skip to Main Content

Deel 1:

Ek gaan weekliks my ervarings as gesoute buitelander wat hom weer ná 14 jaar (vrywilliglik) terug in Suid-Afrika bevind, deel.

In sekere industrieë vind ek diensvlakke in Suid-Afrika nog wêreldklas, soos met my vlug na Kaapstad met FlySafair, vele restaurante met Capital Craft as een van ons gunsteling eet- en drinkplekke, karverkopers soos Leon’s Motors wat ongelooflik was, ensovoorts. Maar ongelukkig is baie besighede eersteklas-pateties. Ek dink onmiddellik aan die vele eiedomsagente waarmee ek probeer werk het, met hul onvindbare diensvlakke. Laat my dink aan ’n hondefluitjie… hy lyk soos ’n fluitjie en word geblaas soos ’n fluitjie, maar jy hoor egter niks nie.

Aula Properties is so ’n hondefluitjie. My skrywe en podsend is mos juis besigheidsgefokus, so kom ek gebruik Aula (en twee ander besighede wat dieselfde gedoen het) se besigheidsfoute as voorbeeld van wat ’n mens nooit in besigheid moet doen nie. Nooit nie.

Enige kontrakteur wat jy aanstel om namens jou ’n funksie te verrig, verteenwoordig jou en is ’n verlenging van jou besigheid en handelsmerk. ’n Kliënt onderskei nooit tussen ’n besigheid waarmee hulle besigheid doen en dié se kontrakteur nie. Daarom moet jy nooit jou kontrakteur blameer wanneer hulle aanjaag nie, maar blameer wel jouself en vra eerder onmiddellik om verskoning. Jy het mos immers die beste kontrakteur aangestel?

Kies jou kontrakteurs baie versigtig en raak vinnig ontslae van swakkes: Hulle kan jou besigheid maak of breek. En belangriker; moet nooit jouself op die skouer klop vir ’n eersteklasvertoning as vuurvegter nie. Daar is nie veronderstel om ’n vuur te wees in die eerste plek nie.

Gelukkig kan ek met ’n blye hart getuig dat ons tot dusver baie meer goeie ervarings as slegtes gehad het. En man, dis net so lekker om weer tussen ons mense te kan wees en beweeg. Ten spyte van ons almal se imperfeksies is dit ’n groot voorreg om elke dag Afrikaans te kan praat en hoor (my kinders moet nou pasop wat hulle sê, want mense verstaan!).

Volgende week gaan ek bietjie uitbrei oor die vryheid wat ons hier ervaar en wat vryheid in die buiteland beteken.

Lekker week en onthou: Aanhouer wen!

Kom luister bietjie:

Back To Top