skip to Main Content

Hoenders loop rond op die werf soekende vir kos en lyk of hulle die heeltyd wil kopstamp. Herinner my aan sekere ouens in Welkom gedurende my tienerjare en aan die ou Afrikaanse gesegde: “Die henne wat die meeste kekkel lê nie die meeste eiers nie. (dié wat die meeste praat rig nie die meeste uit nie).

Dan is daar ook die ou gesegde van sekere mense wat altyd ‘n eier te lê het (die wat altyd iets te sê het wat nie noodwendig opbouend is nie).

‘n Boer aan die ander kant, is beslis nie ‘n hoender nie. Hy maak planne om probleme op te los, hy skep waarde, voer miljoene mense, skep werk, bewerk die grond, bou ‘n bate vir sy nageslag…. Die lys van goeie hou nie op nie.

Die afgelope paar weke kon ek nie help om ‘n paar hoenders raak te sien nie. Dis nou mense wat die heeltyd eiers te lê het. Voorbeelde:

  • ‘n Hoender wat ‘n top verkopende baard-olie aanvat oor hoe goedkoop en swak die produk werklik is (nadat hy dit laat analiseer het), terwyl duisende ouens nie genoeg kan kry van die produk nie.

  • ‘n Kunstenaar wat spesiaal ‘n liedjie skryf en verkoop ten einde geld in te samel vir die droogtenood. ‘n Hoender laat die kunstenaar weet dat daar wel ‘n ander en beter fonds is wat mense eerder moet ondersteun. Die hoender het verkeerdelik aangeneem dat die kunstenaar eers sy “cut” vat en dit wat oorbly skenk.

  • ‘n Meisie in Parys besluit om haar 16 jarige verjaarsdag te vier deur die gemeenskap uit te nooi om niebederfbare kos, troeteldier kos en komberse te doneer vir behoeftiges en honde by die DBV. ‘n Hoender besluit om haar te waarsku hoe gevaarlik dit is om so iets te doen en dat sy haarself blootstel.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek weet dat daar ALTYD hoenders te vinde sal wees, veral waar mense ‘n  positiewe impak probeer maak.

 

So wat probeer ek sê:

  1. As jy nie deel is van die oplossing of iets probeer verbeter nie, is dit beter om stil te bly.
  1. Mense respekteer en hou van boere…wees soos ‘n boer.

 

Lekker naweek en ek laat jou met Langenhoven:

Die man wat ek na soek, is nie die wat die minste foute maak nie, maar die wat die meeste foute regmaak.

 

Back To Top