skip to Main Content

 

Vandag wil ek graag voortbou op verlede week se Naweek Nadink 6:  Moenie Suur Wees Soos Senna Nie…Ja, Die Formule 1 Legende. My gevolgtrekking was dat daaglikse dankbaarheid die beste medisyne vir ʼn suur denkwyse is.

 

Ek het ʼn daaglikse gewoonte wat die meeste mense, veral my vrou Chrisna, ʼn bietjie vreemd vind. Ek vat elke oggend ʼn koue stort. ʼn Koue stort het vele voordele, maar ek wil net twee uitlig wat my as klipkouer bevoordeel:

 

1. ʼn Koue stort bou my klipkouer spiere of te wel my deursettingsvermoë (grit). Daar is nie een oggend wat ek nie moedeloos en skrikkerig voor die koue water staan nie… En dit word nie makliker nie. Die van julle wat al in ʼn koue swembad ingespring het, sal die voorafgaande emosies verstaan.

2. ʼn Koue stort gee my perspektief. Dit is interessant hoe my koue winterbed en -huis na ʼn koue stort tog te lekker warm is.

 

Jou perspektief speel ook ʼn belangrike rol in die suksesse en mislukkings in jou lewe. Dink maar aan die goeie ou vraag: “Is die glas half vol of half leeg?”.

 

As ek begin kla oor sekere situasies in my besigheid of persoonlike lewe, dan herinner ek myself aan die volgende en vra ook ʼn belangrike vraag:

 

1. Daar is altyd iemand wat slegter af is as ek…in elke area van my lewe. Ek onthou hoe ons atletiekafrigter ons herinner het aan ʼn verlamde persoon wat enigiets sou gee net om te kan loop, wanneer ons begin kla het oor ʼn strawwe oefensessie.

2. Gaan dit te goed? Ek vra dit altyd vir my kinders wanneer hulle kla oor nonsens. Dit herinner my ook aan die gesegde: “Honger is die beste kok”. Gaan lank genoeg sonder enige kos, dan sal tot ʼn kommerkommer (ek haat hulle) soos sjokolade (ek lief hulle) proe.

 

Daar is geen fout met groot drome of die behoefte om te verbeter in elke area van jou lewe nie. Inteendeel, moenie tevrede wees met die status quo nie. Wees net versigtig om nie jou seëninge en die goeie goed in jou lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie, want DIT is gif vir die gemoed.

 

Lekker week en onthou…Aanhour Wen!

Back To Top