skip to Main Content

As jy verlede week se eerste deel van my onderhoud met Brand Pretorius gemis het, gaan luister asseblief. Hierdie week is dit deel 2. Brand Pretorius is seker een van die grootste Afrikaner korporatiewe besigheidsikone. Hy is die afgetrede, voormalige hoof uitvoerende beampte van McCarthy wat die grootste motorhandelaar in Suid-Afrika is met baie handelsmerke en dit was fassinerend om meer te leer oor die motor industrie en die spesifieke uitdagings wat daar is.

Hiermee dan deel 2 van my onderhoud met Brand Pretorius.

Brand jy praat van diversifikasie en toe dink ek aan die 32 handelsmerke wat die McCarthy groep bemark. Ek neem aan dat daar is ’n elemente en, natuurlik, jou onderliggende sisteme is in elk geval daar, ongeag. Ek dink byvoorbeeld aan ’n supermark nè? Daar is Pick ’n Pay, maak nie saak wat op die rak is nie en dit kos nie meer om ’n ekstra produk op die rak te sit, per se. Is daar in die 32 handelsmerke elemente van diversifikasie? Dit voel vir my dat, soos jy gepraat het van die koste van daai toonlokaal op te sit, die huur en daai tipe van goed, kan jy net meer uitbrei op die diversifikasie punte en die feit daar 32 handelsmerke is?

Ek dink jou punt is baie geldig in die sin dat ’n mens kan jou aandag verdun deur te veel klem te plaas soos in die geval van McCarthy, of van die kleiner agentskappe – kom ons wees maar openlik daaroor – McCarthy Toyota en die opbrengs op kapitaal wat McCarthy Toyota aan aandeelhouers gee teenoor die opbrengs van die McCarthy Peugeot. Die McCarthy filosofie was dat ons ons risiko moet verskans want, soos ek gesê het, is die nuwe motormark baie mode sensitief en dus as ’n vervaardiger soos Ford met ’n nuwe model soos die Ranger vorendag kom, kan daardie vervaardiger sy markaandeel betekenisvol verhoog oor ’n aantal maande.

McCarthy se besigheids benadering destyds was, kom ons belê in ’n verskeidenheid van agentskappe sodat ons al hierdie nuwe model golwe suksesvol kan ry. Daar was ’n tweede motief en dit was dat van die vervaardigers het McCarthy se groei beperk en dus, in die geval van Toyota het ons 20% van alle Toyotas verkoop en toe sê Toyota ons gaan julle nie toelaat om meer Toyota handelaarskappe te koop nie, want die stert gaan die hond swaai.

Maar om terug te kom na die fundamentele punt – ek was persoonlik aandadig daaraan – dat McCarthy se nuwe voertuig agentskap model was om te gediversifiseer en dalk sou ons beter gedoen het deur meer fokus te plaas op die hoë volume, meer suksesvolle en gevestigde agentskappe. Ek keer terug na die sakebeginsel van gekonsentreerde energie en fokus as ’n kritiese sukses faktor.

Dit is baie interessant en laat my dink, okay, dit is natuurlik duidelik dat Toyota ’n lat vir hul eie boude gepluk het daardie tyd maar ek verstaan ook uit ’n besigheidperspektief jy wil nie een kliënt het wat 20%, 25% of 30% van jou besigheid verteenwoordig as iets verkeerd loop nie. Dus kan ’n mens jouself in hul skoene plaas maar as ek kyk na die 32 handelsmerke dan laat dit my dink aan my Coca Cola jare. Jy het ’n klein dorpie gehad en die boer het die Spar aan die linkerkant van die pad gekoop en dan het hy die OK Foods aan die regterkant van die pad ook besit en so basies die mark toegemaak vir enige ander supermark of kafee.

Dus laat dié strategie my daaraan dink. Daar is verskansing maar nie rêrig ’n geleentheid en ’n gaping vir ander ouens om die mark te betree nie.

Ja, in die motorhandel is dit in ’n mate waar omdat die sakemodel gebaseer is op ’n klein wins marge en hoë volumes. Ons het oor die afgelope10 – 15 jaar in die motor kleinhandel in Suid-Afrika baie konsolidasie gesien waar daar minder handelaars is. Die handelaar is ook baie groter en hopelik beter. In plattelandse gebiede is daar ’n hoë mate van multi-agentskap met gedeelde werkswinkel en diens fasiliteite en dit word alles gedoen nie om die kliënt uit te buit nie, maar om die sake model te laat werk. So in baie van die kleiner plattelandse areas is daar een of twee eienaars wat die hele dorp se motormark beheer as gevolg van daardie redes.

  1. As jy terugkyk op jou loopbaan en, natuurlik, jy is op die direksie van ’n paar maatskappye en sien seker interessante goed wat aan die gebeur is, wat dink jy kan die besighede beter doen? Wat dink jy oor die algemeen in Suid-Afrika ‑ en jy het weer ’n fassinerende punt met die opkomende swart middelklas genoem en kliënte diens wat krities is – kan die ouens beter doen, veral in die motor industrie en die ouens met wie jy betrokke is tans?

Ek dink die eerste aspek is dat ons almal beter kan doen in terme van strategiese beplanning. Baie besighede sluit hul oë vir verandering en is huiwerig om hulle strategieë aan te pas by ’n nuwe wêreld. Hulle beweeg nie vinnig genoeg nie. Daar is nie genoeg aanpasbaarheid nie – aanpasbaarheid ten opsigte van ’n verandering in kliënte behoeftes, ten opsigte van die impak van tegnologie.

My eerste brokkie raad aan besighede, spesifiek in Suid-Afrika is, hou jou radarskerm die hele tyd aan en maak seker dat jy nie nuwe tendense miskyk nie, want jou besigheid kan oornag verouderd en irrelevant raak. Party besighede in Suid-Afrika, omdat dit so ’n skommelende omgewing is, het eienaars amper ’n fatalistiese benadering en ek wil daarteen waarsku. Behou jou strategiese ingesteldheid van wat in die mark gebeur en pas vinnig aan.

Die tweede ding wat ek waarneem deur my betrokkenheid by ’n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse besighede is, ons onder belê in die ontwikkeling van mensekapitaal. Ons onderskat die potensiaal van ons mense en daar is ’n onwilligheid om ’n groot belegging te maak in die vaardighede van ons mense en die verbreding van hulle kennis. So my raad is, maak ’n disproporsionele belegging in jou mensekapitaal. Mense wat toegerus is met die regte vaardighede kan vir jou die sterkste mededinging voordeel gee.

Laastens net ’n kort opmerking en dit is om inpas te bly met tegnologie. Ons is in die vierde industriële revolusie wat besig is om plaas te vind en geen entrepreneur en geen stigter sakeman kan bekostig om die impak van tegnologie en dinge soos sosiale media te onderskat nie. Die belangrikheid van digitale bemarking of veel-kanaal bemarking moet ’n mens op hoogte van bly. Die sake omgewing word dramaties beïnvloed deur tegnologie en besighede moet tegnologie aanwend tot die voordeel van kliënte en aandeelhouers.

Ek wil net aansluit by die mense, want dit is ’n belangrike punt wat jy maak, wat is jou gevoel oor die opleiding self. Ek kry die idee dat in die Suid-Afrikaanse mark die privaat sektor en die universiteite nog verder uitmekaar uit beweeg en ek wil vinger wys vir iemand maar aan die een kant sien ek dat universiteite pas nie aan nie. Dit is soos ’n worsmasjien wat net hierdie grade uitpomp wat nie rêrig veel beteken nie. Die kandidate is nie regtig voorbereid vir die werksplek nie. Maar terselfdertyd sien ek ook nie hoe die privaat sektor enigsins nader beweeg aan die universiteite om te sê, luister dit is wat ons benodig maak seker dat julle jul graad en kursus aanpas.

Wat is jou gevoel daaroor?

My mening is dat, in die eerste plek moet ons as die sake gemeenskap die realiteit aanvaar dat die kwaliteit van ons onderwys – die funksionele doeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel produseer op die oomblik matrikulante wat, in sommige gevalle, nog nie ten volle geletterd is nie. So, ons kan daaroor kla en natuurlik, ons het rede om te kla en ons moet doen wat ons kan om die regering te beïnvloed om dit te verander en te verbeter maar ons moet self die verantwoordelikheid aanvaar om ons mense met die regte kennis en vaardighede toe te rus.

Dit is ’n baie breë onderwerp en ons skakeling met tersiêre instellings, universiteite en sakeskole, kan verbeter maar persoonlik, Jacques, dink ek nie dat dit die groot probleem is nie. Ek dink dit is meer ’n kwessie van ingesteldheid om te sê ons mense is nie ’n uitgawe nie.As ons belê in hulle opleiding kan ons ’n disproporsionele opbrengs kry op daardie belegging en ons moet hulle toerus met praktiese vaardighede wat hulle elke dag kan toepas.

Om net een voorbeeld hier te noem, ek sien in sommige van die besighede waarin ek betrokke is, ’n dramatiese positiewe uitwerking van leierskap afrigting, mentorskap waar ons mense in die maatskappy aanmoedig. Senior mense wat goed toegerus is met al die kennis en vaardighede op ’n gestruktureerde manier, hul kennis en vaardighede deel met opkomende jong bestuurders. Ek sien die groot impak van leerlingskappe (internships). Die gereedskap is daar maar dit is die ingesteldheid wat partykeer nie korrek is nie.

Dit is deel van die hele transformasie noodsaaklikheid jn die ontwikkeling van mensekapitaal. Ons spandeer baie maklik op bemarking en promosies maar is huiwerig om geld te spandeer aan opleiding en ontwikkeling. Ek sê dit maak ’n enorme verskil aan besigheid as die vaardighede kennis basis van jou mense reg is vir die eise wat die besigheid en kliënte aan hulle stel.

Dit is so ’n belangrike punt en dit is vir my duidelik, soos jy vroeër gesê het en ek het twee gedagtes daaroor – nommer een die ouens is nie bereid om die geld te spandeer nie wat vir my sê die maatskappye verstaan nie wat die koste daaraan verbonde is om nié daai geld te spandeer nie. Ek dink nie hulle verstaan werklik wat dit kos om daai kliënt te verloor nie, of dalk weet hulle dit maar koppel dit glad nie aan die vermoëns en die opleiding van hulle personeel nie. Maar, nommer twee en in dieselfde asem – jy het vroeër gepraat van daardie strategiese beplanning, naamlik om nie kortsigtig te wees maar te werk met ’n plan ‑ kyk na die groot prentjie en vooruit – klink vir my daar is nié ’n plan nie. Hulle verstaan nie wat die investering in hul personeel beteken vir die winsgewendheid van die besigheid nie en daar is geen strategie en plan om daai ding vorentoe te dryf.

Ja, dit bring ’n mens by ’n kern aspek naamlik die kwaliteit van leierskap. Dit is iets waaroor ek baie sterk voel en ek is seker jy het al die gesegde gehoor “everything rises and falls on leadership.” So leierskap is die bepalende faktor en vir enige besigheid, klein of groot, om volhoubare sukses te behaal moet daar kwaliteit leierskap wees.

Leiers wat –

  • visie het;
  • die regte beginsels en waardes het;
  • strategies dink;
  • kan innoveer;
  • vinnig kan beweeg;
  • hul mense ontwikkel;
  • ’n prestasie kultuur in hul besighede skep;
  • kundig is wanneer dit kom by ontwikkeling en finansiële bestuur; en
  • die voorbeeld stel oor hoe hulle omgee vir hul kliënte.

Die sukses sleutel faktor is die kwaliteit van leierskap en waar besighede onderstebo val kan ’n mens maar altyd gaan kyk en dikwels is gebrekkige leierskap die hoof oorsaak.

  1. Jy het belangrike punte aangeraak soos gebrek aan leierskap, te min investering in mensekapitaal, gebrek aan opleiding ensovoorts. So wat is histories ’n groot pyn in die besigheid of selfs nou nog?

Ek wil nie veralgemeen nie, maar partykeer ‑ of jy ’n groot besigheid bestuur of ’n klein besigheid en of jy nou ’n entrepreneur is of ’n korporatiewe bestuurder ‑ weier ons om die realiteit van verandering in die oë te staar. Ons klou vas aan die verlede en die status quo en uiteindelik kos dit die besigheid baie, baie duur.

Die punt wat ek vroeër gemaak het, is dat jy ’n baie sensitiewe radarskerm moet hê sodat jy vinnig nuwe tendense kan optel en met spoed kan beweeg om aan te pas.Terselfdertyd moet jy ’n stewige anker hê, ’n kompas wat vir jou bemoedig om uit ’n beginsel en waarde oogpunt die regte dinge te doen.

Ek sal dus opsom deur te sê die persoonlike uitdaging wanneer ’n mens besigheid bestuur is om altyd die regte ding te doen uit ’n strategiese en uit ’n beginsel waarde oogpunt en dan om daardie regte ding tot praktiese uitvoering te bring.

As jy praat van die grootste pyn wat ek ervaar het in besigheid in die verlede en ook nog vandag, is dit dat mense praat goed maar wanneer dit kom by die uitvoering en om die werk gedoen te kry, om die belofte na te kom, dan val dit baiekeer plat. Die vaardigheid van doeltreffende uitvoering eerder as om net oor goeters te praat en te filosofeer.Baie besighede beland in groot moeilikheid as gevolg van ’n tekort aan uitvoerings vaardigheid: om woorde in aksie om te skakel en om ’n visie te implementeer; om doelwitte te bereik. Jy het daardie vaardigheid nodig sodat jy dinge gedoen kry.

As ons kyk na die Suid-Afrikaanse regering en na hulle wonderlike planne soos die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Nege Punt Plan en die Industriële Beleid ensovoorts, is daar nie ’n tekort aan planne nie, maar daar is ’n tekort aan vermoë om die planne ’n werklikheid te maak en prakties uit te voer.

Weereens ’n kragtige punt, Brand. Jy het gepraat van die vierde industriële rewolusie, hierdie “wave” wat deurkom of, die “information age” waarin ons is. Ek sê altyd vir ouens dat ons onthou 100 jaar gelede of 50 jaar terug het ons gesê “knowledge is power” maar nou met die internet het ons nie ’n tekort aan inligting nie.Dit is orals maar dit is wat jy doen met daai inligting en hoe jy dit toepas.

Ja, ek dink die vermoë om op jou voete te dink as ’n entrepreneur en sakeman en om die vermoë om skeppend op te tree met nuwe, innoverende oplossings gaan toenemend meer belangrik word. Die hele tempo van verandering gaan nie afneem nie, maar dit gaan versnel.

Ek is seker Jacques dat jy meer op hoogte is met die “internet of things” en net die impak van byvoorbeeld slimfone op die manier van besigheid doen. Miljarde mense wat gekonnekteer is en wat ’n instrument, ’n slimfoon, in die hand vashou wat amper onbeperkte verwerking kapasiteit het.Dit is sulke tipe van goed wat besigheid onherroeplik verander en waarteen ons moet waak as ons sê ons wil hê ons besighede moet volhoubaar suksesvol wees.

  1. Watter ander besighede – ons praat nou van gesondheid in besigheid, hoe om gesond te bly en te groei – verskaffers of wat ook al, het ’n groot inpak op julle sukses gehad? In daardie “supply chain?”

As ek kyk na die kleinhandel motor besigheid is ’n maak of breek vennoot die vennoot wat finansiering verskaf want in die nuwe voertuig mark en, as gevolg van die swak wisselkoers en dalende waarde van die Rand, het motors net progressief al hoe duurder geword in verhouding met besteebare inkomste. Dus as ’n motorhandelaar nie ’n bekostigbare finansiering vennoot of twee het nie, dan kan die besigheid glad nie vooruitgaan nie. As ek terugdink aan my McCarthy ondervinding was ek bevoorreg dat ons het ’n vennootskap gehad met Wesbank en McCarthy het dit vandag nog.

Wesbank se destydse aandeel in die nuwe voertuig motor finansiëring mark in Suid-Afrika was meer as 35% en party maande amper 40% en ek kan verstaan hoekom. Hulle het ’n sterk kliënte oriëntasie. Hulle plaas ’n geweldige hoeveelheid klem op fundamentele mobilisering van tegnologie – hoe hulle die hele proses van aansoek om krediet vereenvoudig, die spoed van goedkeuring, die verwerking van vertroulike kliënte-inligting en die terugvoering na die handelaar. Hulle opleiding van verkoopsmense, die beskikbaarheid van kundiges op die groot toonlokaal vloere, het hulle die voorsprong gegee.Dit was ’n besigheids vennoot wat my baie beïndruk het omdat hulle so ’n progressiewe benadering tot besigheid gehad het en seker steeds het.

  1. Watter ander besigheid of industrie is vir jou interessant of ongewoon op hierdie stadium?

Ek was nou vir 38 jaar voltyds in die motor bedryf betrokke en dit was nie net ’n loopbaan betrokkenheid nie, ek is ’n groot motor entoesias. Dus was my besigheidsfokus primêr op die motor bedryf maar ’n ander sektor waarin ek belangstel maar nie in betrokke is nie, is toerisme. Ek dink Suid-Afrika het soveel om aan te bied. ’n Land soos Frankryk byvoorbeeld se toerisme bydrae tot die Franse bruto binnelandse produk is amper 20% en in ’n land soos Australië is dit net oor die 10% maar in Suid-Afrika is dit nog nie eers 5% nie! Ons het soveel meer wat ons hier kan doen om toerisme na Suid-Afrika te bevorder want ons het oneindig baie om aan te bied en verteenwoordig baie goeie waarde.

Die vermoë van die toerisme sektor in Suid-Afrika om werk te skep is groot en kan derduisende werksgeleenthede skep as almal saamwerk om ons land as ’n toerisme bestemming meer doeltreffend te bemark.Maar Jacques, ek dink ek sal eers in my volgende lewe by die toerisme besigheid uitkom want op die oomblik is daar nie eintlik tyd daarvoor nie.

Wat is jou gunsteling kar, of karre, Brand?

Ek het natuurlik ’n groot lojaliteit teenoor Toyota want hulle het vir my ’n wonderlike geleentheid gegee vir ’n vervullende loopbaan. As ’n motor entoesias is dit Porsche. Ek dink die Porsche handelsmerk verteenwoordig waarvoor ek ook staan naamlik, ’n hoë integriteit handelsmerk, nie vertonerig nie, nie gebaseer op “showmanship” nie, maar dit bied absolute uitstaande kwaliteit in verrigting, hantering, afwerking, veiligheid en is ek dus ’n groot Porsche aanhanger.

Dit is ’n goeie keuse vir ’n kar, verseker!Wat interessant is van die Porsche is dat alhoewel dit ’n fenomenale kar is maar as jy dink aan die 911, het bitter min verander oor die jare wat ook fenomenaal is.Dit het nie’n drastiese ontwerp verandering nie, maar die “performance” is nog daar.

Ja, ek dink hulle is baie konsekwent wat betref posisionering en ontwerp. Om die regte woord te gebruik, ’n motor soos ’n Porsche 911 is ikonies. Vyftig jaar se geskiedenis maar die karakter van die voertuig het nog niks wesenlik verander nie, maar die 911 Carrera van vandag is modern, tegnies gevorderd maar die karakter is nog dieselfde as vyftig jaar terug en gee baie vertroue.

Dit is interessant want dit is een van daai karre wat ikonies is met daai geskiedenis wat jy kan sién en nie net lees in ’n boek nie met 21ste eeuse tegnologie onder die “bonnet”.

Brand ons is nou in die pylvak en ek gaan net so 5 minute gemiddeld neem met die “mens bonus rondte” en dan gaan ek jou laat gaan. Jy is baie vrygewig met jou tyd en dankie, weereens.

  1. Wat is een van jou belangrikste persoonlike doelwitte vir die jaar?

Ek wil nog meer doen binne my invloedsfeer om Suid-Afrika ’n beter plek te maak want ek gee baie om vir my land en ek is ’n bevoorregte oupa van kleinkinders en ek is lief vir my land maar ek sien daar is baie goed wat hier gebeur waarvan ek niks hou nie. Daarom wei ek ten minste ’n derde van my tyd en energie daaraan toe om nasionale diens te lewe met betrokkenheid by onderwys opheffing, by beïnvloeding van die regering deur middel van die sake organisasies waaraan ek behoort.

Dus is my hoof persoonlike doelwit vir die volgende jaar is om nog meer energie daaraan te spandeer om Suid-Afrika ’n beter land te maak vir al sy mense.

Dit is musiek vir die meeste Suid-Afrikaners se ore.

  1. Watter gewoontes dra by tot jou sukses?

Ek het nog altyd ’n oordrewe sin van verantwoordelikheid gehad. My pa en ma het dit by my ingeskerp, die bereidwilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar en ek dink, die tweede ding is, die dissipline om altyd jou bes te doen en om te doen wat jy moet doen wanneer jy dit moet doen al voel jy daarna of nie. Dus sal ek sê as ’n mens bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en jy het ’n toewyding om jou bes te doen en jy konsentreer op jou resultate eerder as op jou ambisies, dan kyk die lewe gewoonlik mooi na jou. Natuurlik, tesame met die genade van Bo wat ’n mens altyd nodig het.

  1. Wat se tegnologie beïndruk jou? Is dit ’n applikasie of programmatuur wat vir jou interessant is daarbuite?

My tegnologiese kennis is beperk maar ek moet sê, elke dag van my lewe trek ek die voordeel uit Google Maps en ek volg die instruksies baie noukeurig. Satelliet navigasie en die akkuraatheid en die gebruikers vriendelikheid daarvan is iets wat ’n groot rol speel in my lewe want ek reis baie en ek is gewoonlik elke dag op pad na een of ander afspraak waar ek in die verlede met ’n padkaart op my skoot gesit het. Nou kom ek vinnig en veilig daar en dit is vir my ’n praktiese toepassing van die tegnologie.

  1. Ek moet nou vir jou hierdie vraag vra want dit sluit so mooi aan by Google Maps. Wat is jou gevoel oor hierdie bestuurderlose karre wat die manne nou ontwikkel en waar Google Maps alreeds ’n integrale deel van vorm?

Ek kan die voordeel daarvan sien met mense wat elke dag moet pendel en druk verkeer en wat 1 uur of 3 ure in ’n motor moet spandeer. As ’n mens ’n motor kan kry wat homself bestuur binne bepaalde omstandighede, kan dit ’n baie positiewe uitwerking he op produktiwiteit en lewenskwaliteit maar as ’n motor entoesias wil ek liewer self bestuur. Ek hou daarvan en dit gee vir my ’n energie inspuiting. Ek is baie lief vir motors en sal ek een van die laaste ouens wees wat in die tou gaan staan vir ’n motor wat homself bestuur.

Ek hoor jou en ek stem een honderd persent saam met jou. Daar is ’n romans elke keer as ek agter die stuurwiel inklim. Iets anders wat gebeur waarvoor ek ook baie lief is.

  1. Wat is die een stukkie raad wat jy jou jonger self sou wou gee?

Ek sou sê moet nooit jou persoonlike potensiaal onderskat nie. Fokus eerder op die talente wat jy het en kapitaliseer daarop. Gebruik jou inisiatief en wat jy ook al aanpak wanneer dit kom by uitdagings en doelwitte, pak dit aan met groter selfvertroue. Ek sê nie wees arrogant nie. Ek sê net, moet nie jou eie potensiaal onderskat nie.

In my loopbaan was ek blootgestel aan situasies wat ek nie gedink het ek ooit sou kon hanteer nie en met die genade van Bo en die hulp van ander mense en deur middel van harde werk en toewyding, het ek in baie gevalle daardeur gekom. Ek sien met jongmense wat laag mik – die grootste gevaar is om té laag te mik en dan te bereik eerder as om te hoog te mik en te mis. Mik liewer hoog, glo in jou eie potensiaal en werk dan om dáárdie potensiaal aktief te ontgin.

  1. Laaste vraag. Watter persoon, dood of lewendig, is vir jou ’n inspirasie?

Ongetwyfeld my ma. Sy het vir my die perfekte voorbeeld gestel in terme van die praktiese uitlewing van Christenskap, haar beginsels en waardes. Sy het nooit posisionele mag ooit gebruik nie. Sy het vier seuns grootgemaak en sy het vir ons liefde, respek en bewondering elke dag gegee en sy het ’n ongelooflike inspirerende voorbeeld gestel. Dus sal sy altyd vir my ’n bron van inspirasie bly.

Brand, verskriklik dankie vir jou tyd en dit was ’n groot voorreg om met jou te kon gesels. Ek kan nog die hele dag lank met jou gesels en ek waardeer regtig jou tyd. Die beste nuus is vir my dat manne soos jy nie gholf speel heeldag nie, maar dat Suid-Afrika nog vir jou belangrik is en dat jy aktief betrokke is agter die skerms. Ek wil dus ook vir jou dankie sê vir die opoffering wat jy maak.

Baie dankie, Jacques. Ek het nog hoop maar ek weet sonder aksie is dit betekenisloos en dus moet ons almal wat omgee vir ons land hande vat en weerstand bied, moed aan die dag lê, omgee en verhoudings bou en voorloop en iewers ’n kers aansteek. As ons dit nie doen nie gaan ons rêrig ons land ’n onreg aandoen. Daar is soveel geleenthede in Suid-Afrika om ’n verskil te maak, elkeen van ons op sy eie manier en dit is tog waaroor die essensie gaan, om wel ’n verskil te maak.

Brand, hoop jy het ’n fantastiese 2017 en ek sal graag weer in die toekoms met jou ’n geselsie wil deurwerk as jy beskikbaar is.

Baie dankie Jacques en seën vir jou in die verre Londen en alles wat mooi is.

NB! Indien jy verlede week deel 1 van my onderhoud met Brand Pretorius gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

Back To Top