet hulle darem die waarborg hê dat hulle op die fliek sal kan werk as dit uiteindelik vrugte oplewer.

So, dit klink vir my meer kompleks, hoë risiko maar, natuurlik, daardie potensiële befondsing wat jy dan gaan kry is baie groter.

Absoluut net so. In my industrie is dit partykeer so dat hoe groter die begroting van jou fliek, hoe minder is die risiko. Soos die fliek wat ons nou net klaargemaak het, is ongeveer ’n halfmiljoen dollar begroting wat baie klein is as jy kyk na Amerika. Selfs hul klein Christen flieks is so $2 miljoen tot $3 miljoen. Baie van die Christen flieks word egter deesdae gemaak met $10 miljoen tot $12 miljoen en nou moet ek daarmee kompeteer en ons het net R7 miljoen om in te sit in ’n fliek en dit maak dit moeilik om gedoen te kry. Ek dink dat met hierdie nuwe fliek – as ons dit kan regkry om ons begroting groter te kry en twee of drie van die baie groot naam akteurs daarin te sit dan kan daardie ouens dit invoer in hulle rekenaars en as dit vir hul besigheid sin maak om $20 miljoen te spandeer want potensieel kan die fliek dalk ’n $100 miljoen inkry.

Daar is vinnig twee goed wat ek wil aanraak voor ek by die volgende vraag kom ten opsigte van jou kompetisie. Julle veg nou hier vir hoeveelheid oë natuurlik maar in terme van advertensie – jy het vroeër gesê – hoë risiko maar die potensiaal van ’n groot opbrengs – wat is daai persentasie ten opsigte van ’n adverteerder? Waar die ou sê, weet jy wat, ek soek nie ’n opbrengs nie, ek soek net daai getal oë. So wat is die persentasie van investering waar die “Coca Cola” van die wêreld – die produk plasing element – teenoor die investeerder wat ’n opbrengs soek vir sy geld?

Ja, dit is lekker in ’n fliek dat jy produk plasing kan insit. Ons het een fliek gemaak, vier jaar gelede of so, toe ons rêrig niks geld gehad het nie en begin het om die fliek sonder geld te maak en toe het ons ’n Pretoriaanse maatskappy ingekry wat geadverteer het in ons fliek en ons het hul produkte op groot skaal bemark. Hulle het uiteindelik aandele ook in die fliek gehad en hulle het die geleentheid gehad om geld terug te maak uit die fliek maar die geld wat hulle in die fliek ingesit het, was klaar soveel die moeite werd omdat ons hul produkte baie sterk bemark het.

As jy op televisie adverteer gaan jy ’n hele paar duisend rand vir daardie 30 sekonde segmente betaal maar as jy daardie paar honderd duisend rand eerder in ’n fliek insit gaan dit vir altyd gesien word. Vir my nuwe fliek gaan dit natuurlik ’n bietjie van ’n probleem wees want dit is 4de eeuse fliek en kan ons nou nie eintlik Adidas of Nike aantrek nie.

Maar daar is maniere waarna ’n mens daarna kan kyk.Ek dink dan ook, in my geval, vir my beleggers is dit baie belangrik dat hulle belê nie net met die hart om geld te maak nie, maar om mense te bereik. Daar is baie Christene wêreldwyd wat graag wil hê dat die boodskap wêreldwyd moet uitgaan en hulle is bereid om in die koninkryk te saai sodat mense se lewens verander. ’n Fliek is een fantastiese manier om mense se lewens mee te verander. Soos Faith like Potatoes – ons het omtrent R10 miljoen spandeer aan die fliek maar ons het al 400 miljoen mense bereik. As jy daardie somme gaan maak ‑ met sending organisasies en sendingwerk ‑ is daar bitter min kere waar jy R10 miljoen in ’n projek kan insit en 400 miljoen mense kan bereik.

Ek dink dat as ons hierdie nuwe fliek goed doen gaan ons ’n biljoen mense bereik en dit is ’n fantastiese belegging in die koninkryk in. As dit rêrig goeddoen finansieel en jy kry jou geld terug, dan is dit ’n bonus en ek glo dit sal die geld terug maak. Ek probeer nie sê ons flieks maak nie ons geld terug nie, maar dit is nie ons eerste oorweging wanneer jy ’n belegger is in my flieks nie.

NB! Indien jy verlede week se KPS oor Hettie Brittz gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

In Klipkouerwêreld is onmoontlik maklik. Hier pak ons die bul by die horings en voeg waarde toe aan almal met wie ons in aanraking kom.

Klipkouers Potgooi is gestig om jou te help om jou aspirasies te realiseer ten einde waarde toe te voeg.

Dalk weet jy nie waar om te begin of hoe om vorentoe te beweeg nie. Dit is waar Klipkouers jou 'n hupstoot gaan gee om die wiel aan die rol te sit.

Elke week gesels ek, Jacques Basson, met suksesvolle Afrikaner entrepreneurs en impakmakers wêreldwyd en vra ek hulle dieselfde vrae – alles vrae om jou te help om jou besigheid of omstandighede te verbeter.
 
Onthou...Aanhouer wen!
close-link
Back To Top