skip to Main Content

Goeie middag Klipkouers, dit is Jan-Hendrik Oosthuizen hier, ek is die uitvoerende hoof van ‘n kreatiewe agentskap genaamd Etiket, ons funksioneer in die kreatiewe omgewing, waar ons baie kreatiewe werk doen, wat daarna kyk om dinge en boodskappe op ‘n nuwe manier na mense toe te bring.

 

Vertel ons ‘n bietjie meer van jouself.

Ek dink, van my perspektief af, my wortels skiet nog baie diep hier in Suid-Afrika, ons is baie lief vir die hoofstad en ek bly tans, en my kantoor is tans in Pretoria geleë. Ek kom ook oorspronklik van Pretoria af, ek is hierso gebore, maar as klein seuntjie het ons gesin Boksburg toe getrek. Ek het  basies grootgeword en skoolgegaan in Boksburg, en ek sien myself dus as ‘n baie trotse Oosrander. Ek het egter my skoolloopbaan voltooi in Pretoria in Hoërskool Waterkloof, waarna ek geskuif het na die Universiteit van Pretoria. Ek dink dis ook in hierdie jare wat die Jakarandastad my hart gesteel het en hoekom ek tot vandag toe nog so lief is vir Pretoria.

Ek en my vrou het nou onlangs die trotse ouers, vir die eerste keer, geword en ons mannetjie, Adriaan, is nou elf maande oud en het regtig mamma en pappa se lewens totaal oorgeneem. Ons is nou besig met die reëlings vir sy eerste verjaarsdag partytjie, en besef nou eers wat alles deesdae in ‘n kinderpartytjie ingaan. Dat dit vir ons makliker is om ‘n suksesvolle besigheid saam te sit as wat dit is om ‘n kinderpartytjie suksesvol uit te rol.

 

Gee ons ‘n opsomming van die tipe besigheid en industrie?

Etiket is ‘n kreatiewe agentskap, wat basies kompeteer in die advertensie industrie en, as agentskap, fokus ons op alle vlakke van kommunikasie, van wat ons noem bo-die-lyn advertensie of above-the-line wat TV, druk ensomeer insluit, tot onder-die-lyn of below-the-line advertensie wat nou weer meer gefokus is op direkte advertensies, maar ek dink die kern van Etiket en die kern van al ons veldtogte en projekte bly maar digitaal van aard. ‘n Mens kan nie deesdae werklik in die advertensie industrie speel as jy nie ‘n baie sterk digitale benadering het nie, so ons speel dus ook ‘n baie sterk rol in digitale asook sosiale media bemarking.

Om ons rol verder te omskryf gebruik ek baie keer die voorbeeld van stories, die advertensie en kommunikasie industrie is maar gebou rondomdie vertel van stories, ons glo dat elkeen van ons kliënte en elke handelsmerk met wie ons werk ‘n unieke storie het om te vertel, en op die einde van die dag is dit ons, as storievertellers,  se werk om hulle te help om eerstens hulle stories aanmekaar te sit, en tweedens seker te maak dat daai stories aan die regte mark en op die beste manier vertel word.

 

Ek weet nie of jy vir die klipkouers wil sê van julle kliënte nie? Want ek dink dis nogal ‘n baie indrukwekkende portefeulje, veral die groter maatskappye en natuurlik dat julle ook ‘n baie sterk Afrikaanse arm het.

Absoluut, en ek dink ons is baie trots op die kliënte wat ons op ons portefeulje het, dit sluit in groot kliënte soos FNB, ons doen baie werk vir FNB deur die bank hier in Suid-Afrika, ons doen baie werk vir Samsung, ons hanteer al hulle digitale bemarking in Suid-Afrika, ons werk met kliënte soos Com-Air vir wie ons baie korporatiewe kommunikasie projekte hanteer. In ‘n Suid-Afrikaanse konteks werk ons ook met Scorpion Legal Protection, wat in die versekerings- of die regsversekerings-kant lê. En as dit by Afrikaans kom is ons ook trots Afrikaans en wys ons portefeulje dit ook baie sterk, waar ons met groot Afrikaanse name werk, onder andere die ATKV, die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging, ook die Pendoring Bemarkings-Toekennings, waar ons baie nou saam met die pendorings werk en baie van hulle bemarking en die saamstel van die gala-aand en die gala-geleentheid. Ook trots daarop om met handelsmerke soos Maroela Media te werk, ook Akademia, die Afrikaanse universiteit, so ‘n baie wye verskeidenheid van kliënte en ek dink ons het ‘n baie sterk Afrikaanse portefeulje ook.

 

Etiket, hoe sê mens dit in Engels, dis Etiquette, né?

Ek dink dit is nogal ‘n punt van kontensie, waar, veral in die Engelse geledere word Etiket baie vinnig E-ticket. Nee, ons is nie in die toerisme bedryf nie, maar dis ‘n vraag wat ons baie kry; hoekom noem ‘n mens ‘n advertensie maatskappy Etiket? En ek dink ons het ‘n baie definitiewe antwoord daarvoor, want ons sê baie keer die naam Etiket sê presies wat ons doen en hoekom ons dit doen. Nou vir ons het die woord etiket twee betekenisse en ons sinspeel baie lekker op altwee van daai betekenisse. Eerstens beteken etiket ‘n plakker, of in Engels ‘n label, nou ‘n etiket is iets wat jou produk omvou en wat in die regte taal aan die regte mark verduidelik waaruit die produk bestaan en wat, in die regte konteks verduidelik dit wat die waarde van die produk is en wat die waarde is wat die produk tot jou lewe kan voeg. En dis presies wat ons doen, ons skep brands– of handelsmerkstories wat verstaanbaar is, wat geliefd is en wat mense koop omdat hulle daaraan glo, so ons skep daai etiket of daai label wat rondom jou produk of jou diens of jou handelsmerk getrek word.

Dan aan die ander kant ook, tweedens beteken etiket, etiket, soos in Tannie Emsie Schoeman se verduideliking, dis ‘n versameling gebruike of aksies wat as korek of aanvaarbaar gesien word deur die samelewing, en in hierdie definisie lê ons tweede area van fokus, want alles wat ons by die agentskap doen moet tot sekere aksies lei, ons bou dus veldtogte wat mense tot aksies motiveer. So etiket is vir my ‘n wonderlike manier om te beskryf presies wat ons doen.

 

Dis baie kragtig, en wat ek ook uit dit kry is die kreatiwiteit wat in julle naam ingaan, ek wil amper sê julle walk the talk, dis nie sommer net ‘n naam nie, daar is ook baie kreatiewe insette en goed wat daar deurdink is.

Absoluut, en ek dink dit is ‘n goeie manier om ‘n gesprek mee te begin, want die eerste vraag is; “Wat beteken Etiket?” Omdat dit net so bietjie buite die normaal is, mense wonder altyd wat die oorsprong daarvan is, so hy werk vir ons lekker en dis vir ons ‘n lekker posisionering ook, veral in ‘n kreatiewe omgewing.

 

Jy’t nou gepraat van aksie, om die ouens op ‘n sekere manier te laat oorgaan in aksie. Waar is daai lyn wat jy trek van uitkoms-gedrewe, teenoor, ons het vir jou ‘n miljoen rand se publisiteit gekry? Ek neem aan digitaal forseer jou of help ook om jou meer uitkoms-gedrewe te maak op die einde van die dag, want ‘n kliek is ‘n kliek, jy kan nie nonsens praat daarom of spekuleer nie?

Dit is definitief so, ek dink wat baie belangrik word, is die manier hoe die advertensie industrie benader word, is besig om baie sterk te verander, ons praat altyd van tradisionele bemarking teenoor jou meer new age tipe bemarking waar, in Engels praat ons altyd van ads vs acts. In die verlede het dit alles oor die advertensie gegaan, deesdae gaan dit nie meer daaroor nie, advertensie is maar net ‘n medium tot daai aksie wat geneem word, en ek dink dit is geweldig belangrik. Die dae waar ‘n advertensieveldtog bestaan het uit ‘n advertensie op TV, en dit is hierdie wonderlike advertensie wat geweldige bewusmaking skep, maar nie tot aksie lei nie, wat ‘n problem is, en ek dink selfs vandag nog is dit ‘n groot probleem as ‘n mens daaraan dink. Mens kan baie advertensies op TV, kan jy die storielyn onthou, maar as jy dit moet terugtrek na die handelsmerk wat agter die storielyn is sukkel mense daarmee, want die storie is eintlik die held in die verhaal en nie die handelsmerk nie. Dis tipies daai benadering wat baie sterk besig is om te verander en ek dink digitaal speel ‘n groot rol daarin, want digitaal gee vir jou die vermoë om baie direk te begin kontrole uitoefen. Jy kan baie meer direk weet wie jy geteiken het, wie jy bereik het, wat die resultate is, en jy kan baie vinniger iemand vat van “ek stel belang” tot “ek het ‘n verkoop-siklus voltooi en die produk of diens is verkoop”.  Ek dink dit is wonderlik hoe dit verander, die mark raak al hoe meer uitkoms gebasseer, as mens nie uitkomste kan sien nie, dan word die vraag gevra of die veldtog relevant was en of die veldtog wel die doelwitte behaal het wat dit moet behaal. So dit is op hierdie stadium van die geveg, en mens sien dit ook met die ekonomie wat besig is om bietjie moeiliker te gaan, al jou handelsmerke het baie meer bang for their buck nodig, met ander woorde, dis nie meer net goed genoeg om bewustheid te skep daar buite nie, daai bewustheid moet tot resultate lei en as daar nie direkte bemarkings-resultate is nie, as dit nie tot verkope lei nie, dan raak mense baie skepties oor enige bemarkingsveldtog.

 

Dis baie goed om dit te hoor, ek noem nie name nie, maar ek kom terug na twee van die versekeringsreuse in Suid-Afrika, waar ek vir hulle mense wat in bemarking en besigheidsontwikkeling is gevra het; “Wat is die gemiddelde waarde van die versekerings-produk wat jy verkoop?” En hulle kon nie vir my ‘n reguit antwoord gee nie. Nou die oomblik wat jy nie weet wat jou werd is nie, hoe meet jy wat die impak van jou bemarking is? Dit is nogal vir my skrikwekkend, om eerlik te wees. Of sal ek sê dit gaan dan te goed, as jy nie bekommerd is daaroor nie?

Ek stem heeltemal saam en ek dink die tweede voorbeeld is meer in die kol, ek dink dis maatskappye waar dinge te goed gaan en hulle raak rustig en hulle gaan sit op hulle louere, en as hulle hulle oë uitvee dan verander die mark, en dan moet daai strategieë baie vinnig aangespreek word.

 

Wat maak julle besigheid anders as julle kompetisie?

Ek dink wat ons anders maak as ons kompetisie of ons mededingers, het baie te doen met hoe ons te werk gaan. Dit gaan nie vir ons primêr oor die skep van mooi prentjies nie, en dit is baie keer wat mense dink; ‘n advertensie agenstkap is daar om ‘n mooi advertensie te maak, ‘n mooi advertensie op die TV, ‘n mooi gedrukte advertensie in die koerant. Daai mooi prentjie is slegs een van die uitkomste van die projek, vir ons gaan dit daaroor om saam met ons kliënte te werk om besigheidsprobleme of uitdagings wat hulle het aan te spreek, deur wat ons noem design thinking toe te pas om uiteindelik ‘n kreatiewe oplossing op die tafel te sit wat ‘n werklike verskil in daardie mense se besighede kan maak. So ons posisioneer onsself dus baie as ‘n strategiese vennoot aan ons kliënte, waar ons ‘n baie sterk strategiese rol eerder speel, dit is gewoonlik waar ons kliënt ons toelaat om reeds op strategiese vlak betrokke te raak en waar ons langtermyn verhoudings met ons kliënte kan bou, waar ons ons beste werk doen. Ek dink nog iets waaroor ons ook baie baie opgewonde en baie trots is van ‘n Etiket perspektief af, is ons het begin om ons hele strategiese metodologie saam te vat in wat ons noem die reimagine toolkit. Nou hierdie reimagine toolkit is basies ‘n instrument wat ons gebruik om ons strategiese benadering saam te vat en wat ons baie effektief aanwend om ons kliënte te help met die strategiese posisionering van hulle eie besighede, met die instrument self skuif ons dus die kennis en die ervaring wat ons, as oorspronklike vennote, wat die besigheid begin het, opgebou het, na ‘n sentrale platvorm wat deur enige een van ons mense gebruik kan word en wat uitgerol kan word. Ons is baie opgewonde oor die reimagine toolkit en ons glo dat dit vir ons ‘n verdere kompeterende voordeel sal kan gee omdat ons basies dit wat ons opgebou het, die kennis, die ondervinding, die passie, verpak ons nou in ‘n formaat wat enigeen van ons werknemers kan vat en verder kan uitrol.

 

Dis fantasties. Ek neem aan, soos jy sê, daai ideale kliënt is daai ou wat julle van die begin af met die strategie beplanning sit, né? Teenoor die ou het nou klaar sy strategie uitgewerk en jy moet nou kreatief hom help by ‘n strategie uitkom wat dalk nie die ideale strategie is op die einde van die dag nie, en julle werk dalk net soveel moeiliker maak. 

Dis baie waar en ek dink ons doen nie baie goed met kliënte wat baie geset is op die manier hoe hulle dinge wil hê nie, so met ander woorde ‘n kliënt wat na jou toe kom en sê “Ek soek ‘n TV advertensie” of “Ek soek ‘n gedrukte advertensie en dis hoe hy moet lyk, hy moet rooi wees en daar moet ‘n hond op wees” en en en en nie, ons is nie baie goeie order takers nie. Dis die hele ding waar die tipe kliënt wat ons ook aantrek bietjie anders is, met ander woorde ek soek nie iemand wat vir my gaan sê “Dis presies wat ek wil hê en ek soek net iemand om dit uit te voer, net ‘n eksekusie vennoot” nie, ons soek iemand wat ons gaan betrek en sê “mense, hierso is my besigheidsprobleem, hoe kan ons met kreatiewe oplossings vorendag kom om hierdie besigheidsprobleem op te los?” Dit is die tipe kliënte wat ons opgewonde maak, want dis waar mens werklikwaar jou kreatiwiteit kan aanwend, en ek dink dis ook vir my baie keer interessant, as ons kyk na professionele industrieë, mens gaan nie na jou argitek toe en sê vir jou argitek; “Ek wil ‘n huis hê en dis presies hoe hy gaan lyk en jy moet dit doen en hierso moet ‘n pilaar wees en die vloer moet so wees en sus wees” nie, jy gaan na jou argitek toe en jy gee vir hulle dit wat jy wil bereik en hulle gebruik hulle professionele ervaring en kennis om dit uit te rol, maar mens het dit nie altyd in die kreatiewe industrie nie, daar word baie voorgesê in die kreatiewe industrie, want almal is mos ‘n bemarker en almal  het mos bemarkingskennis, en ek dink dit is daardie tipe kliënte wat Etiket definitief wil vermy. Soos ek sê, ons doen ons beste werk waar ons eerder as strategiese vennote gesien word, om besigheidsprobleme aan te spreek met kreeatiewe oplossings, as wat ons gesien word as “hierso is my ding en ek wil presies hê julle moet dit so en so en so uitvoer”.

 

Hoe gaan julle te werk om hierdie tipe kliënt te werf, en watter tipe industrieë, vind jy, neig meer na hierdie ideale scenario toe of laat julle toe om probleme meer kreatief op te los?

Ek dink die industrie waarin ons werk is definitief nie ‘n “cold-calling” of ‘n inloop-besigheid tipe industrie nie. Verkope gebeur op ‘n baie hoë vlak, so ons is primêr ‘n industrie wat gedryf word deur reputasie en deur netwerke wat opgebou word. Daar gaan dus baie tyd daarin om ons eie handelsmerk te ontwikkel en te posisioneer asook om die Etiket naam so sigbaar as moontlik te maak. Die mark moet jou as ‘n kenner op jou veld sien en ‘n vertrouensverhouding moet geskep word waar daai kliënt jou totaal vertrou, dat jy ‘n werkbare oplossing vir hulle probleem na die tafel gaan bring, en ek dink dis baie maal ‘n baie lang verkoopsiklus wat gevolg moet word aangesien verhoudings stelselmatig met tyd geskep word voor die vertroue daar is vir daai persoon of vir daai kliënt om jou in hulle besigheid toe te laat. Ek dink op die einde van die dag hoe beter Etiket posisioneer word en hoe beter substansie ons agter ons eie handelsmerk skep, hoe makliker en hoe korter word daai verkoopsiklus. Ek dink tot in ‘n groot mate, van ‘n bemarkingsperspektief af het dit maar baie te doen met verwysings, hoe beter jy die huidige projek doen, hoe groter is die kanse dat dit sal lei tot verdere werk of verwysings na nuwe kliënte toe.

Wat die industrie betref, ek dink nie dit is as sulks dat ons na ‘n sekere industrie toe neig, of dat ‘n sekere industrie as ‘n beter industrie gesien kan word nie, as ons kyk na ons huidige industrieë ook, ons doen baie werk in die finansiële sektor, ons doen baie werk in die media, in die versekerings-industrieë, so dit is regtig regoor die spektrum en dit gaan vir ons nie primêr oor die industrie nie, dit gaan vir ons oor die ingesteldheid van die kliënt. Om daai regte kliënt, ons praat van ‘n reimagine kliënt, is werklikwaar ‘n kliënt wat bereid is om hulle situasie te reimagine, dis daardie kliënte waarin ons belangstel en dis daardie kliënte wat ons wil werf en met wie ons ‘n pad wil stap om hulle dan deel van ons kliënte portfeulje te kry. Ek dink, van Etiket se perspektief af, wat vir ons ook baie belangrik is, is eerder as om ‘n groot verskeidenheid van baie kliënte te hê, het ons ook weereens ‘n baie meer boutique tipe benadering, so met ander woorde ons wil eerder die agentskap wees wat baie selektief ons kliënte kies en waar ons kliënte ons net so selektief kies, en ons spandeer geweldig baie tyd en aandag aan daai kliënte, eerder as om ‘n baie groot see van verskeidenheid kliënte te hê vir wie mens nie regtig die tyd of die aandag kan gee nie.

 

Jy’t genoem dat dit belangrik is om as ‘n kenner gesien te word, watter tipe strategieë gebruik julle om as ‘n kenner gesien te word?

Dit is ook geweldig belangrik, in Engels praat ons altyd van Ford leadership so dit gaan baie daaroor om elkeen van die senior mense in die agentskap het sy of haar eie passie en elkeen van ons het goeters wat ons dryf, en ek dink dit is baie belangrik om daardie te identifiseer en dan, om nie net die handelsmerk van die maatskappy te bou nie, maar ook die handelsmerk rondom die individue te bou, want ek dink verkope is net soveel in die hande van die individu as wat dit van die maatskappy is, en ek dink meer gereeld is dit meer individue wat die regte ding op die regte tys sê, wat besigheid na ‘n maatskappy aantrek, as wat dit die maatskappy se handelsmerk is. So ons fokus, en wil baie meer daarop fokus, om die individue in die maatskappy, profiele en kenmerke rondom hulle uit te bou as om net op die maatskappy te fokus. Saam met dit is ook ‘n baie sterk PR dryf waar dit belangrik is om gesien te word daar buite, om gereeld te praat op ‘n verskeidenheid van platvorms, om gereeld onderhoude toe te staan aan die media, en om net op alle vlakke gesien te word en seker te maak dat jou teikengehoor na jou luister en dat jy die regte boodskap by hulle uitkry. So ek dink dis ook baie die selfde raad as wat ons vir ons kliënte gee moet ons net so ook toepas op Etiket en Etiket se eie handelsmerk, want hoe beter ons onsself posisioneer, soos ek gesê het, hoe beter is die besigheid van more.

 

Wat is die belangrikste besigheidsles wat jy tot dusver geleer het?

Ek gaan sê daar’s drie lesse wat vir my baie na aan die hart is, eerstens, vir my een van die grootste lesse; in besigheid vandag gaan dit oor fokus, hoe meer gefokus jy is, hoe meer suksesvol sal jy op die lang duur wees, en ek dink dis een van die dinge waarmee meeste van entrepreneurs, ons as entrepreneurs, sukkel, is om fokus te behou, want entrepreneurs is altyd op die uitkyk vir nuwe geleenthede rondom hulle ons is bereid en ons is geneig om maklik verly te word deur die nuwer, meer aantreklike, meer opwindende geleenthede, en wat dan gebeur is dat ons ons oë van die bal afhaal en fokus verloor. Dis daai kraai sindroom, daar’s baie blink goeters daar buite en ons het ‘n oog om daai blink goed te spot, en ek dink ons is baie lief daarvoor om soveel as moontlik geleenthede aan boord te bring, hoe meer, hoe beter, en dan begin ons sukkel om al die balle in die lug te hou, ons het net te veel goeters wat ons op fokus, so mens moet dus gefokus bly. Ek dink ook as ek na Etiket se eie geskiedenis kyk is dit interessant om te sien wanneer ons die suksesvolste was, en dit was die tye toe ons absoluut gefokus was en toe ons presies geweet het wat ons wil hê, en hoe ons daar gaan uitkom en dit is die tye toe ons werklik berge verskuif het. Maar dis die tye waar ons ons fokus verdeel het, daardie is die tye wat ons begin het om rigtingloos te dobber en nie as sulks rigting te kry nie. So ek dink my eerste les wat ek baie sterk oor voel is daai fokus, ons moet fokus behou.

As ek ‘n tweede les kan gee, omring jouself met ‘n sterk span, dis belangrik om te besef dat jy nie goed is in alles nie en dat jy definitief ook nie genoeg tyd het om alles jouself te doen nie, jy moet ‘n gedugte span om jou hê om jou te help in die areas waarin jy nie sterk is nie en waarvoor jy nie tyd het nie, en ek dink daai gesegde dat jy jouself met reuse moet omring is geweldig waar, want om suksesvol te wees moet ons ons egos ook laat vaar. Omring jouself met mense wat in vele opsigte beter as jy is, eerder as om bang te wees dat hulle jou gaan uitpresteer en jy jouself dus met dwergies omring.

En dan ‘n laaste les wat vir my ook na aan die hart is en dis iets wat ons ook op ‘n harde manier geleer het van Etiket perspektief af, ‘n mens moet tyd maak om aan jou besigheid te werk eerder as om net in jou besigheid te werk. Soms is dit nodig om ‘n tree terug te gee sodat jy na die besigheid kan kyk, en net soos met ‘n kar die enjin te kan diens en verstellings te kan maak, maar as jy heeltyd vasgevang is om die kar te bestuur, gaan die kar een of ander tyd langs die pad staan. So mens moet bietjie tyd maak om uit die kar uit te klim en die enjinkap oop te maak en aan die enjin te werk, en niemand ken jou besigheid se enjin beter as jy nie, net jy kan werklik daai verstellings maak wat nodig is.

 

Ek hou baie daarvan en ek dink dis veral so krities, ek bedoel, die rede ook om aan jou besigheid te werk is juis om vir jou, ek wil half sê, ‘n kreatiewe asemhaling te bied, en ek dink soveel te meer vir julle ouens wat nou juis in die kreatiewe industrie is, om spasie te skep om net ‘n bietjie die brein rustiger te maak sodat julle juis kreatief kan dink.

Definitief, en mens besef nie altyd hoe baie jou besigheid gediens moet word nie, hoe gereeld jy eintlik dinge moet verander en aanpas en moet optimaliseer, maar ons het net nooit tyd daarvoor nie, want ons is so besig om in die straat af te jaag, so soms moet ‘n mens stop, en diens jou enjin, en dan’s jy weer reg vir die volgende paar kilometers.

 

Wat dink jy kan julle nog beter doen in die besigheid?

Ons het ook nou onlangs ‘n nuwe hoofstuk in Etiket se bestaan begin, die maatskappy het van ‘n klein maatskappy gegaan na ‘n baie vinnig groeiende maatskappy wat aanhoudend uitbrei. Ons gaan basies van, soos wat hulle sê ‘n start-up company na ‘n scale-up company en ek dink met daai tipe groei kom daar baie verandering, die manier waarop mens dinge in die verlede gedoen het en hoe dinge in die verlede gewerk het, en die besigheidsprosesse wat ons in die toekoms moet toepas, verskil baie. As ‘n klein, baie hegte maatskappy, het dinge baie maal net outomaties gebeur en dit was maklik, kommunikasie was maklik, prosesse was maklik, maar ek dink soos wat ons ook gegroei het word alles meer formeel en alles word moeiliker, en dis net nie meer so voor die hand liggend en so maklik nie, nou is ons op ‘n punt waar ons meer prosesse nodig het, ons het beleide nodig, daar’s verskeie vlakke van beheer, daar’s meer infrastruktuur, meer bestuur. Ek dink soos wat mens groei verander daai reëls van die spel en ‘n mens besef dit nie altyd vinnig genoeg nie, mens kan nie ‘n groeiende maatskappy die selfde bestuur as wat ‘n mens ‘n maatskappy bestuur wat net vyftien of twintig mense groot is nie. En dis nogal ‘n groot sprong in hoe ‘n mens dinge benader, ons is nie meer ‘n klein maatskappy nie, ons moet baie versigtig wees om die maatskappy nie soos ‘n klein maatskappy te probeer bestuur nie. So een van die dinge wat ons definitief altyd beter kan doen, is interne kommunikasie en dis ook iets wat ons op die harde maniere geleer het, soos ons groei moet daar baie meer doelbewuste kommunikasie geskied. In die verlede was informele, in-die-gange kommunikasie goed genoeg en dit het gewerk om almal op die selfde bladsy te hou, maar soos wat mens groei moet mens baie fokus op kommunikasie. Saam met kommunikasie gaan change management ook, ‘n mens moet jou prosesse en strukture verander om kompeterend te bly, maar die sukses van al sulke veranderinge bly in die manier hoe dit geimplementeer word en hoe daai change management gedoen word en hoe jy op alle veranderinge jou span inlig daarvan en seker maak hulle is aan boord daarmee.

 

Jy’t nou gesê vyftien tot twintig, hoe lyk daai sprong mense oor die afgelope agtien tot vier-en-twintig maande?

Kyk, ons het die maatskappy in die afgelope agtien tot vier-en-twintig maande verdubbel, ons is nou so net oor die veertig mense en ek dink dit gaan ook ‘n baie sterk groei jaar wees, ons behoort binne die volgende twee, drie maande op te gaan vyf en veertig toe, en teen volgende jaar hierdie tyd kyk ons al na oor die sestig mense wat deel is van die agentskap.

 

Watse raad kan jy vir die Klipkouers gee ten einde nuwe geleenthede te identifiseer?

Die beste raad om nuwe geleenthede te identifiseer, volgens my, is om rustig te raak, daar is altyd geleenthede rondom ons en daar is meer as genoeg geleenthede, daar is nooit ‘n tekort daaraan nie. Die probleem lê by die feit dat ons nie die geleenthede raaksien nie, ons is so besig met alles wat gedoen moet word en dis altyd krisis bestuur en daar is altyd soveel dinge wat ons aandag opvat en soveel belangrike goed waarmee ons besig is, dat ons net nooit tyd maak om op te let na die geleenthede wat rondom ons is nie. Daar is genoeg geleenthede, haal net asem en raak rustig, want ons sien nie hierdie geleenthede raak as ons gejaagd en gestress is nie.

Ek hou baie daarvan, ek sê altyd; Onthou net, vir alles wat jy ja sê, sê vir iets anders nee en dit is juis omdat, soos jy sê, daar is so baie geleenthede, moenie oorhaastig net ja sê nie, want êrens gaan jy nie tyd hê vir die ware geleentheid nie.

Ek stem heeltemal saam daarmee ook, en ek dink soos wat ‘n mens se besigheid groei is dit ook een van die baie interessante lesse en ek dink vir ons, as ‘n maatskappy, is dit een van die moeilikste lesse om te leer, is om nee te sê, mens moet weet wanneer om nee te sê en vir wat om nee te sê, want baie keer vat ons alles aan, en dan is ons nie as sulks reg om alles uit te voer nie, so dis belangriker om nee te sê en selektief te wees met wat jy ja sê, as om vir alles ja te sê.

Back To Top