skip to Main Content

Groete hier uit die stad van Constanta in Romenia. As julle wonder wat ek in Romenia doen; ek steek Oreo koekies weg!

Ek’t ʼn vriend, Jeremy. Hulle behartig al die prysuitdelings en kompetisies vir groot maatskappye. Huidiglik het Oreos ʼn Europese kompetisie waar hulle die wenpak koekies moet wegsteek in verskillende supermarkte in verskillende stede.

In November het ek besluit dat een van my doelwitte is om drie Oos-Europese lande hierdie jaar te besoek. Drie weke gelede het my vriend my vertel dat hulle nou besig is met die Oreo veldtog en dat Romenia en Poland in die pyplyn is.

Ek sê toe vir Jeremy dat ek lus is vir die avontuur en dat ek nog nooit koekies weggesteek het in ʼn winkel nie. Die kersie op die koek is dat hy vir alles betaal en ek darem ʼn sakgeldjie het waarmee ek geskenke vir my vrou kan koop vir die tyd wat sy my afgee en natuurlik ietsie vir die kinders ook.

In Engels noem hulle die konsep “reversed shoplifting”. Dis interessant dat ʼn positiewe ding soos om ʼn pakkie koekies (wenkoekies) wat iemand gaan wen en gelukkig gaan maak, ʼn minder positiewe naam van “omgekeerde diefstal” het. Alhoewel dit ʼn positiewe aksie is, is dit ʼn minder positiewe naam. Hou nou daai gedagte.

Wat interessant is vir my van Romenia, behalwe dat die ouens hier baie soos hulle gatte bestuur en dat die paaie baie sleg is op plekke (inteendeel hulle bestuur erger as die Suid-Afrikaanse taxi’s glo dit of nie), is dat die land verskriklik arm is op dele. Ek lei af dit moet nog te doen hê met die nagevolge van die Russe en kommunisme; wat my die vraag laat vra: Hoekom is daar so baie arm Romeniers?

Ek wonder altyd is dit nou die regering se skuld of die buurman wat nie help nie? En hoekom kyk ouens nie beter na hulle eie mense nie?

Vandag is my vraag aan jou: Vat jy ʼn positiewe ding soos om vrygewig te wees of om jou naaste te dien en te help en maak jy dit ʼn minder positiewe ding? Noem dit nou maar omgekeerde selfsug of omgekeerde suinigheid. Jy is baie vrygewig maar daar is voorwaardes, so dis omgekeerde suinigheid.

In my onderhoud met Meyer Le Roux van Buffelsfontein Baard-olie was een van sy aanhalings wat my by gebly het van Von Goethe: “Die karakter van ʼn mens word bepaal hoe jy iemand hanteer wat jou niks kan bied of terug kan gee nie”.

Ek los jou met daai gedagte en onthou…Aanhouer Wen.

Lekker week!

Back To Top