skip to Main Content

Hallo Klipkouers. Ek is Kobus Neethling, die president van die Suid-Afrikaanse Kreatiwiteitstigting en ook hoof van die Kobus Neethling Groep. Dit is twee besighede of organisasies wat eintlik so half gelyklopend is. Die stigting se funksies is hoofsaaklik om elke jaar twee wêreldkonferensies te reël oor kreatiwiteit. ’n Besigheidskonferensie wat vanjaar sy 23ste verjaarsdag sal vier en dan een net vir educators, vir mense wat in die onderwys is, en dit sal die twaalfde jaar wees. Dis twee baie unieke konferensies, waar die fokus is op die kreatiewe ontwikkeling van óf besigheidsmense, óf dan mense in die onderwys. Dit is meer die funksie van die SATORI Kreatiwiteitstigting, dan die Kobus Neethling Groep se fokus is hoofsaaklik op opleiding en ontwikkeling – die kreatiewe opleiding van groepe, van besigheidsmense, van sportmanne, vat dit sover jy wil. Ons werk in omtrent vyf-en-veertig lande op die oomblik en ons luister baie spesifiek na wat die kliënt wil hê. As ek in die karrebedryf is en ek wil meer karre verkoop, dan is die kreatiwiteitsontwikkeling natuurlik altyd persoonlik, maar dan ook gerig op “hoe kan ek my brein gebruik, my kreatiwiteit gebruik, om meer karre te verkoop?”. BMW is byvoorbeeld ’n tipiese voorbeeld,met wie ons reeds tien, elf jaar werk en redelike dramatiese verbetering in die verkope gehad het. As dit dan, sê maar, die onderwys is, dan is dit baie sterk “hoe kan ek met my heelbrein onderwys gee?”.

Ek het oor die loop van twintig jaar nà ek gespesialiseer het, seker so 30 plus heelbreininstrumente ontwikkel. Elkeen het sy spesifieke doel. Ek het nou die onderwys genoem en wat ons gevind het is as ’n onderwyser nie die heelbrein verstaan nie, gee die onderwyser net klas uit sy eie dominansies en hy mis omtrent 70% van die kinders in sy klas. So, dit is hoekom ons hierdie geweldige, ek wil amper sê, dikwels onkundigheid kry by kinders en dit het niks met hulle te doen nie. Ek het klomp jare terug die boek, Is ek slim of is ek dom? / Am I cleveror am I stupid? geskrywe, juis met die doel om uit te wys hoe meeste onderwysers nie al die kinders bereik met hulle onderrig nie. So, met ander woorde, dit is ’n fokus dan. Hoe kan ek met my heelbrein onderwys gee?

So het ons programme dan vir leierskap in besighede, vir bestuurders, vir wat ookal. En dan in sport ook. Ons werk dwarsoor die wêreld met internasionale sportspanne. Destyds met die Wêreldbeker het ons vir Jake Whiteal die breinprofiele van die spelers gedoen. Ons het die Protea krieketspan gedoen verlede jaar en dan kan mens baie duidelik sien hoekom sekere spelers nie bereik wat hulle moet bereik nie. Ons werk nou baie intens met AB de Villiers en dit is baie interessant. Selfs ’n superspeler soos hy het ’n baie lae, of swak kwadrant en dit is die kwadrant wat hom altyd kniehalter om nie byvoorbeeld in elke wedstryd ’n honderd te kry nie.

So dit is basies wat ons doen. Ons het te doen met die opheffing van kreatiwiteit in elke mens. Kind en volwassene en in elke kultuur omtrent in die wêreld.

Dit is fassinerend. Welkom Kobus. Vertel die Klipkouers ’n bietjie meer van jou as mens. Gee ons ’n bietjie agtergrond.

Ek woon op die oomblik in Pretoria, maar is ’n Kapenaar. Is daar gebore en grootgeword en het studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Ek is getroud met Inge en ek het twee seuns. Die een is voltyds by ons eie opleidingsorganisasie. Die ander een, die oudste een, Stephan, werk hoofsaaklik in die filmbedryf, die televisiebedryf. Hy skep enmaak televisiereekse. Hy het ’n klomp reekse op die oomblik op kykNET aan die gang. Met ’n huppel in die stapwat Riaan Cruywagen aanbied. Dan het hy een Slank, ’n program Sondagaande wat jou wys hoe jy kan maer word.

Ja, my loopbaan, soos ek gesê het, ek het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Ek het daar ’n paar grade gekry. Ek het my meestersgraad gekry en toe gaan spesialiseer, ’n doktorsgraad gekry by die Universiteit van Potchefstroom, omdat hulle die enigste was daai tyd wat gehad het wat ek wou hê. En toe is ek Amerika toe en ek het gaan spesialiseer aan die Universiteit van Georgia. Die Universiteit van Georgia is in so klein stadjie met die naam van Athens, Georgia, so uur van Atlanta af. Ek wou dadelik ’n post-PhD gaan doen daar, maar toe ek daar kom toe sien ek maar ek weet eintlik te min van kreatiwiteit, die wetenskap, af en toe het ek weer ’n meestersgraad gedoen en toe het ek ’n post-PhD gedoen onder die groot beroemde Paul Torrance, wat bekend was daardie jare as Mr. Creativity of thetwentiethcentury. So ek was geweldig bevoorreg om onder die nommer-een-ou in die wêreld te studeer en hy het vir twintig jaar my mentor gebly. Ek was baie na aan hom vir twintig jaar tot hy so klompie jare gelede oorlede is. Hy het hy ’n massiewe invloed gehad op my kreatiewe denke en die rigting wat ek ingeslaan het.

Hierdie is vir my fassinerend en ek kan die hele dag met jou gesels, Kobus. Jy het klaar begin deur ’n opsomming van jou besigheid te gee, maar ek wil bietjie vir jou ander vrae vra. Ek is nou nuuskierig. Jy het gepraat van Georgia. Ek ken dr. Danie Brink van Helpende Hand en ek weet hy het ook in Georgia, of ek dink Atlanta geswot. Is daar ’n rede hoekom ouens spesifiek in Atlanta oor die jare gaan swot? Is daar ’n konneksie met Suid-Afrikaners, of is dit toevallig?

Daar is baie Suid-Afrikaners wat daar studeer. Kyk dit is werklik ’n besondere universiteit – die Universiteit van Georgia. In Atlanta self het jy die Georgia Tech, die technikon wat ’n beroemde universiteit is en dan die Universiteit van Georgia wat ’n baie groot navorsingsuniversiteit is. Ag, ek weet nie. Ek dink die omgewing pas Suid-Afrikaners ook. Daar is ’n rustiger omgewing.

Ek het ook in New York studeer, ek was ’n tyd lank by Columbia. Ook ’n besondere universiteit, maar ek het baie van Georgia gehou. Die omgewing het my gepas en daar is ’n geweldige hoë standaard by die universiteit. En wat my betrefwas dit die hubvan kreatiwiteit en innovasie het dit regtig presies in die middel gepas van wat ek wou hê.

Baie interessant. Jy het vroëer die voorbeeld van karre genoem. BMW byvoorbeeld, waar julle kyk na die kreatiewe ontwikkeling – dit is industriespesifiek. Ek wil graag ’n bietjie meer uitbrei daarop en dan het jy ook geraak aan, soos byvoorbeeld AB de Villiers wat ’n swakker kwadrant het. Nou ek weet een van die toetse wat julle doen is selfs om negatiewe gedagtes, of patrone, te identifiseer. Kan jy bietjie uitbrei op dit. So hoe lyk hierdie proses? Kom ons vat dan nou maar BMW. Hoe lyk daai kreatiewe ontwikkeling? Wat is daai proses om dan by hierdie produk uit te kom?

Ja, belangrik. Kyk die eerste stap wat ons moet neem is … maak nie saak of ons met ’n kind of ’n volwassene werk nie, hulle moet ’n profiel voor die tyd op die internet doen. En ek het net oor die 30 heelbreininstrumente ontwikkel. Miskien moet ek nou net daaroor vinnig sê: ek het begin deur … jy weet almal in die wêreld daai tyd in die tagtiger jare het met vier kwadrante gewerk, en ek het ook, en daar is baie nog van die vierkwadrantinstrumente, maar ek het later oorgeslaan na die agt dimensies. Ek het net gevind as jy na ’n mens kyk of selfs na ’n besigheid kyk vanuit ’n agtdimensiële hoek dan sien jy baie meer raak. Jy sien ook waar gapings lê. Jy sien ook waar foute lê. As jy kyk na ’n maatskappy en jy wonder “hoekom doen hulle nie wat hulle moet doen nie, hoekom sukkel hulle?”, dan word dit vir jou ’n evalueringsinstrument dat daar êrens in daai agt dimensies ’n swakheid is. So ons kyk eers na die persoon self, na sy breinprofiel. Daar is nie hoë of lae punte nie, maar die vorms lyk anders. Daar is nie goed of sleg nie. So ons kan baie duidelik sien uit hierdie profiele van ons van watter deel van die brein hou jy van, waar kom jou passies en jou energie vandaan en wat is jou lae kwadrant en dit kom dadelik na vore.

Dan wat ons ook doen, en een van die baie ander belangrike instrumente as ons met besighede werk, ons het lankal wegbeweeg van die ou sogenaamde job descriptions. Dit was ’n steriele klomp dokumente. Ek het ’n instrument ontwikkel wat die brein van die job ook kan meet. Met ander woorde, elke job wat jy doen in ’n besigheid het in werklikheid, soek ’n sekere brein input om dit te kan doen. So nou wat interessant is, is dat jy kan nou sien hier is my brein en hier is my job brein. Nou kan jy baie duidelik sien “jissie, maar ek pas baie lekker in hierdie job brein van my in” of “hemel, ek pas glad nie in nie” en dan dui dit vir jou ook aan hoekom het jy nie passie vir sekere dinge van die werk wat jy doen nie. Nouhierdie job instrument het verdere implikasies, want nou kan jy vir studente of leerlinge sê, hier in matriek rond, voor jy gaan besluit wat jy moet studeer, kom ons kyk na jou brein en na wat jy wil studeer. So sê maar jy wil nou ’n argitek word, maar ’n argitek is ’n R1 brein en jou brein is heeltemal L1. Dan vra ons: “wil jy regtig iets doen wat nie met jou brein pas nie?” Want dit gaan beteken jy moet elke dag van jou lewe jou eie brein verlaat en in ’n werkbrein inbeweeg. En dit is hoekom so baie mense hulle passie verloor, hulle hou nie daarvan nie, hulle los die job, ensovoorts. Derduisende universiteite, studente, eerstejaars, gebruik hierdie instrument van ons om begeleiding te kry van watter soort jobshulle brein die beste sal pas. So met ander woorde … In een van die myne waar ons gewerk het, het ons gevind daar is 82 soorte jobs. Nou is dit heerlik vir die toesighouer om vir die persoon te sê “kom ek wys vir jou die brein van jou job en dit is wat ek van jou verwag” in plaas daarvan om hierdie jobdescriptions te gee wat soos ek sê steriel ’n lang dokument is en omtrent niks beteken nie.

So, met ander woorde, dit is die fokus. Die kreatiwiteit sê vir ’n mens voor jy jou kreatiwiteit toepas, waar wil jy presies toepas? Wil jy ’n konflik in jou huis daarmee oplos? Wil jy ’n kar verkoop? Dat jy die by essensie kan uitkom en daarvan af gebruik jy jou heelbrein of jou kreatiwiteit.

Baie kragtig. Okay, ons weet die krag van die toets. Hoe het julle te werk gegaan om hierdie produk te ontwikkel?

Jy vra my nou amper twintig jaar se werk wat ek gedoen het.

Jy het een minuut.

Ja. Ek het eintlik die eerste instrumente onder Torrance gedoen. Die steekproewe was baie groot, eintlik duisende. Jy gee vir mense ’n probleem, dan vra jy vir hulle om net vir jou neer te skryf byvoorbeeld hoe gaan jy die probleem oplos en daaruit het ons hierdie verskillende hoeke gekry wat mense na situasies kyk. Dit is wat ons gedoen het. Daaruit het ons uiteindelik gevind hier is hierdie vier, eerstens die vier uitvalle. Twee dominante kwadrante in die linkerkant van die brein en twee in die regterkant van die brein en ’n klomp jare daarna het ek dit eers begin split in elk van die kwadrante in nog twee.

Kom ek gee jou ’n voorbeeld. Die onderste regterkant van die brein, ek noem dit R2 brein, het twee dimensies. Daai brein is die brein wat as jy sterk is in daai brein is jy baie gemaklik met mense. Jy wil ook in ’n wêreld werk waar jy met mense omring word, jy wil met mense kommunikeer, jy is in daai menswêreld. So jy moet uiteindelik geplaas word in daai wêreld. Maar nou het ek gevind daar is twee tipe mens-mense. Dit is hoekom ek die agt dimensies [onhoorbaar 0:13:04]. Die een mens-mens is meer die empatiese mens. Hulle hou van mense, maar hulle hou daarvan in ’n klein intieme omgewing, one on one of hier by jou, naby jou, en daar is ook derduisende beroepe wat binne hierdie kategorie sou val. Die intieme mens-mens. Die ander een is meer die sosiale, die uitreik na buite mens-mens. Al twee is mens-mense, maar hulle is anders, hulle lyk ook anderste. So hierdie instrument wys vir jou eerstens jy is in daai menswêreld. Hy wys ook vir jou watter van daai twee dimensies is jy.

Ek verstaan. Ek bedoel jy het ongelooflike kliënte, of sal ek sê ’n CV hierso in terme van kliënte. Maar wat maak julle besigheid anders?

Ag, ek dink ons is miskien uniek in die sin dat ons totale fokus is op hierdie natuurlike faktor wat elke mens het. Jy weet, my eerste sewe jaar van my navorsing het gefokus op jong kinders, op die kreatiwiteit van jong kinders, en wat ek gevind het en ander navorsers ook gevind het, is dat 98% van alle kinders in al die lande, 98% tussen nul en drie is kreatief superieur tot omtrent op hulle derde jaar en as jy hulle weer meet op hulle tiende jaar dan vind jy dit is nie meer 98% nie, dit is net 32%. En op 15, 16 dan gaan dit af hier na 10% toe.

Nou my hele fokus en my hele lewe, en dit is dink ek wat ons anders maak, is om vir mense te bewys jy het nie jou kreatiwiteit verloor nie, maar deur kinders, deur ouerskap en deur swak onderwys en deur dit en dat, is die klem heeltemal weggevat van die kreatiwiteit af. Dit is ook nooit beloon nie en ons werk is om te sê “how do you regain your creativity?” en dit is hoekom die proses wêreldwyd deliberate creativitygenoem word. Daar is ’n proses, dit maak nie saak of jy 80 jaar oud is en of jy 20 is nie. Dit is irrelevant of jy nou in Indië woon en of jy nou in Houston woon nie. Dit maak glad nie saak nie. Jy kan jou kreatiwiteit terugkry.Dit is wat ons probeer doen en wat ons uniek maak, om vir mense daai selfvertroue te gee deur om te weet en te sien ook ek is nou skielik iemand met baie idees en ek het min idees gehad ’n week of twee terug. So dit is ’n baie, ek wil amper sê praktiese en aangename soort werk wat ons vir mense doen. Hulle hou daarvan en hulle sien feitlik onmiddellikresultate.

Kobus, ek bedoel dit word net al hoe belangriker vir die 21ste eeu waar ons juis daai kreatiwiteit benodig om probleme op te los en dit is sentraal wil ek amper sê as jy kyk na die 21ste eeu. Ek is ’n groot aanhanger van Ken Robinson.In een van sy TED talks het hy juis ook gesê kinders, ek dink teen die ouderdom van 10 het die skool al die kreatiwiteit uit ’n kind uit. Werk julle met hom enigsins? Hoe vergelyk julle velde?

Nee, maar ek ken sy werk baie goed en dit is baie goed dat iemand soos hy ook amper ’n propagandis is hiervoor. Dit maak dit belangrik. En die vraag bly “hoekom moet ons dit verloor om net weer later dit terug te wen?” En jy is reg. Jy kan maar kyk na alle navorsing oor suksesvolle besighede, die cuttingedge-faktor is maar altyd kreatiwiteit. Daai besighede is meer kreatief. So dit is nie iets wat ’n lekker is om te hê nie, ’n nicetohave nie, dit is krities in die 21ste eeu – in sport, in besigheid, in die onderwys – en ons het almal dit gehad en nou moet ons dit terugbring. Ek het ’n boek geskryf VerySmartParents waar ons vir ouers wys hoe kan jy ’n kreatiewe heelbreinouer bly, al is jou kind drie of sestien of whatever. So die gapings kom deur ouers wat net nie ingelig is nie en natuurlik ook deur die onderwys.

Wat ’n geleentheid. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf? Ons praat nou juis van die skole. Dit voel vir my daar is nog te min skole wat hierdie tipe van kritiese produk gebruik.

Ja. Ag, jy weet, ek kan amper nie vir jou antwoord nie. Ons gebruik nie die formele bemarkingstrategieë nie. Ek is in ’n sin gelukkig dat tydskrifte onderhoude met my voer en dan kontak besighede my daaroor. Ek is op, ag, selfs sportprogramme soos Toks en Tjops. Ek moet dit nie hardop sê nie. En dan sien jy die besigheidsouens kyk daarna, want my hoek is altyd hierdie goed wat in sport ontbreek, ontbreek ook in besigheid en dan word ek op daai manier gekontak ensovoorts. So daar is baie forums waar die goed gepropageer word en op die wyse word ons dan gekontak.

Ja. Jy is heeltemal reg oor die skole. Ons is betrokke by ’n klomp skole, dit is almal geborgde skole, en arm skole eintlik ook, waar ons so ses modules per jaar per skool aanbied oor hoe om heelbreinonderwys te gee en ons het dramatiese uitslae. Ek onthou die een skool in Port Elizabeth, toe ons twee en half jaar gelede begin het by die skool was die matriek se uitslae ’n 22% slaagsyfer, laas jaar was dit 78%. So daar was dramatiese, ja, dramatiese resultate in die skole waar ons betrokke is. Maar ja, jy is heeltemal reg, dit is ver en far between die skole en mens staan verstom dat hierdie nie reg in die sentrum van alle skole staan nie.

Ja, en juis ook die beginpunt. Ek wil amper sê die beginpunt van alles. As jy ’n skool begin in terme van jou opleiding en dan natuurlik as jy klaarmaak met skool, soos jy gesê het, daai job description. Ek bedoel, dit is vir my so kragtig en dit is weereens vir my skokkend hoe afwesig dit is. Nie net in Suid-Afrika nie. Dit is hier in Engeland, dit is in Amerika waar jy sien nog steeds nou, as jy nou na ’n jobsite gaan kyk, gaan jy wat, 99% jobdescriptions daar kry.

Ja. Jy is heeltemal reg. En dit is stokoud die ding. Mens het eintlik ’n halwe kreatiewe revolusie nodig om net mense te skud en te sê kom aan die gang.

Wat is die belangrikste besigheidsles wat jy tot dusver geleer het?

 

Ag, ek weet nie of dit nou een les is nie, maar die een ding wat definitief vir my sterk staan, is dat jy kan altyd dinge beter doen en jy moet nooit in ’n gemaksone beland oor enige iets nie. Want selfs jou kreatiwiteit kan soms’n gemaksone wees. Dit is die les wat ek geleer het. Jy moet nooit gemaklik wees nie en ’n mens moet ook nie bang wees vir risiko is nie. Ek dink dit is ’n belangrike les.  Ek sien dit orals en ek sien dit ook in sport, die vrese wat mens het om uit jou gemaksone te kom, is miskien een van die grootste struikelblokke. Dit is ’n les. Dit is ’n belangrike les om te weet dat jy net nooit oortevredemoet wees met wat jy gedoen het en wat jy bereik het nie.

Ek dink nou aan daai terme, Engelse terme, creativetension, wat jy konstant so half getrek moet word. Daar moet altyd ’n bietjie spanning wees in die goeie sin van die woord.

Ja, daar moetwees. Ek stem met jou saam. Jy kan regtigwaar, jy kan terugsak en baie kreatiewe mense, en ons werk ons hele lewe met hulle saam, het iets bereik of hulle het iets geskep en dan bly hulle daarby. Ek het onder andere weet ek een van mywonderlike mentors, Sidney Parnes, hy was een van die ouens watcreative problemsolving uitgevind het, saam met brainstorming, die woord en konsep, saam met Alex Osborne. Nou, hy was ’n groot mentor vir my. Ek het 17 jaar saam met hom, hy kom van Buffalo in Amerika af, 17 jaar saam met hom opgetree in verskillende dele van die wêreld. Die twee van ons saam het sulke toesprake gegee. Ek en hy het ook die televisiereeks geskrywe. Ons is gevra hier in die negentigs vir die SABC, om die vraag te beantwoord “hoekom het Suid-Afrika nie ’n revolusie gehad nie?” uit ’n kreatiwiteitshoek en toe het ons die reeks geskryf CreatingaMiracle, so 13 episodes.

So Sid Parnes en ek het baie nou saamgewerk, maar daar was een ding wat ek en hy lank amper ’n debat oor gevoer het. Die woord “problem”, die creativeproblemsolving het ek vir hom gesê as jy te veel die woord “problem” gebruik, dan raak dit amper ’n soort mentaliteit. En een dag onthou ek ons het agtuur gaan breakfast eet daar in Buffalo een oggend en ons het vieruur nog altyd breakfast geëet. Maar anyway, wat daar uitgekom het is een van sy beroemde boeke wat hy geskryf het waarin hy dan praat, die boek se naam is Visionising, waarin hy dan sê dat ’n mens moet oorbeweeg van creativeproblemsolving na creativeopportunityfinding. Met ander woorde jy skuif die hoek van jou brein en jou fokus. So selfs problemsolving kan vir jou later ’n soort gemaksone word en dit kan ’n mentaliteit skep. So mens moet altyd baie bedag wees daarop.

Problemsolving klink vir my reaktief en opportunitycreation klink vir my proaktief.

Korrek. Jy is heeltemal reg. En dit is hoe ek dit ook sien. Ons sien dit in kinders as ons vir hulle hierdie skuif maak in mentaliteit eintlik. Ja, absoluut so.

Jy het vlugtig daaraan geraak. Jy het gesê moenie te gemaklik raak of dinge altyd beter doen. Wat voel jy kan julle nog beter doen in die besigheid?

Ag, jy weet, daar is gedurig goed wat mens kan beter doen. Jy moet maar altyd luister na die versoeke van mense. Sommige van die versoeke sal nou nie werk nie, dit is nonsens. Maar ek het nou uit Nieu-Seeland ’n versoek gekry ’n week terug om te sê dat hier is hierdie kwessie van negatiwiteit, om iets te ontwikkel, en ek het al reeds so iets ontwikkel, om te kyk waar kom negatiwiteit, hoe ontwikkel dit en hoe kan mens ’n negatief-vrye omgewing skep. So ek luister daarna en ek kyk of dit kan werk. Daar is baie dinge wat ’n mens beter kan doen.

Ek dink tegnologies kan ons baie beter wees as wat ons is. Die wêreld skuif dramaties ten opsigte van die onderrigmodelle en -filosofieë. Ons kan dit dramaties nog baie beter doen as wat ons doen. Ons het nou baie sterk oorbeweeg na whole brain coaching, die one on one, en daar is ’n geweldige mark daarvoor. Ons het wonderlike kollegas wat goed is, baie goed is daarmee. Want baie van hierdie coaching wat bestaan, is nie wholebraincoaching nie. So ek dink hulle begin van ’n verkeerde vertrekpunt af. Jy moet eers die persoon se brein vind met wie jy werk en dan kan jy, ek wil amper sê die ontwikkeling begin doen. So daar is baie goed. Ek weet ek kan nou nie vir jou een pinpoint nie, maar daar is. Maar mens se oë moet maar oopbly die heeltyd daarvoor.

Dit is fantasties dat julle ook so baie geleenthede het. Ek dink die dag as jy nie kan dink aan nuwe geleenthede of dinge om beter te doen nie, dan het jy ’n ernstige probleem.

Ja.

So gepraat van nuwe geleenthede, Kobus, watse raad kan jy die Klipkouers gee om nuwe geleenthede te identifiseer? Jy weet, ons het gepraat van problem solving wat nou nie ’n lekker woord is vir soos daai, ek wil half sê ’n beter manier vind om ’n ding te doen. So hoe kan ouens geleenthede identifiseer?

Ek dink hulle moet eers kom vir twee dae se opleiding by ons, dan kan ons sê dit is ’n vertrekpunt. Ag, jy weet, ek dink hoe meer jy jou blootstel aan kreatiewe informasie en inligting … dit kan op baie baie maniere gebeur. Jy weet, baie mense kan boeke lees. Ek sê byvoorbeeld, een van my boeke is CreativityUncovered, dit is ’n boek van al die kreatiewe tegnieke wat daar bestaan. As jy oor tegnieke wil weet dan lees jy daaroor en so aan. Maar ek vind nog altyd dat as jy mense kan, al is dit informeel, betrek by jou en jy kan gesprekke begin voer en daar kom ’n losheid in jou, dit is belangrik.

Maar ek dink wat krities belangrik is, is om jou eie kreatiwiteit te ontwikkel. Mense staan verstom om te besef hoe kan ’n mens jou kreatiwiteit ontwikkel. Hulle besef nie dat kreatiwiteit vir almal is nie. Dit is vir elke mens. Daar is nie mense wat uitgesluit is daarvan nie. En of jy oud of jonk is maak nie saak nie. En ek dink dit is belangrik dat jy eerstens moet besef dat ’n kreatiewe mens is ’n ideemens ook. So jy moet eerstens kyk is jy ’n ideeskepper, en dan moet jy daai vaardigheid ontwikkel. Dit is baie maklik. Daar is so vyf vaardighede wat reg voorop staan as jy die eerste stappe wil gee in kreatiwiteit. Ek het nou genoem die vaardigheid is vlotheid. Vlotheid beteken doodeenvoudig die vermoë om baie idees te skep. En dan die tweede is buigsaamheid. Met ander woorde om verskillende soorte idees te hê, ensovoorts. Ek wil nou nie die hele bult oorgaan nie. Maar my raad sal definitief te wees om eers te kyk na jou eie soort kreatiwiteit op die oomblik, die vlak waarop jy funksioneer en dan vir jouself te sê maar jy weet, ek kan dit dramaties verbeter.

Vat nou net, ek kyk na myself. Ek het met Torrance begin toe ek reeds ’n doktorsgraad gehad het. Maar ek kyk nog altyd na Torrance, my ontmoeting met Torrance as ’n voorlewe en ’n nalewe, want alles het daarna verander vir my. Absoluut alles. Met ander woorde, ek het besef die doktorsgraad of whatever jy het, het eintlik maar geweldig min waarde. Dit is goed om dit te hê, maar dit het min waarde as jy nie kreatiwiteit daarby kan toevoeg nie. Dan beteken dit letterlik, in ’n moderne wêreld beteken dit niks. So die kreatiwiteitstoevoeging tot wat jy het verander jou lewe dramaties.

Sê vir my, Kobus, ek weet julle het fantastiese toetsopsies daar op julle webwerf. Wat sal ’n lekker begintoets wees?

Kyk, ja, terwyl daaroor gou praat. Ek sien ons onderhoud gaan nou al lank aan, maar anyway.

Nee wat. As jou tyd okay, is ek oraait. Maar ons is nou in die pylvak.

Okay, kom ek sê so, daar is die reeks toetse. Daar is ’n hele paar vir volwassenes. So ek sê begin met ’n vier- en agtdimensie, die persoonlike toets. Jy noem dit die NBI, die Neethling Brain Instruments. Die NBI, die persoonlike toets, dit is maar die eerste een wat ek sou doen. Maar dan is daar vir kinders. Ek het nou, vir die hoërskoolkinders het ek nou reeds genoem die senior student – senior student, want dit is ook in Afrikaans beskikbaar – om te kyk na waar is jou sterkpunte en dit is ’n baie goeie rigtingwyser vir wat moet ek volgende jaar gaan doen, waar moet ek gaan werk, watse studies moet ek doen. En dan is daar vir die junior student, wanneer jy miskien in die laerskool is om te kyk na vakkeuses.

My twee seuns was in die laerskool toe ek daai instrument ontwikkel het en dit het hulle lewe verander. Dit is absoluut, dit was ongelooflik. Want hulle het besef hulle het verskillende profiele. Ek het eers gesê baie mooi, julle het al twee driehonderd, en toe het ek die verskille verduidelik en gesê julle gaan van verskillende maatjies hou, van verskillende vakke op skool hou, ensovoorts, ensovoorts. Ek het gesê kyk hoe lyk jou ma en jou pa se profiele. Daai gesprek met hulle en jou opvolg daarna, die ongelooflike impak was dit, dat daar was tussen daai twee seuns van my, en hulle is volwassenes nou, was daar geen konflik nie. Wat hierdie breininstrument doen, ’n mens normaalweg doen, jy sê “jy is verkeerd en ek is reg”, dit verdwyn hier, want dit is nie reg of verkeerd nie. Ons het ander kyke na die wêreld.

En dan het ek onlangs, nie onlangs nie, ’n klompie jare terug ook een ontwikkel vir voorskoolse kinders in die kindertuin voor hulle kan lees of skryf, ’n soort prentjie-instrument. Dat ’n mens baie vroeg al kan sien, die ouers, om te kyk na waar my dominansie van my kind is en voordat ek die kind op Ritalin sit, kyk ek maar net eers waar is sy voorkeure en hoe moet die kind gestimuleer word of hoe moet my ouerskap gerig word op hierdie kind.

Maar ek wil net aanhaak daarby, ons kry al hoe meer en meer versoeke, die vraag kom na ons “kan ek nie ’n heelbreinpraktisyn word nie?” Met ander woorde kan ek nie iemand word wat hierdie profiele kan administreer nie? Met ander woorde ek kan dalk vir ander mense help. Ek kan die matrieks in die skool daar in my omgewing, kan ek al die matrieks elke jaar doen, ek kan besighede doen. Of in sport. Ons het nou uit Indië, uit Delhi gaan ons nou met ’n massiewe krieketprojek begin. Ek het die krieketinstrument daai jare al saam met Clive Rice opgestel, die rugbyinstrument met Naas Botha, toe sy ou span nog goed was, en ek het die sokkerinstrument saam met Gary Bailey en Dale, hy is die gholf. Met ander woorde elke liewe instrument is gerig dan op sport. So daar mag miskien mense daar buite wees wat sê “gee, maar ek is ’n sport, ek sal graag in sport betrokke wil raak, sportmanne”. En dit het ’n massiewe impak. Paul Treu, ons het met hom gewerk drie jaar toe hy die sevens se afrigter was en hulle laaste vyftoernooi het hulle vier gewen. Ons het aan hom gewys watter brein moet ’n sevens speler gebruik en om werklik effektief te wees en so. So met ander woorde as jy dit wil doen, as jy sê “maar jissie, ek wil eintlik dit doen”, dan is daar vier keer ’n jaar kursusse wat mense dan oplei om heelbreinpraktisyns te word. So ek sê dat dit is miskien ook maar iets wat hulle kan oor dink, vir ’n entrepreneur daarbuite. 

Baie baie goed. Oraait, Kobus, so ons is klaar. So ons het net die bonusrondtes, maar hulle gaan gewoonlik vinnig. So ek wil amper sê as ons hulle in tien minute kan nail, as dit okay is met jou?

Of in twee minute. Kom ons kyk gou.

Wel, daar is vyf vinnige mensvrae en vier vrae vir die besigheid. So is jy reg?

Okay. Dit is reg so.

Wat istansof histories ’n pyn in die besigheid?

Wat is ’n pyn? Jy weet, ek is nie heeltemal seker nie. Ek dink die pyn in die besigheid is dat daar nog so baie mense is wat jy deur harde oortuiging moet kry om te glo aan dat kreatiwiteit belangrik is. Dit was histories ’n pyn en hy is nog altyd ’n pyn. Dit is minder miskien ook so dat daar is nie ’n algemene aanvaarding nie en ek dink die pyn in die besigheid is dat mense nog altyd terugval op ou metodes wat net halfpad gewerk het en dan gaan hulle en hulle wil nie die risiko neem om te sê kom ons probeer hierdie of so nie. So ek dink daai oorversigtigheid onder besighede en ons sien dit in sport, geweldig in sport, dat hulle wil nie die risiko’s neem om uit hulle ou manier van speel uit te kom nie. So ja, dit is miskien vir my die pyn, is dat jy nie kan sien wat jy moet sien nie. Dat daar nie vars oë is nie. Jy weet, as jy nie vars oë het nie, dan stap jy elke dag by jou deur uit en jy sien probleme, terwyl die ou wat vars oë het, stap by dieselfde deur uit en hy sien geleenthede. Jy sien, en dit is die verskil.

Dit is juis die ouens wat nie die vars oë het huidiglik wat met jou moet gaan praat nie, Kobus. Watter ander besighede, byvoorbeeld verskaffers, het ’n groot invloed op julle sukses?

Jissie, ek sou graag wou gesê het baie, maar ek kan eintlik nie dink nie. Ons werk met nie so baie verskaffers saam nie. Ons werk wel met besighede saam wat vir ons miskien borgskappe gee vir ons, sê maar ons onderwysprogramme. Hulle het ’n groot impak, want hulle het hierdie, ek wil amper sê hulle sien wat hulle moet sien wat dit betref. So ons het, MFC ’n divisie van Nedbank. Vir baie jare al borg hulle ’n deel van groot konferensie vir onderwysers, maar hulle het ook in die 13 skole waar ons landwyd werk, ’n groot impak. Sonder hulle sou ons nie hierdie programme kon gedoen het nie. So ek dink wat ons onderwysprogramme betref, speel hulle ’n geweldige belangrike rol.

Ag, en dan, ek het baie keer gesprekke met mense in maatskappye net om bietjie wyser te word en met hulle te gesels. So daar is ’n wye spektrum van maatskappye met wie ek gesprek voer om te kyk wat is vernuwend, wat verander. As mens kyk byvoorbeeld na banke, om jou ’n idee te gee ook, met die hele voorspelling dat vier, vyf jaar gaan die historiese banke halveer word, want dit is nie meer nodig nie. Nou, banke moet hulleself reinvent en wat doen hulle, sien hulle dit raak? Jy weet, dit is soos die taksibedrywe, die Ubers. Al daai dinge is vir my belangrik om met die mense gesprekke te voer om te sien hoe hulle hulleself posisioneer, hoe hulle die toekoms sien ensovoorts. So ja, dit is ’n breë spektrum. 

Watter ander besigheid of industrie is vir jou interessant of ongewoon?

Ag, ek weet nie. Ek het nou genoem. Die Ubers van die wêreld is vir my baie interessant, want hulle is baie dieselle byvoorbeeld soos die Airbnb. Dinge wat bestaan en dit omgooi en uit ’n totale vars hoek na dinge kyk. Kyk, Google was nog altyd vir my ’n interessante maatskappy. Ek het in Kopenhagen op ’n keer gaan kyk na ’n Google-georiënteerde maatskappy, spesifiek gaan kyk na hoe hulle doen en wat hulle anders doen. So vir my is daar van hierdie vernuwende maatskappye wil ek amper sê. Ek kan nie een spesifiek of twee noem nie, maar dit gaan oor die spektrum van maatskappye wat gedurig kom en hulle doen dinge op ander maniere, hulle doen dit op vars maniere en dit is wat vir my interesseer sonder om nou een of twee net spesifiek uit te wys.

Ja. Hierdie hele model van hierdie groot maatskappye wat niks besit nie, dit is asof hulle net alles saamtrek op ongelooflike wyse.

Korrek. Ja, en so aan. En daar is baie en jy kyk na kategorieë van, soos ek gesê het, bank, versekering. Jy weet, die versekering nou dat jy voor jy op ’n vliegtuig kom, kan jy gou jou reis verseker, daai reis vir ’n uur na Johannesburg toe, of twee ure, kan jy gou met die druk van ‘n knoppie doen.

Ongelooflik.

Ja, ongelooflik. Ek kyk ook na ons breininstrumente, hoe ons dit nou ook dit verander het dat dit op ander platforms is. Soos met AB de Villiers, byvoorbeeld, het ons nou ’n (dit verskyn eintlik volgende week) het ons ’n app geskep met sy brein, met die krieketbreinprofiel, breininstrument daarop en sy krieketprofiel waarin hy dan vir mense sê maar hoe kan jy net so goed word soos ek. Kom ek wys vir jou. So dit verskyn nou volgende week. So die platforms waarop dit verskyn en nuwe platforms, al daai dinge dink ek is krities belangrik vir ons en daarom kyk ons na alles wat uit ’n ongewone hoek kom of ’n interessante hoek kom, bly vir ons belangrik.

Oraait, hier gaat ons. Pylvak. Mensbonusrondte. Wat is een van jou belangrikste persoonlike doelwitte vir die jaar?

Jissie, jou vra nou vir my, vir ’n ou wat dit nou …

Jou konferensies. Die konferensie is die belangrikste, seker?

Ja. Definitief een van die persoonlike doelwitte is dat ons, veral by konferensies, vir die onderwys een al hoe meer groter belangstelling sal kry buite die geborgde tipe skole wat ons het en daar instansies sal kom en sê, maar weet, daar is geen geleentheid soos hierdie in die wêreld nie. Daar is nie in die wêreld ’n konferensie wat fokus op die kreatiwiteit van die onderwys nie. Daar bestaan nie so iets nie. En hier het regtig al wonderwerke gebeur in hierdie konferensie. So dit is ’n doel, dat hierdie sal verder en verder beweeg en ons kry mense wat uit ander lande na hierdie konferensie … Ons het laas jaar dink ek 12 uit Indië gekry wat hierdie onderwyskonferensie … So met ander woorde hulle kyk met hierdie vars oë na ons konferensies, maar in Suid-Afrika nog sal jy vind dat die meeste skole stuur nog nie mense na die konferensie toe nie. So dit is ’n doelwit. Ons moet daardeur breek en ons moet daar uitkom.

Ek sal julle graag wil help met dit. Watter gewoontes dra by tot jou sukses?

Ek dink dit is belangrik vir ons en wat ons doen om ten alle tye, eintlik ’n paar dinge, maar die een is jy moet ’n oop kop hou. Jy moet absoluut oop kop hou. Jy moet niepremature closure hê nie wat beteken jy moet nooit jou brein te gou sluit nie. Met ander woorde, wat ’n mens soms doen as jy ’n gesig op die televisie sien dan sê jy “ag sit af, ek wil nie sien nie.” Dit is daai soort, jy forseer jou brein toe en oop kop beteken dat jy moet oop bly. Al stem jy nie saam nie, al gaan jy aan die einde nie, maar daardie oop hou, gee jou brein kans vir wat ons noem inkubasie en inkubasie is geweldig belangrik, want daar moet, die idees moet bietjie rondspoel in jou brein.

Maar die ander baie belangrike ding is dat ’n mens moet ook dieselle tyd essensiebewus wees. Dit is ’n gewoonte wat ’n mens moet aanleer. Met ander woorde dat jy nie hier in ’n wasige ding rondbeweeg jou hele lewe nie. Die groot probleem wat maatskappye wat ons mee gewerk het oor baie jare, is dat hulle kom met oplossings wat vir hulle baie geld gekos het en lank tyd geneem het en na ’n tyd werk die oplossing nie en die rede hoekom die oplossings nie werk nie, en dit is wêreldwyd, dit is ongelooflik, is dat hulle nooit die essensie van hulle probleem verstaan het nie. So vir ons in kreatiwiteit is dit krities dat jy ’n soort gewoonte aanleer om by die essensie amper vinnig te kan uitkom, want jy forseer jouself om eers die essensie te kry en dan begin jy idees te bou en oplossings te kry. Dit is belangrik.

Ag, ek dink ’n ander algemene gewoonte wat ’n mens moet hê, is respekwaardigheid. Jy moet respek hê vir mense. Ek het nou, ek is ’n groot coffee shop ou, so ek gaan ’n klomp keer ’n week hier in die oggende, breakfast, dan stap ek oor na die Brooklyn Mall toe en ek gaan drink koffie. En weet jy wat, in hierdie mallken die kelners my beter as enige ander ou. Ek gesels met hulle, gee van my boeke vir hulle, praat met hulle. Ek dink vir my was dit nog altyd so, ek het so groot geword. So vir my is dit die respek wat jy het vir alle mense en ek dink dit is belangrik in ’n wêreld van mense waarin ons werk.

Laaste vraag, Kobus, wat is die een stukkie raad wat jy jou jonger self sou wou gee?

Jissie, ek het al baie keer in my lewe daaroor gedink, is dat miskien moes ek, minder ongedurig gewees het. Ek wil amper eers gesê het ek moet miskien meer kalm gebly het en … Maar nou in die terugskouing dink ek tog nie so nie. Ek dink juis dat ek ’n onrustige siel gehad het. Dit was belangrik vir my dat ek bly soek en bly vind en wat ook al. Ek het nou-nou gepraat oor respekwaardigheid en so aan. Miskien was ek te ongedurig met mense wat naby my was in die beginjare en nie hulle waarde gesien en hulle bydraes tot my nie. Miskien tog dit. Maar ek sal weer dink oor daai vraag, want ek dink dit is ’n belangrike vraag om oor te tob. ’n Mens kan dit nie vinnig antwoord nie.

Nee, dit is als reg.

Ja, dit is ’n goeie vraag daai. Dit is ’n baie baie goeie vraag wat ek dink ek wil dieper dink ’n bietjie daaroor later.

Kobus, verskriklik dankie vir jou tyd. Dit is ’n voorreg om met jou te kan gesels en ek is dankbaar dat daar mense en organisasies soos jy is in die wêreld. Ek wens net daar was meer, maar dankie Vader die wiel is aan die rol. Sê vir my, hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Ja, weereens baie dankie. Dit was heerlik om te gesels en ek sal graag bietjie later weer met jou gesels op ’n stadium, dan kan ’n mense miskien bietjie spesifiek oor kreatiwiteit praat en die tegnieke en hoe ontwikkel ’n mens dit en sulke dinge.

Ek dink miskien is die maklikste maar om my e-posadres te gebruik en ek kan ’n ding kanaliseer as dit nodig is. Dit is doodeenvoudig kobus@kobusneethling.co.za.

Verskriklik dankie. Ons sit dit alles in die notas en ek sal graag weer met jou gesels en bietjie kyk wat ons kan doen. Soos ek sê dit was heerlik om met jou te gesels. Baie dankie.

NB! Indien jy deel 2 van my onderhoud met Brand Pretorius gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

In Klipkouerwêreld is onmoontlik maklik. Hier pak ons die bul by die horings en voeg waarde toe aan almal met wie ons in aanraking kom.

Klipkouers Potgooi is gestig om jou te help om jou aspirasies te realiseer ten einde waarde toe te voeg.

Dalk weet jy nie waar om te begin of hoe om vorentoe te beweeg nie. Dit is waar Klipkouers jou 'n hupstoot gaan gee om die wiel aan die rol te sit.

Elke week gesels ek, Jacques Basson, met suksesvolle Afrikaner entrepreneurs en impakmakers wêreldwyd en vra ek hulle dieselfde vrae – alles vrae om jou te help om jou besigheid of omstandighede te verbeter.
 
Onthou...Aanhouer wen!
close-link
Back To Top