skip to Main Content

Die Klipkouer met wie ek gesels is Frans Cronje, wat seker een van die bekendste filmmakers is asook ’n akteur, in Suid-Afrika. Indien jy deel 1 van verlede week gemis het, hierdie week is dit deel 2 en gaan luister asseblief. Dit was ’n baie lekker gesprek gewees en interessant. Hy is ’n baie suksesvolle film produsent en sy films het internasionaal, tot dusvêr, meer as 400 miljoen kykers gelok. Fassinerend gewees om letterlik agter die skerms te gaan en te sien hoe hierdie besigheid werk, hoe gaan hulle te werk, hoe maak hulle die film, hoe bemark en versprei hulle die film regoor die wêreld. Hiermee dan deel 2 van my onderhoud met film produsent Frans Cronje.

Ons hoop om die film “The Roar” vry te stel wêreldwyd in Septembermaand. Ons sal eersdaags daardie datum absoluut vasmaak. As jy ’n invloedryke persoon is in die media en jy wil betrokke raak by die veldtog op een of ander manier, kontak my gerus.

Ek dink nou aan die struktuur van die besigheid. Jy is nie ’n NGO of ’n ding nie. Jy is ’n volledige maatskappy? Is daar ’n liefdadigheids element in want, soos jy sê, jy wil mense bereik. As daar nie ’n liefdadigheids element is nie, hoekom nie? Sal dit nie die befondsing makliker maak nie?

Dit is ’n baie goeie vraag. In die begin toe ons Faith like Potatoes gemaak het, het baie daaroor gepraat. Die voorsitter van ons raad van direkteure van Faith like Potatoes se naam is Eric Tocknell, ’n baie bekende besigheidsman in Suid-Afrika. Hy het, byvoorbeeld, die Wimpy Restaurante begin. Dit was sy konsep gewees. Ons het op daardie stadium besluit om ’n beperkte maatskappy te stig. Eerstens, as jy die Departement van Nywerheid en Ontwikkeling se korting in Suid-Afrika wil hê, dan moet jy ’n beperkte maatskappy stig en vandag gee die regering vir ons 30% terug op al die geld wat ons spandeer aan ’n fliek. Dit is dus ’n baie goeie aansporing om van gebruik te maak. Tweedens, op daardie stadium het die ouens wat die geld ingesit het gevoel dat hulle wil dit eerder as ’n belegging doen as ’n donasie en my eie maatskappy is ook ’n maatskappy en nie ’n NGO of ’n liefdadigheid nie.

Dit is hoe ons begin het en vandag nog gaan ons met die model aan maar daardie vraag wat jy nou vra is iets wat ek konstant vir myself vra en ek wonder ook of ons nie in ’n stadium ’n kombinasie sal hê met ’n “Pty Ltd.” aan die eenkant en ’n “nie-vir-wins” aan die ander kant nie. Ons sal sien hoe die ding aangaan. In Amerika is daar baie goeie belastingvoordele om in ’n NGO geld in te sit.

Baie interessant.

  1. Laaste vraag oor die besigheid spesifiek, wat dryf die koste? Jy het gepraat van die akteurs. Is hulle jou grootste uitgawe? Dit is daardie “catch 22”, as jy ’n goeie akteur kan inkry help dit met die bemarking?

Dit kan wees jy dat “A lys” akteurs gebruik soos Brad Pitt, Angelina Jolie of Chris Hemsworth en so aan. Hulle salaris is baie groot en dan sal dit baie soontoe neig maar op die oomblik as ons flieks in Suid-Afrika maak en Suid-Afrikaanse akteurs gebruik soos wat ek nog altyd gedoen het, dan is die begroting gebalanseerd. Daar is nie een lyn item op ons begroting wat alles oorheers nie. Elkeen kry sy regmatige gedeelte en dit word goed uitgebalanseer tussen jou ouens wat groot poste en kleiner poste het. Daar is soveel verskillende mense wat betrokke is. Jy praat van honderde mense wat betrokke is in die maak van ’n fliek en as jy uiteindelik na my begroting kyk sal jy sien dit is ’n verspreiding tussen ’n klomp goed. Daar is nie een ding wat al jou geld neem nie.

Soos byvoorbeeld, kamera is ’n klein gedeelte, na-produksie is ’n klein gedeelte, draaiboek skryf is ’n gedeelte; akteurs is ’n gedeelte; hotelle en kos. Die kos alleen – jy moet vir die ouens twee maal ’n dag kos gee en tussenin koeldrank, koffie ensovoorts gee – dit in sigself is ’n groot deel van die begroting. Dus word dit maar versprei tussen ’n klomp goed.

  1. Wat maak die besigheid anders as jou kompetisie? Dit mag klink na ’n moeilike vraag want jy het ’n doelwit, jy praat van Christen flieks in Amerika. Jy kompeteer basies met ander Christen flieks, is ek reg?

Nie net met Christen flieks nie, ek kompeteer teen alles.

Dit is kyk tyd, nè? Daardie oë tyd.

Dit is so. Wat ek agtergekom het, is – ek sê ons behoefte is befondsing – eintlik is ons behoefte nie befondsing nie, maar goeie bemarking en ’n verspreiding strategie want, as ek wil hê jy moet my fliek kyk, moet ek jou oortuig om twee ure van jou lewe stil te sit en niks anders te doen nie en na my fliek te kyk. Dit is baie makliker om $10 of ’n R100 uit iemand uit te kry as wat dit is om twee ure by iemand te kry.

‘n Paar jaar gelede sou dit anders gewees het maar in vandag se lewe weet ons dat tyd is die belangrikste en die moeilikste om af te staan. Ja, ons kompeteer in ’n mate met ander Christen flieks maar ek dink ek werk meer op ’n stimulasie tipe ding, naamlik, hoe beter Christen flieks is, hoe meer sal mense na my Christen flieks kyk en hoe swakker Christen flieks is, hoe minder sal mense na my flieks kyk. Dit is hoe die industrie werk en ons het dit gesien oor die tien laaste jaar. In die die jare waarin daar swak flieks gemaak was, sukkel ons met ons flieks maar sodra daar goeie flieks is dan doen ons flieks ook beter maar ons kompeteer vir tyd.

Daardie tyd word opgevul met rugby, sokker, krieket, tennis, flieks, televisie reekse, ander tipes van vermaak. Goed soos fiksheid, fietsry, familie tyd. Dit is ’n ontsettende moeilike tyd in die wêreldgeskiedenis om iemand, of ’n familie, te kry om twee ure saam te kyk. Dan praat ek nie eers van programme by die kerk nie.

Ons is tot ’n groot mate afhanklik daarvan dat kerke inkoop in ons flieks en die strategie van ons flieks.Die nuwe fliek gaan oor hoe om jou doel in jou lewe te ontdek en ons wil hê die kerke moet deel raak van die wêreldwye veldtog sodat jonk en oud begin uitvind wat is hul doel in die lewe en dit nastreef. Terselfdertyd het elke kerk sy eie strategie en sy eie goed waarmee die kerk besig is en dit raak net baie moeiliker om mense te kry om stil te sit en ’n fliek te kyk.

Dus is die kompetisie daarvoor groot maar die manier hoe ek dit sien is dat ek moet met iets unieks vorendag kom. Ek moet, eerstens, kom met ’n behoefte wat bestaan soos dat ek glo daar is ’n groot behoefte vir mense wêreldwyd om uit te vind wat is hulle doel in die lewe en daardie gedeelte bemark ek baie sterk en dan, tweedens, elke fliek wat ek maak moet beter en beter word. Andersins, gaan mense nie daardie twee ure daarvoor spandeer nie en dus moet dit vermaaklik wees. Ek moet sorg dat mense kan lag, kan huil en dat daar baie aksie is. Hulle moet ook geïnspireerd voel en dan moet ek sorg dat wanneer hulle daardie twee ure bestee dat hulle werklik voel dat daar was iets dieper in die fliek as blote vermaaklikheid.

Natuurlik is my grootste kompetisie in die film vervaardiging industrie Amerika. Dit is ook my grootste mark so ek wil graag hê die Amerikaners moet my flieks kyk en daarom maak ek Engelse flieks en nie Afrikaanse flieks nie. Dus kompeteer ek met Amerikaners en dit is baie moeilik maar ek dink ek het dit, veral in die nuwe fliek, omgedraai in ’n groot positief omdat ek in Afrika bly en dit juis in hierdie fliek gebruik. Ons het drie Amerikaanse akteurs in die fliek en dit begin in New York en dit gaan oor ’n meisie wat ’n Broadway aktrise wil word maar sy het grootgeword op ’n wildsplaas in Suid-Afrika en haar pa wil graag hê sy moet met haar verloofde trou in Suid-Afrika – wat deur Hans Winckler gespeel word – en 80% van die fliek speel af in die bosveld en daar is goed soos leeus wat gevaarlik is en renoster stropers. Ons skiet ’n paar ouens dood, ons baklei met ’n paar ouens ‑ so baie spanning.

Ek beeld die romantiese mooi gedeelte van Afrika saam met New York en hoop ons kry dit reg omdat ek uniek is in daardie mark omdat ek in Afrika bly. As ek in Amerika was, sou ek een van ’n klomp mense gewees het. So ek hoop dit gaan vir ons in hierdie fliek ’n positief wees.

Ek wil nou weer terugkom na jou kommersiële model, ek kan myself nie help nie. Een van die goed wat ek nou al met al my onderhoude die afgelope jaar plus besef is duidelik dat Suid-Afrikaanse toerisme nog onder ontgin is. Ek het naïef gedink in die eerste paar jaar dat dit een van die eerste dinge was wat ons reggekry het in die land en dit is seker al gemelk van alle kante af maar blykbaar nie!

As jy nou daardie Afrika “angle” gebruik is daar dan regering investering? Kan hulle dit as deel van hulle toerisme bemarkings uitgawe sien? Of raak hulle nie betrokke met so iets nie? Is dit bloot net ’n belasting toegewing?

Ja, dit is ’n belasting toegewing. Ek dink dit is beide. Eerstens ’n belasting toegewing en die tweede een is die 30% korting wat ons kan kry. Ons het nou ’n bietjie vasgehaak met hierdie spesifieke fliek en ons is nog besig om te gesels want op ’n tegniese aspek het hulle ons aan ’n lyntjie gehou. Ek dink hulle het so ’n bietjie vir tyd gespeel en hopelik kan ons dit uitsorteer maar oor die algemeen is die regering baie positief teenoor fliek maak. Hulle besef dit bring biljoene rande per jaar in Suid-Afrika in.

Dit is dus baie goed en as jy in die Kaap bly en jy ry bietjie rond sal jy agterkom dat op enige tyd gedurende die jaar is daar ten minste vyf groot oorsese flieks wat hier afneem en twee of drie groot oorsese televisie reekse. Daar is honderde televisie advertensie wat elke dag afgeneem word en dit is net oorsese produksies. Die Afrikaanse film industrie het baie mooi gegroei en daar is amper elke dag talle Afrikaanse flieks wat afgeneem word in Suid-Afrika. Dit is lekker om dit te sien en natuurlik in die Kaap kan jy amper enige omgewing afbeeld. Jy kan Europa, Amerika, Suid-Afrika, alles hier afneem.

Die Kaap en die Wes-Kaap veral, doen fantasties! My opinie is dat dit baie te doen het met die feit dat die Wes-Kaapse regering baie effektief is maar die Kaap lyk elke dag mooier en beter. Ek werk in die stad en ek kan die vibe voel en dit is rêrig fantasties! Dit is ’n positiewe energieke mark en dit voel of mense vorentoe beweeg in plaas van om vas te sit in die verlede. Daar is baie minder rassisme tussen mense. Ek spot my vriende hier en sê, “die Kaap is fantasties, die enigste ding wat hulle nie kan doen nie, is rugby speel!”

Amen, amen!

Dit is nou omdat ons twee uit die Vrystaat kom, nè!

Ja, nee. My skoonfamilie is harde Stormer ondersteuners so jy kan dink aan die konflik oor die jare!

Sê vir my Frans, die laaste ding wat ek wil weet oor die kompetisie is, jy het genoem dat as die ander flieks goeie kwaliteit is dan doen jou flieks beter. Ek onthou verlede jaar het ek een aand op my Showmaxgekyk na Kwêla en toe sit daar ’n bekende Afrikaanse filmmaker, ek gaan nie sy naam noem nie, maar ’n bekende ou. Ek het gedink hy het ’n dom ding gesê en nou wil ek hoor wat jy daarvan dink. Hulle het vir hom gevra hoe voel hy oor al die Afrikaanse films wat so op pop en toe sê hy hou nie daarvan nie, want dit is meer kompetisie en die koek is net so groot. My eerste gedagte was dat kompetisie lig die spel. Die ouens wat goed is, gaan beter doen. ja, die koek is kleiner, maar die kwaliteit van die ouens wat daai koek gaan opgebruik verbeter en dit is goed vir die kyker. Hoe voel jy daaroor?

Ja, definitief! Ek weet nou nie in die konteks van wat hy daar probeer sê het nie, maar wat ek altyd sê is, ek dink nie ons het nodig om meer Christen flieks te maak nie. Ek is ’n Christen fliekmaker en ek dink nie ons het nodig om meer en meer Christen flieks te maak nie. Ek dink ons het nodig dat die kwaliteit beter en beter word. Dit is baie goed om kompetisie te hê. Hoe meer flieks gemaak word, hoe beter maar dit moet goeie flieks wees. As gevolg van die tegnologie wat vandag bestaan om goedkoper flieks te maak is daar ’n klomp ouens wat flieks maak en hulle skeep af op die begroting en die kwaliteit.

Daar was ’n tyd gewees, so vyf jaar gelede, wat daar ’n oorvloed van Christen flieks was uit Amerika uit en dit was baie swak gedoen. Ongelukkig, omdat dit swak gedoen was, het dit ons benadeel. In die laaste drie jaar of so het dit omgedraai en nou skielik is daar groter begroting Christen flieks en sit hulle sommer A-lys akteurs in Christen flieks in.

As jy byvoorbeeld kyk na Mel Gibson se fliek “Hacksaw Ridge”. Dit is nie ’n tradisionele Christen fliek nie, maar dit is ’n “full on” Christen fliek. Ek dink Mel Gibson is baie ongelukkig om nie die Academy toekenning vir beste film te gewen het nie. Ek dink dit is omdat daar baie ouens in Hollywood is wat nog ’n bietjie teen hom is en die Christen waardes van die fliek,daarom dat hy dit nie gewen het nie, maar hy het dit verdien en ja, dit is ’n Christen fliek. Ek dink daardie tipe van flieks, hoe meer van hulle gemaak word, hoe beter gaan dit wees vir my en dit is dieselfde met die Suid-Afrikaanse industrie. Wanneer die ouens goeie flieks maak kan jy maar baie maak want jy moet juis genoeg maak om die mark te stimuleer. Jy kan nie net een maal per jaar ’n Afrikaanse fliek maak nie, want dan gaan daar nie ’n industrie wees nie. Jy moet gereeld flieks maak.

Ongelukkig is dit seker maar soos die lewe werk, daar gaan party goeie flieks wees en party nie so goed nie.

  1. Wat is die belangrikste besigheidsles wat jy tot dusvêr geleer het?

Al hierdie gryshare kan elkeen vir jou ’n belangrike besigheidsles gee! Kom ons vat een. Ek dink die belangrikste een is juis dit wat ek vroeër genoem het, naamlik, voordat ek ’n belegger se geld vat en die fliek begin maak moet ek werklik ’n verspreiding plan in plek te hê sodat dit nie ’n miskien is nie. Jy moet klaar weet hoe gaan jy by die teikenmark uitkom en ek dink dit is ’n belangrike een.

Daarmee saam is dit in my industrie belangrik om befondsing te hê en wanneer jy kontrakte geteken het vir die befondsing steeds te wag totdat die geld werklik in die bank is voordat jy die fliek begin maak. Ek het daardie les baie hard geleer met die tweede fliek wat ons gemaak het. Ons het die fliek gemaak gebaseer op twee vaste kontrakte in Hollywood en in Suid-Afrika en daar was ’n derde een uit Engeland ook en toe die resessie kom, halfpad deur daardie produksie is die geld skielik nie beskikbaar nie en toe het ons al klaar aan die gang gespring. Wag maar vir die geld om eers in die bank te kom.

  1. Wat dink jy kan jy nog beter doen in die besigheid?

Ek dink ’n mens moet elke dag beter raak en groei en ek het soveel van my sportlesse wat ek toepas in fliek maak. Ons het altyd, toe ek nog krieket gespeel het, gesê dat as jy nie na elke oefening voel jy is nou ’n beter krieketspeler nie, hoekom oefen jy? Jy wil fikser raak, jou 100 meter tyd verbeter of jou 4 kilometer tyd verbeter. Dit is dieselfde met fliek maak. Ek doen my eie regie, ek skryf my eie goed en ek vervaardig my eie goed en dus wil ek heeltyd ’n beter skrywer word. Ek werk daaraan. Ek wil heeltyd ’n beter regisseur word en ’n groot gedeelte van regie en vervaardiging is mense. Dus moet ek die hele tyd seker maak dat my mense kundigheid verbeter:hoe kommunikeer ek met mense; hoe luister ek na mense; hoe inspireer ek mense. Dit is alles baie belangrik.

As jy op ’n praktiese vlak kyk na ons flieks, dink ek die volgende stap vir my is om werklikwaar ’n baie groot sprong in begroting te gaan. Tot dusvêr was die flieks honderd persent Suid-Afrikaans alhoewel ek dit maak vir ’n wêreldwye mark. Die wêreldwye mark geniet dit maar omdat ons nie A-lys akteurs het nie is daar altyd ’n perk in hoeveel die ouens wêreldwyd bereid is om jou fliek te vat maar met die volgende een wil ek dit so groot doen met sulke groot naam akteurs dat dit ’n volwaardige teater vrystelling ook in Amerika sal wees. Ek wil hê dit moet so goed soos Gladiator of Braveheart of enige van daardie flieks doen. Om dit reg te kry is daar ’n hele klomp goed wat ons sal moet doen.

Ek glo ek is gereed daarvoor en reg om daardie volgende sprong te neem. Dit sal steeds ’n “proudly South African” fliek wees want ons wil dit steeds in Kaapstad afneem. Ons gaan net hierdie keer ’n paar groot naam oorsese akteurs ook insluit.

Dit is baie opwindend nè? Julle het baie “scope”. Aan die een kant is daar die tegnologiese ontwikkeling vanuit ’n distribusie model oogpunt en dan, natuurlik, die werkswyse wat jy toepas in die fliek.

Ja.

Jy praat nou van ’n groter begroting. Is daar ’n drastiese sprong in, soos om van ’n GP II te spring na Formula I toe? Dit is die naaste aan Formule I maar dit is ’n massiewe sprong. Of sal ek sê, enige iets van ’n tweede span na ’n eerste span. Jy het nou ’n groter begroting, so is daar ’n drastiese sprong in terme van die vermoë en vaardighede wat jy moet hê of is dryf die akteur maar basies die kostes op?

Ja, ek verwag nie dat die sprong drasties gaan wees nie. Ek het nou vyf flieks gemaak waarvan vier van hulle onder R10 miljoen gekos het. Die fliek wat ons oor Hansie gemaak het, het bykans R40 miljoen gekos en heelwat duurder omdat ons in drie kontinente moes afneem en in tien stede en dus was dit ’n baie groter produksie gewees. Maar in daardie vyf flieks het ek agtergekom dat, hoe groter jou begroting is, hoe makliker raak dit om die fliek te maak. Alhoewel dit tegnies meer aspekte het, wanneer jy ’n ordentlike begroting het en jy meer bemanning en groter akteurs het, dan hoef jy minder te “multi-task”. Jy kry net heeltyd die regte mense in en bestuur hulle.

Dit is nie noodwendig moeiliker om ’n fliek te maak vir R7 miljoen versus $20 miljoen nie, inteendeel, ek sal hopelik vir jou kan sê as ek klaar die fliek gemaak het vir $20 miljoen, maar ek vermoed dit is makliker om ’n fliek te maak met $20 miljoen as wat dit is met R7 miljoen.

As ek vir jou die voorbeelde noem, net in die laaste veertien maande, van hoe min ek en my onmiddellike span geslaap het, hoeveel ons moes doen want ek doen rêrig omtrent sewe mense se werk. Die mense om my doen almal ook meer as een persoon se werk en uiteindelik met daardie min slaap en stres – want jy moet binne ’n sekere tyd klaarkry want geld vat jou net soveel maande vorentoe – daardie stres wat jy deurgaan om dit gedoen te kry haal jou later in. Jy kan dit nie volhou vir altyd nie.

Ek hoor jou! So julle kou die klippe! Of julle het klaar die klippe gekou want, soos jy sê, van hier bring jy die kenners in met daardie ekstra geld.

Ja, nee, die klippe is al klein klippertjies!

Daarsy, aanhouer wen!

  1. Wat is jou raad vir Klipkouers om nuwe geleenthede te identifiseer?

My groot passieen waaroor hierdie hele jaar gaan, 2017, persoonlik en vir my span, gaan oor hoe om mense te help om te ontdek wat hul lewensdoel is. So ek dink jou eerste stap is om te weet wie jy is en waar jy behoort.

Ons is besig om ’n boek te skryf genaamd “In which jungle do I belong?” Dit is ’n baie groot vraag wêreldwyd – een van identiteit – wie is ek en waar behoort ek?

Ek en jy kom altwee uit die Vrystaat uit. Ons is altwee trotse Afrikaners maar nie een van ons bly nog in die Vrystaat nie. Jy bly in Engeland en ek bly in die Kaap. Ek het verlede week teruggekom uit Amerika en agtergekom dat ek maklik daar ook sal kan bly. Dit maak my nie minder trots as ’n Afrikaner of ’n Suid-Afrikaner nie, maar dit gaan alles oor “wie is ek? Waar moet ek wees om my lewensdoel te verwesenlik?”

Ek dink ook, eerstens is ek ’n “citizen of the kingdom of God, not necessarily the Republic of South Africa.” Dit is belangrik en elkeen van ons moet dit vir onsself antwoord. Weet eers wie jy is en waar jy behoort en van daar kyk jy na die geleenthede wat vir jou beskikbaar is. Ek verkies altyd om doel gedrewe te leef en besluite te maak eerder as om geleentheid gedrewe te wees. As jy geleentheid gedrewe is en geld is jou motivering dan dink ek nie jy gaan dieselfde geluk en bevrediging daarinervaardat jy doen wat jy veronderstel is om te doen nie.

Dit is, natuurlik, ’n paadjie wat baie geloof nodig het want as jy daar wegspring en jy het nog nie die geld nie, maar net die geloof dat dit is wat jy moet doen, dan kan dit ’n bietjie skrikwekkend lyk en lyk asof daar baie struikelblokke in die pad is en baie maal is daar groot reuse ook voor ons. So dit kos geloof maar ek dink, weereens, maar die klippe kou en deur daardie eerste paar jare gaan. Met tye is jy in die woestyn en met tye is jy in die wildernis en diep water maar jy moet net aanhou as jy glo dat dit is waar jy moet wees. Soos Jesus gesê het, jy moenie agter jou kyk nie. As jy die pad begin stap, kyk voor jou, moet nie terugkyk nie.

Angus Buchan het eendag vir my gesê, so ’n paar dae voor ons Faith like Potatoes afgeneem het en nog nul rand in ons bankrekening gehad het. Ons het ’n R10 miljoen begroting gehad en twee dae voor ons afneem het ons nul rand in die bank. Toe sê ek vir hom, “Angus moet ons stop en eers die fliek “pause”?” Toe sê hy vir my, “No Boet, if you look behind you you will see the boat has already sunk. Keep walking.”

En dit is so. As jy op die waterloop moet jy net aanhou loop. Jy moet nie terugkyk of afkyk nie, want dan gaan jy sink. Die wonderlike ding is dat as jy sink, trek Jesus jou uit en dan kan jy maar weer later loop maar dit is makliker as jy net aanhou loop.

Ek hou baie daarvan!

Sê vir my Frans, hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Die maklikste is seker maar deur my webwerf: franscronje.tv of my e-posadres is fcronje@mac.com

Frans, verskriklik dankie vir jou tyd. Dit was so lekker en insiggewend om met jou te gesels. Dit is nie aldag dat ’n mens ’n bietjie agter die skerms kan ingaan van die film industrie nie. Ek sal nog lank met jou kan gesels. Alle sukses met die opkomende fliek. Ek glo dit gaan ’n groot sukses wees.

Baie dankie, Jacques. Dit was wonderlik om met jou te gesels. Ek is mal oor jou konsep en ek dink jy doen goeie werk en hou maar aan om daai klippies te kou aan daardie kant.

NB! Indien jy verlede week deel 1 van my onderhoud met Frans Cronjé gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

In Klipkouerwêreld is onmoontlik maklik. Hier pak ons die bul by die horings en voeg waarde toe aan almal met wie ons in aanraking kom.

Klipkouers Potgooi is gestig om jou te help om jou aspirasies te realiseer ten einde waarde toe te voeg.

Dalk weet jy nie waar om te begin of hoe om vorentoe te beweeg nie. Dit is waar Klipkouers jou 'n hupstoot gaan gee om die wiel aan die rol te sit.

Elke week gesels ek, Jacques Basson, met suksesvolle Afrikaner entrepreneurs en impakmakers wêreldwyd en vra ek hulle dieselfde vrae – alles vrae om jou te help om jou besigheid of omstandighede te verbeter.
 
Onthou...Aanhouer wen!
close-link
Back To Top