skip to Main Content

Sonja Smith is die stigter van Sonja Smith Funeral Group wat al verskeie besigheidtoekennings verower het. ‘n Gereelde gas op radioprogramme soos RSG en Jacaranda, het sy vrou-alleen nuwe lewe in ‘n baie moeilike en persoonlike industrie ingeblaas.

 

SS           Hallo Klipkouers. My naam is Sonja Smit en ek staan bekend as die begrafnis-ondernemer met fluweelhandskoene. Grootgeword in Pretoria. Later Nelspruit Laeveld toe verhuis, daar gematrikuleer, en gaan studeer by Kovsies. Ek hoor Jacques is ook ’n oud-Kovsie.

 

JB            Dis goeie nuus. Ek het nie dit geweet nie.

 

SS           Ja. En ja, die groot liefde het geroep en ek het toe nou nie my kursus voltooi nie, tot my pa se bittere teleurstelling, want my pa het gesê jy sal gaan swot. Toe het ek die bankwese in Nelspruit betree. Daar’t ek begin en, jy weet, hulle sê altyd join the bank and see the world, so ek het toe later jare met ’n bankier getrou en so het ons ’n paar dele van Suid-Afrika gesien.

 

In 1997 het ek ’n insetsel gekyk een Sondagaand op Carte Blanche wat gehandel het oor die dood en hoe dit in ’n staatslykshuis lyk. Ek was vasgenael voor hierdie TV-program, gedink niemand weet nie, en dit was net hierdie liggie wat aangegaan het van ek moet meer weet van hierdie industrie. So het ek toe ’n begrafnisonderneming besoek, gesê wys my, vat my op ’n toer. Ek dink nie dis iets wat die gewone man op straat doen nie. En ja, daar het dit alles begin.

 

JB            Dis ongelooflik. Sonja, verskriklik dankie. Ek sit hierso, dis vir my so lekker, ek dink hierdie is my vyfde aangesig-tot-aangesig-onderhoud uit meer as vyf-en-sestig onderhoude. Dis lekker want dit beteken ek’s in Suid-Afrika. So dis lekker om hier by jou te wees. Dis baie lekker om natuurlik jou besigheid ook eerstehands te sien. So welkom, dankie vir jou tyd.

 

Jy’t nou natuurlik hier aan die besigheid begin raak, maar hierdie is nie wat ’n mens op die oog af dink nie. Hier’s iets diepers hierso, nè? Gee ons ’n opsomming van die tipe besigheid en industrie.

 

SS           Ja, in Engels praat ek graag van the death-care industry. Dit is ’n mannewêreld en dis ’n mafiabedryf. Kyk, hulle sal mekaar in die rug steek waar hulle kan en jy’t nie rêrig vriende in hierdie bedryf nie. Toe ek in Engeland was, ek het so paar keer oorgegaan om van die funeral expos daar by te woon, in Coventry, en dan gesels ek en ek besoek die plekke. En dan vra ek vir die man: “Maar wat maak jy? Jy’t so min spasie, wat maak jy?” Hy sê: “Nee, I’ve got a buddy just down the road.” Dan sê ek: “Maar wat maak jy as jou kar breek?” “I ask that buddy. We just help each other all the time.” Not in South Africa. Nee, dit gebeur nie. Ja, so dit is maar ’n alleenwêreld.

 

JB            Is dit cutthroat?

 

SS           Dis cutthroat, absoluut.

 

JB            Is dit die manne … is hulle bang? As hulle iets deel verloor hulle iets of hoe?

 

SS           Seker, ja. Ek dink dis nogals professionele jaloesie wat ’n groot rol speel. Maar ja, hier’s nie gunsies en gawes onder die ondernemers nie.

 

JB            Hierdie is tog ’n groeiende bedryf? Ek sou verstaan as die bedryf aan die krimp was dat almal daaraan sou wou vashou, maar tog, julle krimp nie. Is daar dalk iets anders?

 

SS           Ek kan nie vir jou sê wat die rede is nie. Dit was nog altyd ’n baie konserwatiewe industrie. Die dood is swart en wit en grys. Daar was nooit kleur nie. Ek kan myself op die skouer klop, want wonder bo wonder, want hoe meer kleur ek ingebring het en hoe meer ek verpersoonlik het en die industrie vernuwe het, hoe meer het die ander my gevolg. Hulle sê, if you wanna be original, be ready to be copied. En dit het werklik bygedra daartoe dat die standaard van die industrie gelig het met die jare deur.

 

JB            Natuurlik saam met daai, soos jy sê, om original te wees, kom die kritici.

 

SS           Ja, ja, die hoogste bome …

 

JB            Ek bedoel, dis die ander teken van sukses, dink ek. As niemand jou kritiseer nie, dan moet jy wonder of wat jy doen uniek is, nè?

 

Maar help my om iets rakende die grys aspek te verstaan hierso. Hoe kan ek sê? Aan een kant verstaan ek dat die dood reeds morbied is soos dit is.  Ek onthou toe ek so agt of so was, het ek en my pa iets op TV gekyk. Op die program was daar ’n partytjie by die ou se begrafnis en ek wou weet hoekom. Sy antwoord sal my altyd bybly. Hy het gesê mense moet eintlik huil as jy gebore word, want jy kom in hierdie gebroke wêreld in. Maar nou gaan jy na ’n beter plek toe en die mense party, want hulle is bly.

 

Maar tog word daar nie “geparty” as ek nou in aanhalingstekens kan sê nie, maar jy bring ’n bietjie daai kleur en party na die, ek wil half sê ’n celebration van die lewe, né?

 

SS           Absoluut. Weet jy ek doen aandbegranisse ook, wat stunning is. So hou ek ’n aandbegrafnis by een van die mooiste kapelle en toe die voertuig vertrek, toe het elkeen ’n glas sjampanje in die hand en hulle sê: “Cheers, John”.

 

JB            Jis, dis interessant.

 

SS           So dis amazing, veral in die aand met kerse en koormusiek. Ek hou die mense dop en dan sal die tannie so aan die oom stamp en sê: “Liefie, ek wil ook eendag so ’n begrafnis hê.”

 

JB            Vind jy dat dit die mood lig?

 

SS           Absoluut, dis special.

 

JB            En dis tog waaroor dit gaan.

 

SS           Ja, ek onthou hier in die beginjare toe ek begin het met die verpersoonliking, het ek ’n taksidermis begrawe. En ek het soveel moeite gedoen om sy laaste werke te laat aanry met ’n vragmotor, en in die kerk was daar hierdie luiperd wat die rooibok vang. Dit was sy laaste werk. Jy weet, verpersoonlik, maak dit net spesiaal. As die tannie gehou het van tuinmaak, dan sal ek potplante en ’n snoeiskêr en ’n strooihoed in die kerk sit.

 

JB            So dis net iets anders?

 

SS           Ja, mens moet net uit die boks uit dink.

 

JB            Vertel my bietjie meer van die industrie. Jy weet, jy’t nou gepraat cutthroat. Hoe werk dit? Kom ons kyk na daai supply chain. Jy weet, jy’t nou gesê ook jy kry ’n oproep, jy weet nie watse oproep jy gaan kry nie. Maar hoe werk die geld, die finansiële aspek? Verduidelik ’n bietjie vir die Klipkouers.

 

SS           Een van die probleme is dat die industrie nie gereguleer word nie en dit maak dat elke Jan Rap en sy maat sommer skielik hier ’n pop-up shop het en hy noem dit ’n begrafnis-onderneming. Maar hy doen sommer sy bekisting in die hospitaal, bêre die liggaam in die hospitaal se yskas tot die dag van die begrafnis en leen ’n voertuig, gaan haal en ry graf toe. So dit is nie gereguleer nie, wat ’n groot probleem is.

 

Die geld … ons het sekere dienste wat ons aanbied. Met ander woorde, ons sal die liggaam gaan haal twenty-four seven, enige tyd van die dag of nag.

 

JB            Wat is jou radius dan en waar gaan haal julle?

 

SS           Ek is nie beperk nie. Ons het ses kantore, takke en franchises die hele Tshwane vol. Pretoria, Midstream, Centurion, Meyerspark, Moot, Montana, Moreletapark. So as mense wil hê ek moet iemand gaan begrawe in Polokwane, twee en half ure se ry, dan doen ek dit. Ons het al wyd gegaan. As dit nou in die Kaap is, dan sal mens nou die liggaam af vlieg, jy sal nou nie Kaap toe ry nie.

 

So daar’s sekere dienste wat ons lewer, soos die afhaal van die liggaam, want wanneer iemand gesterf het, moet iets met die liggaam gebeur. In Engels praat hulle van the final disposition of the body. Jy moet iets met hom doen. Dan sal ons hom nou versorg en bewaar hier in ons fasiliteite wat actually baie mooi is. Ek sal vir jou ’n foto wys as jy nie wil kyk nie. Ja, dit lyk soos ’n vyfsterhotel. Een van die tannies het nou die dag gesê: “My kind, dit voel of die Oom in ’n gastehuis lê.” Dit was nogal ’n kompliment. Dan sal ons al die nodige reëlings tref.

So ons het ’n sekere riglyn wat ons volg om voorstelle te maak, want jy dink nie aan alles wanneer jy getraumatiseer is nie. Ons sal byvoorbeeld sê, wat van ’n panfluit in die kerk? ’n Panfluitspeler. Wat van ’n violis by die graf. Jy weet, dis atmosferiese instrumente. Ek probeer dit sag maak, probeer dit mooi maak. En dan al die reëlings, ons skakel dan met al die nodige persone, van die kerk, die dominee, die koster, die orrelis, die musikant, ons reël die blomme, ons reël die eetgoed.

 

JB            So dis ’n one-stop shop?

 

SS           Dis ’n one-stop shop, absoluut. Ja, en ons gaan selfs verder. My man is ’n finansiële adviseur en sy kantoor is reg langs ons. So as hier moeilike gevalle is met vrae oor boedels, dan tel ek die foon op, ek sê: “Rian, kom gou.” En dan gesels ons selfs oor dit, oor wat voorlê in komplekse boedels en so aan.

 

En dan sal ons nou op die dag van die diens die voertuig uitstuur en die hele begrafnis hanteer. Ons doen ook besigtigings. Ek is ’n voorstander van ’n besigtiging. Jy’t nou-nou gepraat van ’n lyk, ons praat van ’n liggaam of ons noem die persoon by sy naam. Maar as dit ’n grusame, verminkte liggaam is, ek meen, gaan ons nie iemand daaraan blootstel nie. Dan sal ek net ’n hand wys. Dis belangrik vir die persoon om die geliefde se hand te sien. Dis wanneer die realiteit inskop en die ontkenning agter jou is.

 

JB            Dit is tog die eerste stap na genesing, daardie erkenning. Is ek reg? Want dis gewoonlik wanneer jy in denial is en die genesing nie kan begin nie.

 

SS           Ja, dis korrek. Jy kan nie met jou routake begin nie. Ons praat deesdae van routake, want die rouproses klink so asof jy passief moet terugsit en dinge moet met jou gebeur. Routake wat jy fisies moet deurwerk om gesond te kan word.

 

JB            Dis fassinerend. Nou, natuurlik versekering … Ek dink aan toe ek my ouers verloor het.

Somtyds is daar ’n verassing en jy moet die rekening betaal. Ek onthou selfs daar in Parys. Ek het daar aangekom, niks is gereël nie, maar dit was ’n kwessie van, okay, dis wat ons gaan doen en maak vir ons ’n betalingtjie hierso, twintigduisendrandverrassing, en dan sit ons die wiel aan die rol. So ek het nog daai verrassing gehad. Maar ek neem aan versekering speel ’n baie belangrike rol?

 

SS           Baie belangrik. Ek is ’n groot voorstander van ’n preplanning, soos wat ons dit noem, waar jy voor die tyd jou dinge in orde kry. So ons het ’n lewenslêer ontwerp met drie-en-veertig verskillende dokumente wat jy op een plek bymekaar liasseer, en as iets met jou gebeur, dis nie net vir mense wat siek is nie, dan is al jou belangrike dokumente op een plek. Jou ID-afskrifte, huweliksertifikaat, egskeidingsbevel, jou kinders se besonderhede, jou dokter, jou TV-lisensie, jou motorregistrasiepapiere. Daar’s letterlik drie-en-veertig items.

 

En ek doen baie seminare waar ek ’n spreker is en dan gesels ek graag oor jou digitale testament, jou passwords, jou slimfoon. As jy dood is, die eerste wat mense doen, is hulle vat jou foon om jou kontakte te laat weet. Maar as daar ’n passcode is, kan jou vrou nie toegang tot jou foon kry nie. En mense dink nie daaraan nie. Jou digitale lewe leef voort jare na jou dood. Alles waar jy ’n username en ’n password moet gebruik, is daar ’n elektroniese stukkie van jou wat net voortgaan.

 

JB            Sjoe, ek het ook weer gekyk na veral die Facebook-ding. Dit is vir my aan die een kant die krag van Facebook wat vir my, ek weet nie of ek sal sê lekker is nie, maar in die sin dat ek het ’n paar vriende verloor. Aan die ander kant is dit vir my tragedies dat hierdie ou se profiel is normaal, maar mense weet nie, of jy kom na ’n ruk agter maar die ou is nie meer daar nie, nè, om daai ook te bestuur.

 

SS           Dis baie sleg. Daar’s basies vier opsies wat jy het met Facebook. Maar wat sleg is, is wanneer jy verjaar en almal op jou Facebook het nie geweet jy’s dood nie, en almal kry hierdie reminders en hulle begin jou gelukwens, minwetende … Kan jy dink hoe ontstellend is dit vir ’n familielid?

 

JB            Ja, sjoe, dit is sulke goedjies. Nou, saam met daai lêer, neem ek aan is ’n testament ook belangrik.

 

Onlangs in Engeland het ek en my vrou weer besef ons het ’n paar goedjies wat ons moet doen. Ek dink veral vir my as man, ek weet nie of ons soms te macho is oor ons nie die goed wil doen nie. Maar ek het ook gesien eerstehands wat gebeur het dat my pa nie ’n handtekening op ’n stuk papier gehad het nie. So ek moes sien wat moes met my ma en die boedel gebeur en so aan.

 

So ek het altyd myself voorgeneem dit gaan oor wat gerieflik is vir my familie op die einde van die dag. Maar selfs ook ons kinders. Ek weet nie van die Suid-Afrikaanse wetgewing nie, maar die ding wat ons ook laat wakkerskrik het, is dat as iets met ons gebeur, neem die staat beheer van die kind as daar nie byvoorbeeld ’n peetouer benoem is in die testament nie. Ek bedoel, dis al hierdie goedjies wat, dit gaan baie verder as doodgaan, nè. Dit gaan oor daai ripple effect na die tyd.

 

SS           Ja, jou testament is waarskynlik die belangrikste dokument wat ook in daai lewenslêer moet wees. Ja, en dis nag wanneer jy vir mense om ’n tafel hier moet vra: “Tannie, waar’s die Oom se testament?” Dan sê sy: “My kind, ek weet nie.” Dan moet hulle begin soek. Of jy vra: “Tannie, is daar ’n polis?” Dan sê sy: “My kind, die Oom het alles gedoen.” Ja, so dis iets wat ons probeer, om mense te bemagtig deur terwyl jy nog leef jou dinge in plek te kry sodat jy dit makliker maak vir jou geliefdes na jou dood.

 

JB            Dit laat my dink aan daai education-based selling. Want tog, dis tog ’n diens wat julle verskaf en so, maar daar’s baie opvoeding wat daarmee gepaard gaan. En hoe doen julle dit? Ek bedoel, jy’t nou gepraat van seminare en so aan. Ek neem aan mense wil dalk na die nuutste sosialemedia¬bemarkingstrategie of -ontbyt gaan, maar ek dink, ek neem aan hy’s nou nie lus om oor die dood te gaan gesels nie. Hoe benader julle dit en hoe reageer die mense?

 

SS           Ja, ek word gereeld genooi as ’n spreker waar ek spesifiek praat oor die lewenslêer. So dit is ’n baie gewilde dokument. En radio ook – ek doen baie radiopraatjies. Groot konferensies. Die sielkundige kongres. Die begrafnisondernemers se kongres. Ja, ek is nogal lief daarvoor. Ek is ’n Toastmaster. So dis vir my lekker om hierdie education te doen.

 

JB            En die reaksie daarop? Ek bedoel, hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf, snaaks, maar in terme van kom ons sê om nuwe kliënte te kry deur middel van die opvoeding. Is daar ’n spesifieke kanaal wat jy vind werk die beste?

 

SS           Ja, ek het op my website die indeks van hierdie lewenslêer en ek kan, wanneer ons dan vir mense hiervan vertel, kan hulle na die website toe gaan en hulle kan hom gaan download. Daar’s ’n squeeze page. Met ander woorde, ek het ’n databasis van almal wat hom afgelaai het en wat ook dan vir my sê waar het hulle van hom gehoor. So dis ’n lekker tool om te meet.

 

JB            En dan kan die kommunikasie wat seker baie aanlyngedrewe is …

 

SS           Ja, en dan my Facebook ook. Ek probeer regtig baie advies en opvoeding en awareness create rondom ’n groot verskeidenheid onderwerpe rondom die dood. Jy sal verbaas wees hoe interaktief dit raak.

 

JB            ** My span sê vir my ons het baie resensies op iTunes nodig sodat julle die Klipkouer-program maklik in die hande kan kry. Kan julle ons asseblief uithelp en inteken op iTunes en vir ons ’n resensie los? Ons sal dit kwaai waardeer. Dankie. **

 

Sê vir my, ons het vinnig daaroor gesels voor ek begin opneem het, wat vir my baie interessant was wat jy genoem het oor selfdood en veral, jy’t gesê Augustusmaand, veral vrouens, né, maar dis maar meer die SAD, nè. So dit gaan oor Seasonal …

 

SS           Seasonal Affected Disorder.

 

JB            Seasonal Affected Disorder. Maar jy’t ook genoem dit gaan oor daai, amper die lente, die begin van die nuwe seisoen of jaar in baie opsigte wat traumaties is. Jy’t genoem van die liggaam se hand sien, byvoorbeeld. Wat doen julle in sielkundige konferensies? Is daar – hoe kan ek sê? Is daar kursusse om vir ouens te laat verstaan met die rou, of hoe rou jy beter of wat gebeur met die rouproses? Want dit voel vir my daai opsigself is belangrike opvoeding, nie om net die diens nie, maar net om vir ’n ou te sê hoe deal ek met trauma in daai opsig.

 

SS           Ja, daar is kursusse, bereavement kursusse. Maar daar’s ook ’n dame wat ek nou mee saam werk, wat ’n companion is, wat ’n kort kursus van vier sessies aanbied: Dealing with loss.

 

En dit maak soveel sin uit ’n praktiese oogpunt. Ja, daar’s baie boeke, jy kan op die internet baie inligting kry oor rou, maar praktiese goed soos wanneer haal ek my trouring af? En as iemand onnatuurlik gesterf het, niemand berei jou voor op daai dag wat jy ’n uitkenningsparade moet gaan bywoon nie. Jy beland in Mamelodi en daar’s ’n sel en hoe getraumatiseer jy ook al is, niemand mag saam met jou daar ingaan nie. Hier stap ’n weduwee in en sy bewe soos ’n riet en daar’s sewe of tien verdagtes wat sy nou moet uitken agter glas. Dit is traumaties en daar’s triggers. Jy weet, en al die eerstes. Die eerste verjaarsdag, die eerste huweliksherdenking, die anniversary van die dood.

 

Daar’s mense wat rêrig daar is om ander mense te help hiermee, maar dis the university of life. Elkeen rou uniek. Elkeen rou afsonderlik op sy eie manier of haar eie manier. En ek sit hier met Mariandra Heunis, ek het jou nou-nou aan haar voorgestel, die pragtige mens. Dis nou presies ’n jaar gelede wat haar man vermoor is terwyl sy agt maande swanger was. Sy’t nou vier klein kindertjies almal onder sewe jaar oud. Hoe cope jy? Hoe begin jy van voor af met niks? Sy’t daar weggery met drieduisend rand in die bank. Waar begin jy? En dit kan met jou gebeur, dit kan met my gebeur.

 

JB            Dis ongelooflik. Ek het so baie respek vir wat julle doen. Ek word net opnuut herinner hierso, hierdie gaan baie verder as begrawe. Inteendeel, dis die begin, die begrafnis.

 

SS           Dis die begin.

 

JB            Ek dink nou aan ’n tipe buddy. Is daar ’n tipe plek waar die ouens bymekaar kan kom? Fasiliteer julle dit? Ek dink nou aan die AA, byvoorbeeld.

 

SS           Ja, daar is ondersteuningsgroepe. Ek het op ’n stadium ’n selfdoodondersteuningsgroep ook hier gehost. Maar ’n ondersteuningsgroepe het ’n rakleeftyd, en dis goed. Dit beteken mense beweeg aan.

 

JB            Die probleem word opgelos.

 

SS           Ja. Dan is daar die compassionate friends, wat ’n wêreldwye steungroep is vir ouers wat kinders verloor het. En dan is ek ook by die Hospice betrokke. Ek is die voorsitter van hulle bestuursraad en daar word ook kursusse aangebied in bereavement spesifiek.

 

JB            Voor ons aanbeweeg wil ek vinnig terugkom. Ek het hier verbygery vir AVBOB. Hoe het dit histories gewerk? Staat versus privaat, as jy nie geld het om te betaal as iemand oorlede is nie. Hoe werk dit?

 

SS           Ja, die ander is ook nie staat nie, né. Dit is ’n onderlinge genootskap, maar alles is privaat.

 

JB            Ek sien.

 

SS           Ja. So hier in Centurion is nou vyf ondernemers in een straat.

 

JB            Wragtig?

 

SS           Hulle noem dit the dead centre of Centurion. Ja, ons is vyf in die een straat. Ek was eerste, let wel.

 

Ja, die geld is ’n moeilike ding as dit kom by hartseer. Vir my is dit baie moeilik om geld te praat met ’n familie, maar weet jy, hierdie is ’n besigheid en om die diens te kan lewer, moet ek mense betaal. So deur die feit dat ek dinge anders doen, ek is nie die goedkoopste nie, maar ek kom ook nie met ’n tweedehandse Cressida en ’n paar vellies aan op ’n toneel om iemand te gaan haal wat dood is nie. So vir my is dit ’n beroep. Dis nie net sommer ’n job nie. So ek probeer regtig om ’n verskil te maak.

 

JB            Weereens, ek dink terug aan wat met my gebeur het en ek wens ek het geweet van jou of selfs dat ek jou kon bel drie jaar gelede. Net om te weet, want daar was so baie goed om aan te dink. Ek onthou selfs met die blomme. Hoeveel blomme wil jy hê? Ek weet nie hoeveel. Vyfhonderd rand se blomme, hoeveel is dit? Hoeveel kos moet daar wees? Ek het nie ’n clue nie. Hoe weet mense?

 

Jy weet, dit is sulke goed. En ek moet ’n fooitjie betaal vir die domineeAl hierdie goeters wat my actually baie geïrriteer het waar ek eintlik op my ma wou fokus instede van die admin.

 

SS           Ek dink dit maak dit maklik as ek vir jou kan sê ek doen alles, ek gee vir jou een rekening. Jy betaal een plek en alles is taken care of.

 

JB            Ek het ’n interessante ding gesien. Ek het jou nou al op ’n paar programme gesien, Carte Blanche, Kwêla.  Jy het natuurlik ook ’n projek oor demensie. Vertel die Klipkouers bietjie meer van daai een. Wat ook nou interessant is, my skoonpa het demensie en hy’s daar in Somerset-Wes in ’n plek.

 

SS           Weet jy, dit is iets wat my geraak het. In die beginjare het ek alles self gedoen. Drie keer, vier keer ’n nag self uitgegaan, mense gaan haal wat gesterf het. En wanneer ek in hierdie Alzheimer-eenhede inkom, dan was dit vir my skrikwekkend. Die mense sit in ’n sitkamer en waar ons gewoond is as ons iemand gaan haal by ’n ICU of by ’n Hospice of by ’n aftreeoord, dan maak ons gordyne toe, ons maak deure toe sodat die ander mense nie sien hier’t nou weer iemand gesterf nie, want wie’s volgende? Maar wanneer ons in die Alzheimer-eenhede kom, dan’s dit asof die personeel net eenvoudig vir jou sê, gaan aan. Moenie worry nie, hulle weet niks. Hulle registreer niks.

 

JB            O aarde.

 

SS           En ek het dit so bekyk en gedink, weet jy, hierdie mense sit net en wag om dood te gaan. Daar moet iets wees wat jy kan doen om hulle net ’n bietjie lewenskwaliteit te gee. En toe’t ek begin met ’n vroetelvoorskootprojek waar ek vroetelvoorskote in die gemeenskap laat maak het en dit dan geskenk het aan die eenhede, die Alzheimer-eenhede. Dit is gebaseer op die outistiese kinders se voorskote. Jy stimuleer al die sintuie. So daar’s ’n ritssluiter, knope, bubble wrap, ’n foto’tjie, skoenveters, enige girts-girts-ietsie, verskillende teksture.

 

En toe’t ek in Holland gaan kyk na hulle Snoezelen room konsep en wow, was dit nou amazing. De Hogeweyk is ’n village, ’n Alzheimer village in Weesp in Amsterdam. Al die mense wat daar bly, het Alzheimers, maar hulle lewe asof hulle normaal is.

 

JB            Hoe het jy van hierdie mense in Holland te hore gekom?

 

SS           Dit is waar dit begin het.

 

JB            Maar is hulle best in class, wil ek half sê?

 

SS           Hulle is absoluut as dit kom by bejaarde sorg. Baie goed.

 

JB            Wragtig? Dis interessant.

 

SS           So tydens my besoek daar het ek gesien dat, byvoorbeeld jy word ingedeel volgens jou leefstyl. Maar daar’s tannies met Alzheimer wat sit en aartappels skil, ’n ander een vou wasgoed op, waar hulle hier jou amper institutionalise. Jy weet, jy doen niks, jy sit net.

 

So toe’t ek begin met die multisensoriese kamer wat gebaseer is op die Snoezelen room konsep en kamers ingerig met vintage hoekies met outydse klere, hoede, handsakke, skoene, TV met produkte wat ek uit Amerika invoer, DVD oor vissies wat swem op die maat van klassieke musiek om die ogies besig te hou. En dis ongelooflik, ’n sandput, ’n eenvoudige ding soos ’n sandput, as die Alzheimer-pasiënt nader stap … Daar was ’n man wat vir vyf jaar nie gepraat het nie, en hy’t sy hand so in die sand gesit, toe sê hy: “See.”

 

JB            My magtig.

 

SS           “See.”

 

JB            Onmiddellik.

 

SS           So jy trigger letterlik die geheue van baie jare terug. Jy moet hom terugvat na daai era toe.

 

JB            Ongelooflik.

 

SS           So ek het baie navorsing gedoen oor Alzheimers en ek het ’n passie vir Alzheimers, want dis ’n verskriklike siekte.

 

JB            Okay, ek haal my hoed af vir jou. Wat’s die belangrikste besigheidsles wat jy tot dusver geleer het?

 

SS           Sjoe.

 

JB            Of lesse. Want ek weet dis altyd moeilik om een te pinpoint.

 

SS           Vince Lombardi het gesê: “Perfection is not attainable, but if we chase perfection, we can catch excellence”, en dis waarna ek strewe.

 

JB            Ek hou baie daarvan. Vir die Klipkouers daar buite: Vince Lombardi is natuurlik ’n legendariese American football afrigter en het hy nie begin en gesê: “Gentlemen, this is a football”?

 

SS           Ja, dis net hy.

 

JB            So back to basics, dis baie kragtig daai. Wat dink jy kan jy nog beter doen in die besigheid?

 

SS           Ek sou graag baie meer elektronies wou gaan, systems hê waar jy letterlik by ’n toneel is met jou iPhone, log die liggaam met ’n nommer en die name en laat enige iemand te enige tyd op ’n stelsel in log en presies weet waar’s die liggaam. Is hy by die dokter? Is hy by ’n diens? Is hy by die krematorium? Waar’s die dokumente? Hoe ver is die proes? Ek sou baie graag dit alles elektronies wil hê.

 

En laaste, begin met lewende, living funerals, wat ook ’n oorsese konsep is. Baie nuut in Suid-Afrika. Maar dit maak soveel sin wanneer jy iemand het wat terminaal is en hy’t ’n prognose van drie maande. Hou nou die begrafnis. Hy woon sy eie begrafnis by. Hy hoor die huldeblyke. Hy hoor die praises. Gee vir hom blomme terwyl hy nog leef. Dit maak soveel sin.

 

JB            Jis, dis interessant.

 

SS           Mense kyk my baie skuins aan as ek dit sê. Maak sin.

 

JB            Dis ongelooflik. Jô, ek moet sê, toe jy dit nou sê, aan die een kant gee dit my ’n uppercut van “Huh?”, aan die ander kant maak dit soveel sin. Sjoe.

 

Natuurlik ’n groot ding wat nou aan die gang is, jy’t ’n passie en ’n probleem met fetusse onder ses-en-twintig weke wat as basies – hoe kan ek sê …?

 

SS           Mediese afval.

 

JB            Hoe mediese afval hanteer word. Vertel die Klipkouers ’n bietjie meer van hierdie Dawid-en-Goliat-geveg.

 

SS           Ja, dis nou 2004 wat ek hierdie oproep gekry het – so dis dertien jaar gelede – uit ’n privaat hospitaal, ek moet ’n drieling gaan haal wat op twintig weke dood gebore is. Ek het daar aangekom met my carry cot – ek meen, twintig weke is ’n klien lyfie – en in die hospitaal, in die kraamsaal gesê ek’s hier vir die drieling. Hulle sê: “Jammer, hulle’s nie meer hier nie.” En ek kon nie verstaan nie. Ek sê: “Maar julle het my gebel. Hier is ek nou. Waar’s hulle?” Nee, hulle’s weg.

 

Nou, ek is ’n redelike fighter as dit kom by party dinge, en ek was up in arms. En vir die eerste keer daar het ek agtergekom dat die wetgewing in ons land bepaal wanneer jy onder ses-en-twintig weke swangerskapverlies ervaar, word dit as nie- lewensvatbaar beskou en hierdie fetusse word outomaties geklassifiseer as mediese afval. Jy mag nie kies om hulle te begrawe nie. Jy het nie daai reg nie.

 

En ek was woedend. Ek het gesê, hier lê ’n mamma, hartseer, al wat sy wil doen is sy wil ’n laaste eer betoon vir haar drieling. Sy wil afskeid neem. Vir haarself om te kan heel word. En ek het, hulle eenheidsbestuurder moes in haar kar klim en hulle gaan soek. En sy’t hulle gekry by die incinerator, teruggekom met die drie babas. Ek het hulle gekry. Ek het toe nou ’n pragtige begrafnissie vir hulle gehou, en dit het my gehaunt vir jare.

 

Dit het by my gespook en ek het hierdie innerlike dryfkrag van dit is nie reg nie, dit kan nie wees nie. Hoekom is dit so? Geweldig baie navorsing gedoen wêreldwyd, wat in elke land aangaan. En toe’t my dogter ’n miskraam. En hier staan ek aan die ander kant van die tafel en ek weet nie wat om vir my eie kind te sê nie. En dis net daar wat ek gesê het, somebody said somebody should do something about this, and then I realised I’m somebody.

 

JB            So kom ons kom terug na jy’t nou gesê jy’t navorsing gaan doen om te kyk in die ander wêreldlande en so aan. Waar, wie’t besluit, hoe’t dit sin gemaak? Hoe’t dit sin gemaak om tot daai gevolgtrekking te kom dat pre-ses-en-twintig weke maak nie saak nie?

 

SS           Ja. Dis nie lewensvatbaar nie. Kyk, die Wêreldgesondheidsorganisasie stel die riglyne daar en wêreldwyd is die gestational age tussen twee-en-twintig en agt-en-twintig weke rondom lewensvatbaarheid. Maar elke land het sy eie lewensvatbaarheidsafsnyouderdom.

 

So jy kan ons nie rêrig vergelyk met ’n eerstewêreldseland nie, want dit sou beteken as ek die lewensvatbaarheidkwessie wil aanspreek, dat babatjies van twee-en-twintig, een-en-twintig, twintig weke moet geresus word en in jou rural areas is dit net onmoontlik, en dis baie duur om babatjies in ’n ICU aan die lewe te hou wat onder vyfhonderd gram weeg. Maar die ironie is dat die landswette, die argaïese wette is net nooit in lyn gebring met ons grondwet nie. Dis die probleem.

 

So my uitgangspunt in die hofsaak is die menseregtekwessie. Ek sê die feit dat jy nie die keuse het om te besluit wat met jou ongebore baba se lyfie gaan gebeur nie, is ’n gruwelooslike skending van jou basiese menseregte. Jou reg op privaatheid, jou reg op gelykheid, jou reg op waardigheid word aangetas. Dis al.

 

En watse skade gaan dit nou enige iemand doen? As dit vir daai ouerpaar, ek wil nie die woord closure gebruik nie, want ek glo nie aan closure nie, maar as dit hulle gaan help om gesond te word deur op ’n waardige wyse afskeid te mag neem van wat hulle as hulle baba beskou het … Jy weet, jy kry ’n wetlike definisie en jy kry ’n mediese definisie. Jy sê tog nie jy verwag ’n fetus tot op ses-en-twintig weke en dan verwag jy ’n baba nie. Jy praat van jou baba van dag een af.

 

Die band wat daar is tussen ’n mamma en ’n ongebore baba is so sterk. En in vandag se tyd met jou sonars, jou 3D, jou 4D scans, kan jy al visualiseer hoe gaan jou baba lyk. Dis ’n geweldige onerkende verlies en dit word nie in die samelewing as ’n verlies beskou nie. Dit word net so onder die mat ingevee. Maar die bottom line is dat niemand het nog ooit opgestaan hiervoor nie. Niemand. En dis tyd.

 

JB            Sjoe, dis kragtig. En om kras te wees, ek bedoel, as jy nou uit die regeringsoogpunt kyk, hulle bespaar geld. Ek bedoel, hulle hoef nie te worry oor die babatjie ook nie, want hulle stuur hom nou weg en daai dinge ook. So daar’s twee kante hierso. Hier’s hierdie baie persoonlike saak wat ek saam met jou stem, en ander kant is, nee regering, jy hoef nie te worry oor dit nie. So hoeveel te meer wil jy nou nie, as iemand bereid is om die probleem vir jou weg te vat, as jy nie hoef te worry om te gaan weggooi nie, hoekom soveel te meer dan nie?

 

SS           Jy weet, en in Engeland voel hulle so sterk hieroor dat daar ondernemers is wat eenmaal ’n maand na die hospitale toe gaan en al hierdie, in Engeland werk hulle op ek dink dis vier-en-twintig weke is lewensvatbaar, tussen twee-en-twintig en vier-en-twintig weke, dan word hierdie lyfies gehaal by die ondernemers en die hospitale en hulle hou een amper soos ’n massabegrafnis en hulle plant bome. En die ouers het ’n plekkie om na toe terug te gaan.

 

JB            Dis interessant. Ek het nie eers geweet van Engeland in daai opsig nie. Baie interessant.

 

SS           So dis ’n geweldige duur proses. Dis iets wat ek aangepak het en ek weet net ek moet dit klaar maak. Daar’s geen manier wat ek dit kan los nie.

 

JB            Wel, dit klink vir my of jy in die pylvak is. Ek dink enige iets wat, veral as die groot manne begin sê hierdie is kompleks, ek dink dis ’n positiewe teken. Ek kan nie dink jy gaan dit so ver vat om vir iemand te sê, nee dis irrelevant nie.

 

SS           ’n Baie interessante wending in die hofsaak het toe nou gebeur die 11de September toe die Katolieke kerk van KwaZulu-Natal, die kardinaal, hofdokumente ingedien as ’n tweede applikant in die saak.

 

JB            Dis fantasties.

 

SS           Hulle voel so sterk daaroor, want dit het onlangs gebeur in een van hulle gemeentes waar ouers nie ’n babatjie kon kry voor ses-en-twintig weke om te kon begrawe nie. En hulle voel dit is ’n skending van hulle vryheid van geloof. Want in die Katolieke kerk is dit lewe vanaf konsepsie.

 

JB            Natuurlik, sjoe.

 

SS           So eintlik het hulle my so gehelp deur as ’n tweede applikant in te tree tot die saak. Dan het ek amicus curiae, Cause for Justice in Stellenbosch, is my vriend van die hof. Daar’s soveel mense wat op die kantlyn sit, die Human Rights Commission, wat letterlik hierdie saak dophou om te sien watter kant toe gaan dit.

 

JB            Ja, kyk, ek dink nie mens kry ’n meer heavy weight partner as die Rooms-Katolieke kerk.

 

SS           Ja, dis die grootste geloofskerk in die wêreld.

 

JB            Dit is so. So dis ’n fantastiese verwikkeling. Sonja, dit is heerlik om met jou te kon gesels. Ek kan rêrig baie lank nog met jou gesels. Dankie weereens, dit is heerlik om jou in die oë te kan kyk. Dis goed, ons het minder swart en grys nodig.

 

SS           Ag, baie dankie, Jacques, en ek wil amper sê dis ’n voorreg dat jy al die pad van Engeland af gekom het om met my te gesels. Baie dankie. Jy is ’n Klipkouer van formaat.

 

JB            Ek waardeer dit, baie dankie. Sonja, ons gesels gou-gou weer.

 

SS           Dankie, Jacques.

 

 

Back To Top