skip to Main Content

 

Ek kan nie glo 2017 is in die pylvak nie! Blykbaar gaan die tyd selfs nóg vinniger verby (persepsie natuurlik) omdat ons so baie tyd op elektroniese toestelle en sosiale media spandeer. Ek dink ook dit maak ons minder kreatief en geduldig omdat ’n mens begin sukkel met stilte, stilstaan of om alleen met jou gedagtegang om te gaan.

Die jaar eindig vir my op ’n besondere hoë noot vir drie besondere redes:

  1. Dit het bietjie gesneeu hier in Ingilsland! Kyk, dit is ’n goeie probleem om op die strand te lê en sweet in Suid-Afrika gedurende Kerstyd, maar sneeu is vir my ekstra spesiaal en romanties. Ek vermoed dis al daai Walt Disney-/Amerikaanse flieks en TV-programme wat ’n bydrae gemaak het tot my liefde vir ’n wit en koue Kersfees.

2. Ek het twee weke terug die voorreg gehad om die eerste keer met vier mede-Afrikaner podsendpioniers (wat hierdie ongelooflike digitale medium al langer as ’n jaar probeer tem) te gesels oor al die goeie en minder goeie aspekte as ’n podsendstigter en -gasheer, die toekomsverwagtinge vir Suid-Afrikaanse podsenders en natuurlik die miljoendollarvraag, naamlik hoe ’n mens geld maak met ’n podsend. Die manne wat kom speel het was Willim Welsyn en sy WAT PODSEND (@willimwelsyn), Stix en sy GEVAAALIK PODSEND (@gevaaalikdotcom), Dirk Scheepers en sy DS PROGRAM PODSEND (@dsprogram) en Dewald Pelser en sy MisterBA PODSEND (@dewaldpelser). Klik hier om na die gesprek te luister.

3. Laastens en die heel belangrikste: Ons het besluit om ná 14 jaar hier in Ingilsland permanent na Suid-Afrika terug te keer! Ons het tot dusver baie verskillende reaksies gekry, van “high fives” na “Is julle mal!” en die meer subtiele “Hoekom?”. Die antwoord is eenvoudig: Ons weet wat die realiteite is, maar ons mis ons mense, kultuur en ’n Afrika-vryheid wat jy nie sal verstaan of waardeer totdat jy lank genoeg in Europa gewoon het nie. Laastens maar nie die minste nie, het besigheidsgeleenthede ook ’n rol in ons besluit gespeel. As entrepreneur is Suid-Afrika se innovasie en geleenthede vir my tasbaar. Innovasie wat teweeg gebring word deur stoute en onervare politici.

Ek wens jou en jou geliefdes ’n baie geseënde Kersfees en voorspoedige 2018 toe!

En onthou …Aanhouer wen!

Die jongste uitgawe van my digiTydskrif het Brand Pretorius, korporatiewe besigheidsikoon en Afrikaner gentleman, op die voorblad. Klik hier vir meer inligting.

 

Back To Top