skip to Main Content

Hierdie week was ‘n week waar ek nuwe dinge geleer het en nuwe mense ontmoet het. Hierdie was ook die loodsweek van ons heel eerste Potgooi Onderhoud met rugby legende en koffiekoning, Kobus Wiese.

Wat die week ekstra spesiaal gemaak het, was nie net die feit dat ek kon rondloop in ‘n warm Lynnwood nie, maar ook die voorreg gehad het om die Die GROOT Onbyt span in die ateljee te besoek, vir wat my heel eerste TV onderhoud sou wees.

 Senuweeagtig was ek wel. Ek begin altyd sweet soos ʼn perd as ek senuweeagtig is. My nat onderarm area/hele flippen arm was egter nie die probleem nie, maar wel my ligblou hemp wat ek aangehad het.

Na die tyd kyk ek na die onderhoud en besef toe drie dinge:

1. Ek dink die onderhoud het ok gegaan. Ek’t nie te veel gemompel nie en ook nie my moedertaal te veel verkrag nie.

2. Massiewe sweetkolle onder my arms, wat sigbaar was van die maan.

3. Dra altyd ‘n witterige hemp (of ‘n baadjie) op TV, sodat jou sweetkolle nie wys nie (behalwe as jy James Bond is…Bond sweet nooit).

Hoekom het ek nie ʼn witterige hemp of baadjie gedra nie? Ek’t nie die nodige KENNIS gehad nie…

Gister ry ek deur Potch toe om te gesels met Prof Tommy du Plessis, Hoof van die Potchefstroom Besigheidskool op die Noordwes-Universiteit kampus. Dit is duidelik dat Tommy baie kennis het van Kleinsake ondernemings en meer belangrik, ook praktiese ondervinding het.

Hy vertel toe vir my twee baie interessante dinge:

1. Baie Afrikaner kleinsake ondernemings maak dit nie.

2. Die rede hoekom hulle dit nie maak nie, is omdat hulle nie die nodige KENNIS het om ‘n besigheid te bestuur nie.

Kennis en toepassing van jou kennis is interafhanklik. Dis nie genoeg om net te doen nie. Ware Klipkouers hou nooit op met leer nie. Inteendeel, jou persoonlike tekortkominge of tekort aan kennis skep ‘n plafon vir jou besigheid of persoonlike ambisies.

En dit is presies die rede hoekom ek die Klipkouers Potgooi gestig het. My weeklikse geselsies met Afrikaner kleinsake eienaars is juis daar om jou toegang te gee tot hierdie entrepreneurs en hulle praktiese advies en kennis. Advies en kennis wat die verskil kan maak tussen maak of breek.

Lekker naweek en onthou…Aanhouer Wen!

 

Back To Top