skip to Main Content

IMG_3858

 

Daar is nie baie manne wat ek as my held beskou nie , maar een van hulle is wel die legendariese Ayrton Senna. Ek’t bewus geword van Senna as ʼn tiener in 1987.

Verlede Woensdag stap ek deur die Mercedes Museum in Stuttgart en word toe opnuut herinner aan die legendariese Mercedes 190E wedren op die Nürburgring in 1984. Senna, in sy eerste Formule 1 seisoen , was genooi om teen onder andere voormalige F1 wêreldkampioene in identies dieselfde Mercedes karre te kompeteer.

Voormalige wêreldkampioene soos Prost, Lauda, Rosberg, Schecter en Hunt het deelgeneem. Om ʼn lang storie kort te maak; die 24 jarige Senna het gewen en die res van sy kort, persoonlike en professionele lewe op aarde is legendaries.

Ten spyte van al sy sukses in Formule 1, het Senna voortdurend terug verlang na sy Go-kart dae. Inteendeel, Senna het Terry Fullerton (sy ou Go-kart spanmaat en vier keer wêreldkampioen) beskou as die renjaer vir wie hy die meeste respek gehad het. Senna het verder gesê dat hy die meeste satisfaksie gekry het wanneer hy teen Fullerton gekompeteer het.

Wat Senna veral suur gemaak het is dat hy nooit die Go-kart wêreldtitel kon wen nie. Dit het hom al die jare gepla, ten spyte van drie Formule 1 wêreldtitels.

So wat is my punt?

Onthou om gereeld te stop en jou seëninge te tel. Inteendeel, probeer dit elke dag doen. Die gouste wat ek suur word is wanneer ek verlang na die vleispotte van Egipte (verlede) of die Ferarri wat ek nog nie kan bekostig nie (toekoms), in plaas van om te fokus op al die goeie goed wat ek wel in my lewe het.

Daaglikse dankbaarheid is die enigste medisyne vir ʼn suur denkwyse.

Lekker week en onthou…Aanhour Wen!

Back To Top